Kuberkopies laat e-handel juig

aankope-aanlyn-internet

Argieffoto (Foto: Negative Space/Pexels.com)

Volgens die jongste “Online Retail in South Africa 2021”-verslag, wat vroeër die maand deur World Wide Worx uitgereik is, blyk dit dat aanlyn kleinhandel in Suid-Afrika in 2020 met 66% toegeneem het. Dit bring die totale inkomste vir e-handel op sowat R30,2 miljard te staan.

Volgens die verslag, wat in samewerking met Mastercard, Standard Bank en Platinum Seed saamgestel is, het die R14,1 miljard wat in 2018 deur e-handel gegenereer is ongeveer 1,4% van die totale kleinhandelbedryf verteenwoordig. Dit is bereken op ʼn geskatte waarde van R1,07 triljoen.

Die 2020-groeikoers is 50% hoër as die totale voorspelling drie jaar gelede. Na raming sou Suid-Afrika se kleinhandelbedryf in 2020 die R20 miljard-kerf verbygesteek het. Dié eksponensiële groei is toe te skryf aan ʼn groter vraag na tuisaflewering tydens die Covid-19-pandemie.

Terwyl talle sektore van die ekonomie verlede jaar deur Covid-19-inperking lam gelê is, het aanlyn kleinhandelaars ʼn oplewing in verkope ervaar, bloot omdat Suid-Afrikaners winkelsentrums en winkels vermy het.

Die verliese wat tradisionele kleinhandelaars gely het stem ooreen met die winste wat e-handelaars gemaak het. Takealot, Suid-Afrika se grootste aanlyn kleinhandelaar, se inkomste het met 41% toegeneem tot meer as R3,3 miljard.

Hoewel daar verwag word dat die e-handelbedryf sy groeikoers sal voortsit, sal die koronavirus-geïnduseerde oplewing waarskynlik nie herhaal word nie. Aanlyn verkope sal na raming in 2021 sowat R42 miljard genereer, wat die totale aandeel in die kleinhandel tot ongeveer 4% sal verhoog.

Dit blyk uit navorsing deur Mastercard oor verbruikersbesteding wat bevind het dat 68% van Suid-Afrikaners meer tyd en geld bestee aan aanlyn inkopies as voor die pandemie. Afgesien van data en lugtyd – wat steeds die meeste aanlyn gekoop word – het meer as die helfte van alle Suid-Afrikaners aangedui dat hulle nou meer klere en kruideniersware op e-handelsplatforms koop.

Verder het meer as tweederdes, sowat 68%, van hierdie verbruikers gesê dat hulle die tyd tydens die pandemie as ʼn positiewe leerervaring gebruik het. Boonop het die vraag na aanlyn vermaak ook toegeneem, terwyl 52% van die respondente gesê het dat hulle meer geld as voorheen op virtuele ervarings bestee het. Die meerderheid het aan video-oproepe vir werk of ontspanning (88%) deelgeneem, driekwart (75%) het TV of flieks deur middel van ‘n stromingsdiens of aanlyn platforms gekyk, en byna die helfte (47%) het aan ‘n virtuele kookklas deelgeneem.

“Dit blyk dat aanlyn verkope hier is om te bly, want 71% van die respondente sê dat hulle sal voortgaan om aanlyn inkopies te doen,” sê Suzanne Morel, bestuurder van Mastercard Suid-Afrika.

“Ons werk voortdurend daaraan om die aanlyn inkopie-ervaring meer inklusief, eenvoudig, soomloos en veilig vir verbruikers te maak, of hulle nou noodsaaklikhede of ervarings koop.”

Die navorsingsverslag word in drie fases uitgereik, met die eerste fokus op die algehele markgrootte en aanlyn verbruikersdemografie. Die eerste verslag is gebaseer op gegewens uit die TGI-verbruikersopname onder 16 000 deelnemers, wat deur Ask Afrika gedoen is oor ʼn tydperk van ses maande.

In die volgende fase van die “Online Retail in South Africa 2021”-verslag, wat na verwagting later vanjaar uitgereik word, word ʼn ontleding van aanlyn kleinhandelaars se prestasie ingesluit, terwyl die derde fase op wêreldwye tendense fokus.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Francois Le Cochon ·

Covid het my ook gemaak om online te begin koop. Nou geniet ek die gerief daarvan, en doen dit nogsteeds met omtrent alle aankope. Bestel vanuit my stoel, wag ‘n dag of twee, en ontvang dit by die voordeur. Kruideniersware neem net n paar uur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.