Kyk: Eerste YouTube-video verskyn 15 jaar gelede

(‘n Skermgreep uit die video.)

Die eerste video wat ooit op YouTube gelaai is, het 15 jaar gelede die lig gesien.

In die video, met die naam “Me at the zoo”, kan ’n mens ’n medestigter van YouTube, Jawed Karim, in die San Diego-dieretuin sien.

Hy staan voor ’n paar olifante en sê: “Oukei, so hier is ons voor die olifante. Die cool ding oor die outjies is dat hulle baie, baie lang slurpe het, en dis cool. En dis eintlik al wat daar is om te sê.”

“Me at the zoo” is slegs 18 sekondes lank en is op 24 April 2005 om 20:31 op YouTube gelaai. Dié video is sedertdien al meer as 92 miljoen keer gekyk. Die video is deur Karim se skoolvriend Yavok Lapitsky geneem.

Karim het die video op sy persoonlike YouTube-kanaal gelaai, wat hy op dieselfde dag geskep het.

Karim het YouTube saam met Chad Hurley en Steven Chan in Februarie 2005 gestig toe hulle by PayPal gewerk het. Google het in 2006 dié videoplatform by hulle oorgekoop vir $1,65 miljard (sowat R30 miljard).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.