Kyk: Groter, glansryker, groener!  

Dubai. (Foto: Giuseppe Cacace /AFP)

Al ooit gewonder wat ʼn mens doen as jy ʼn paar miljard dollar het wat pla? Wel, jy bou die wêreld se hoogste residensiële kloktoring, laat die Titanic in sy eertydse glorie herrys, of jy bou die wêreld se grootste groen energie- aanleg.

Hiér staan tyd nie stil

As dit by ontwikkeling en uitbreiding kom, het Dubai geen gelyke nie. Sedert olie in die 1960’s hier raakgeboor is, het dié deel van die Verenigde Arabiese Emirate enorme kameelspronge van pêrel-oes- en vissersgemeenskap tot spilpunt van vernuwing en innovering gegee.

Benewens die kosmopolitaanse, belastingvriendelike werkplek van kundiges van reg oor die wêreld en sy ryk kulturele erfenis, is Dubai deesdae veral bekend as mekka van eietydse argitektoniese wonders. Nie minder nie as 51 groot bouprojekte is onlangs hier voltooi, met die volume bouwerk wat na verwagting teen 2030 gaan verdubbel.

Handelsmerke soos die modehuis Karl Lagerfeld, die motorvervaardiger Mercedes-Benz en die hotelgroep 25Hours het almal onlangs bouprojekte hier aangekondig. Die merkwaardigste nuwe toevoeging tot Dubai se lys wolkekrabbers is egter die wêreld se hoogste residensiële kloktoring wat in 2027 sy deure open.

Die Aeternitas-toring, wat “ewigheid” in Latyn beteken, sal 450 m in sy sementsokkies staan en 649 een- tot vierslaapkamerwooneenhede, villas en duplekse hê. Die skaal van die 106 verdieping gebou is verstommend. Dit is vier keer hoër as Big Ben in Londen en net 22 m laer as die wêreld se hoogste residensiële gebou, die Central Park-toring in New York.

Die kloktoring, ʼn vennootskap tussen die Dubaise eiendomsontwikkelingsgroep London Gate en die Switserse luuksehorlosievervaardiger Franck Muller, sal die tweede hoogte kloktoring ter wêreld wees naas die Makkah Clock Royal Tower in Mekka, Saoedi-Arabië, en teen ʼn koste van sowat R4,73 miljard voltooi word.

Die horlosiegesig van 40 m hoog en 30 m wyd met sy bykans 1 500 onderdele sal sowat 6 km ver sigbaar wees. Dit is geïnspireer deur Franck Muller se art deco-styl Long Island-versameling, wat onreëlmatige en uitgerekte getalle in ʼn reghoekige omhulsel huisves.

Hoewel meer as 65% van die wooneenhede reeds kort ná die bekendstelling opgeraap is, sal nie elke Jap Rap en sy maat dié toring hul tuiste kan maak nie. Eenslaapkamereenhede begin by $435 600 (nagenoeg R8,3 miljoen).

Met luukse afwerking, skoonmakers en ʼn 24-uur-portierdiens sal inwoners al die geriewe van hotelverblyf hê, maar met die privaatheid en gerief van ʼn eie woonruimte. Ander (gedeelde) geriewe sluit in ʼn supermark, gimnasium, padelbaan, spa, joga-ateljee en swembad, asook kuns- en kultuurruimtes soos ʼn rolprentteater, musiekvertrek en biblioteek.

Die Aeternitas-toring sal hom in die uitgelese geselskap bevind van die Burj Khalifa, op 825 m die wêreld se hoogste gebou; die Dubai Mall, die wêreld se grootste winkelsentrum met ʼn oppervlak van 1 124 000 m2; en die Dubai Frame, wat 150 m hoog en 93 m breed en die grootste fotoraam ter wêreld is.

  • Onderneem hier ʼn virtuele toer deur die beplande Aeternitas-toring.

Titanic II-planne op volle vaart

Die Titanic-wrak onder die Noord-Atlantiese Oseaan

Ofskoon daar nagenoeg drie miljoen skeepswrakke op die bodem van die see lê waarvan minder as 1% al van naderby ondersoek is, bly die Titanic meer as 112 jaar ná sy rampspoedige nooiensvaart van Southampton na New York die een wat die verbeelding die meeste bly aangryp.

Voorwerpe van die RMS Titanic en besittings van passasiers kom gereeld onder die hamer en die waarde neem met die verloop van tyd al meer toe. So is ʼn 14 karaat goue sakhorlosie van John Jacob Astor IV, glo die rykste passasier aan boord en een van die rykste mense ter wêreld destyds, einde April vir £1,175 miljoen (meer as R27 miljoen) opgeveil. Astor was een van die sowat 1 500 passasiers van die nagenoeg 2 200 wat verdrink het.

Nog ʼn item wat einde April by Henry Aldridge & Son in Wiltshire, Engeland, onder die hamer gekom het, was die viooltas van die orkesleier wat aanhou speel het terwyl die “koningin van die oseaan” in haar watergraf weggesak het. Dié tas is vir £360 000 (byna R8,4 miljoen) verkoop, terwyl die viool in 2013 vir £1,1 miljoen (£1,5 miljoen in vandag se geldwaarde, of bykans R35 miljoen) deur dieselfde veilingshuis verkoop is.

In November verlede jaar is ʼn seldsame spyskaart van die Titanic se eersteklasrestaurant vir $101 600 (sowat R1,93 miljoen) verkoop en ʼn sakhorlosie, wat aan die Russiese immigrant Sinai Kantor behoort het, vir $118 700 (nagenoeg R2,25 miljoen) verkoop.

Intussen het die Australiese miljardêr Clive Palmer in April aangekondig dat sy Blue Star Line-maatskappy in 2025 met die bou van Titanic II gaan begin. Dit is nie die eerste keer dat Palmer dié idee laat ronddobber nie. Hy het trouens ʼn dekade gelede en weer in 2018 soortgelyke planne geopper, maar dié het onder meer weens finansieringsprobleme en die Covid-19-pandemie skipbreuk gely.

Met passasiersvaart wat terug is op volle stoom, selfs op hoër vlakke as voor die pandemie, het Palmer gesê dat die tyd is reg om die Titanic-droom te laat herleef.

Die skip sal 269 m lank en 32,2 m breed wees, effens wyer as die oorspronklike, en 2 345 passasiers, versprei oor nege dekke met 835 kajuite, kan huisves. Byna die helfte sal vir eersteklaspassasiers gereserveer word. Derdeklaspassasiers sal by lang tafels in ʼn gemeenskaplike eetsaal getrakteer word met bredie en kapokaartappels, net soos met die oorspronklike vaart, hoewel ander etes glo ook beskikbaar sal wees vir diegene wat ʼn minder outentieke ervaring wil hê.

Die Titanic II sal onder meer met ʼn sterker struktuur spog, asook ʼn moderne navigasiestelsel en natuurlik genoeg reddingsbote. Tog sal die historiese oordadigheid van kostuums en binneversiering grootliks behoue bly sodat passasiers voel asof hulle op die oorspronklike skip vaar. “Dit is baie lekkerder om die Titanic te bou as om by die huis te sit en my geld te tel,” het Palmer gesê.

  • Kyk hier na die verskeie pogings deur die jare om die Titanic te laat herleef, asook hoe die Titanic II van die eerste een sal verskil.

Gitswart tot grasgroen

Indië is op twee ná die wêreld se grootste sondebok as dit by kweekhuisgasvrystelling kom en ook die wêreld se derde grootste energieverbuiker. Tot dusver word steenkool en olie gebruik om aan 80% van dié land se energiebehoeftes te voldoen.

Met Indië se stedelike bevolking wat volgens ontleders oor die volgende 30 jaar jaarliks met die ekwivalent van ʼn stad soos Londen s’n gaan toeneem, en die elektrisiteitsaanvraag na residensiële lugversorgers (weens dodelike hittegolwe) wat teen 2050 die totale energieverbruik in die hele Afrika gaan oorskry, word groot groen planne gemaak.

Ironies genoeg is die man aan die stuur van dié planne, Sagar Adani, die neef van Gautam Adani, Asië se tweede rykste man, wie se $100 miljard-fortuin afkomstig is van die Adani-groep, Indië se grootste steenkoolinvoerder en -myngroep. Dié groep het ook belange in onder meer hawens, media en sement.

Sagar Adani staan aan die hoof van Adani Green Energy Limited (AGEL) wat besig is om die wêreld se grootste groen energie- aanleg op te rig. Dié son- en windkragaanleg in die westelike Indiese staat Gujarat word teen ʼn koste van sowat $20 miljard (R380 miljoen) opgerig. AGEL se bedryfsportefeulje bestaan reeds uit sowat 7 393 MW sonkrag, 1 401 MW windkrag en 2 140 MW hibriede wind- en sonkragkapasiteit.

Khavda Renewable Energy Park in Indië. (Foto: X)

Die Khavda Renewable Energy Park sal met sy voltooiing vyf keer die grootte van die Franse hoofstad, Parys, wees, uit die ruimte sigbaar wees en genoeg elektrisiteit opwek om Switserland se ligte aan te hou. Dié projek oor 538 km2 sal die wêreld se grootste hernieubare energie- aanleg wees en behoort genoeg skoon elektrisiteit op te wek om 16 miljoen Indiese huise van krag te voorsien.

Adani beplan volgens CNN om oor die volgende dekade nagenoeg $100 miljard (sowat R1,9 biljoen) in die oorgang na skoon energie vir die land se 1,4 miljard inwoners te belê. Net die Gujarat-projek sal na raming 30 000 MW bydra tot die groep se opwekkingsmikpunt van 45 000 MW teen 2030.

Narendra Modi, Indiese eerste minister, het vroeër onderneem dat hernieubare hulpbronne soos son- en windkrag teen die einde van hierdie dekade aan 50% van Indië se energiebehoeftes sal voldoen en dat ʼn 0%-koolstofvrystellingsmikpunt teen 2070 gehaal sal word.

Volgens die graderingsagentskap S&P Global Ratings gaan Indië, gemeet aan sy huidige groeikoers, teen 2030 die wêreld se derde grootste ekonomie wees.

  • Kyk hier na Indië se groot treë na ʼn groener toekoms.

Bykomende bronne: CNN, Reuters, The Economic Times, New York Times, CBS News, The Guardian en Skyscrapercenter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.