Kyk: Hommeltuig? Nee, dis ’n lugtaxi

Paul Sciarra, uitvoerende voorsitter en JoeBen Bevirt, stigter en uitvoerende hoof van Joby Aviation. Dié maatskappy hoop om teen 2024 met sy lugtaxi te begin sake doen. (Foto: Joby Aviation)

Dink hommeltuig op steroïede. ’n Minilugtaxi wat jou bo die stadsverkeer van punt A na punt B neem. Vergesog? Allermins!

Een verslag voorspel dat daar teen 2040 meer as 430 000 van dié futuristiese voertuie in die wêreld se lugruim sal wees, met Uber en Boeing wat na berig word verwoed werk aan eVTOL (elektriese vertikale opstyg en landing)-taxi’s.

Die jongste maatskappy wat hoop om eerste met sy lugtaxi oor die wenstreep te vlieg, is Joby Aviation. Dié groep, wat in Kalifornië gesetel is, hoop om teen 2024 die wiele (of eerder skroewe) aan die draai te hê.

Joby Aviation het reeds meer as 1 000 toetsvlugte met sy eVTOL-taxituie onderneem en hoop dat die Amerikaanse lugvaartowerheid (FAA) hom die groen lig sal gee om teen 2024 met kommersiële bedrywighede te begin.

Die lugtaxi het ’n bestuurder, kan vier passasiers teen meer as 300 km/h vervoer en het ’n reikafstand van meer as 241 km. Joby het reeds ooreenkomste met eienaars van verskeie parkeerterreine en ander sakepersele in die VSA gesluit om landingsplekke, sogenaamde Skyports, te ontwikkel.

Planne vir die eerste taxi-lughawe in die Verenigde Koninkryk word volgens die BBC vir Coventry beplan en geniet glo die steun van die Britse regering.

’n Kunstenaarsvoorstelling van hoe Urban Air Port se Coventry-landingsplek sal lyk. (Foto: Urban Air Port)

’n Britse onderneming met die naam Urban Air Port (die firma het die naam as ’n handelsmerk geregistreer), word deur die Hyundai-groep ondersteun en hoop om die wêreld se eerste operasionele spilpunt vir lugtaxi’s en vraghommeltuie te word.

Urban Air Port hoop dié “kleinste lughawe ter wêreld”, wat heeltemal emissievry is, word mettertyd oral ter wêreld uitgerol om die druk op paaie en lugbesoedeling deur motors en vragmotors te verminder.

Hommeltuie het op hul beurt lankal hul kinderskoene ontgroei as afstandbeheerde speelgoed met kleurvolle liggies wat bo die buurt zoem-zoem. Dit word met groot vrug vir lug- en rolprentfotografie ingespan en die aflewering van pakkies en kos op jou voorstoep is voor die deur.

Afleweringshommeltuie word toenemend ontwikkel en getoets, en die mark vir dié vinnige en vernuftige afleweringsdiens sal teen 2028 volgens een raming meer as $5,6 miljard werd wees.

  • Kyk hier hoe Urban Air Port die toekoms van vervoer en vrag sien.
  • Kyk hier hoe rits Joby se lugtaxi rond.

(Foto: Urban Air Port)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
fransdutoit3

In SA sal dit chaos beteken.. ????

Jeffrey

Die paviljoene om die taxilughawe lyk net vreemd…