Kyk: Vlieg vyf keer vinniger as klank

Hermeus se eerste vliegtuig, Quarterhorse, is die eerste in ’n reeks outonome hoëspoedvliegtuie wat – danksy ’n $60 miljoen-vennootskap wat in Augustus met die Amerikaanse lugmag gesluit is – ontwikkel word. Die enjin is gegrond op General Electric se turbostralerenjin. (Foto: Hermeus)

Terwyl ruimtereise vir gewone aardlinge met baie diep sakke al meer ’n werklikheid word, is die ontwikkeling van blitsvinnige vliegtuie tussen die vernaamste wêreldstede volgende op verskeie maatskappye se radar.

Byna twee dekades nadat die supersoniese Concorde van British Airways en Air France se vlugte ná 27 jaar op 24 Oktober 2003 finaal gestaak is, is die Hermeus-maatskappy in Atlanta in die VSA besig met die toets van ’n hipersoniese vliegtuigenjin.

Die Hermeus-maatskappy bou tans ’n klein, onbemande vliegtuig saam met die Amerikaanse lugmag en glo dié hipersoniese vlerke sal eindelik teen ’n spoed van Mach 5, oftewel vyf keer die spoed van klank (meer as 4 800km/h), kan blits.

Met die Concorde sou ’n vlug tussen Londen se Heathrow-lughawe en New York se JKF-lughawe sowat drie uur duur (teen ’n gemiddelde retoerprys van $20 000 in vandag se geldwaarde), terwyl die Hermeus-vliegtuig dieselfde roete glo in slegs 90 minute sal kan kafdraf.

’n Gewone passasierstraler lê dié vlug in vergelyking met die vergane supersoniese reus en beplande hupse hipersoniese nuweling teen ’n slakkepas van ses tot sewe uur af.

Die rekord vir die vinnigste enjinaangedrewe vlug n, behoort aan die NASA X-43A, ’n onbemande vliegtuig van sowat 3,4 m lank. Dié rekord van Mach 9,6 is in 2004 opgestel in ’n vlug wat slegs ’n paar sekondes geduur het. (Foto: Nasa)

Toetsvlugte sal na verwagting teen die draai van die dekade begin. Die passasiersweergawe van die Hermeus sal na verwagting slegs sowat 20 sitplekke hê (teenoor die Concorde se 100 sitplekke), het AJ Piplica, die stigter en uitvoerende hoof van Hermeus, gesê.

Volgens Piplica is ’n sakemodel ontwikkel wat op besigheid- en eersteklaspassasiers gegrond is. Met slegs sowat 20 sitplekke aan boord sal die nuwe vliegtuig dus soortgelyk aan ’n groot sakestraler wees, net baie vinniger.

“Ons verwag dat só ’n lugdiens winsgewend kan wees, gemeet teen huidige besigheidsklaspryse. Totdat daar egter nie ’n fisieke produk is en ’n mens met regte data kan werk nie, is dit moeilik om te bepaal hoeveel mense bereid sou wees om te betaal om hul bestemming vyf keer vinniger te bereik,” het hy gesê.

Die vliegtuig se reikwydte sal ongeveer 4 000 seemyl (7 400 km) wees, ideaal vir trans-Atlantiese roetes, byvoorbeeld tussen New York en Parys, maar vlugte oor land is waarskynlik buite die kwessie oor geraasbeperkings. Wanneer ’n vliegtuig deur die klankgrens breek, gee dit ’n harde slag af, wat bokant water moet gebeur.

Die rekord vir die vinnigste enjinaangedrewe vlug nóg, behoort aan die Nasa X-43A, ’n onbemande vliegtuig van sowat 3,4 m lank. Dié rekord van Mach 9,6 is in 2004 opgestel in ’n vlug wat slegs ’n paar sekondes geduur het.

Boom Supersonic wil teen 2026 met sy Overture passasiers teen Mach 2,2 begin vervoer. Die Overture is ontwerp vir 65 tot 88 passasiers. Dié maatskappy se droom is om mense binne vier uur na enige plek ter wêreld te neem – teen slegs $100!

Die snelheidsrekord vir ’n vliegtuig met ’n stralerenjin (pleks van ’n vuurpyl), wat self kan opstyg en land, is Mach 3,3, wat in 1976 deur die SR-71 Blackbird, ’n militêre spioenasievliegtuig, opgestel is. Die Concorde se topspoed was (’n skamele) Mach 2,04.

Ander maatskappye wat hul oog het op ’n deel van die supersoniese mark, wie se potensiële jaarlikse waarde op meer as $270 miljard geraam word, sluit in Boom Supersonic (wat ’n transaksie met United Airlines beklink het), Lockheed Martin (wat met Nasa kragte saamgespan het), en Richard Branson se Virgin Galactic (wat voorlopig op ruimtetoerisme fokus).

  • Kyk hier na Hermeus se ambisieuse planne.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Grens ·

Sou ons ooit gedink het om te praat van ‘n passasierstraler teen ‘n slakepas. Hopenlik sal die mens ook kan aanpas met die nuwe tegnologie, meer beskaaf te raak, oer dinge los, en die wil te kry om te strewe na ‘n beter menswees.

Johann ·

Net so, as mens in ag neem die tyd om tussen Johannesburg en Kaapstad te ry en die vlieg, dan is vlieg allermins “slakkepas”. Wanneer ek opklim in die Kaap moet mevrou begin ry om betyds by die lughawe te wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.