Liewe Heksie se laaste avonture aanlyn te sien

Anmari van Achterbergh, Botha Enslin, Debré Opperman en Phillru van Achterbach is in ‘Liewe Heksie en die tuindwergie’ te sien. (Foto: Verskaf)

Die kleinspan kan eersdaags voor die rekenaarskerm regskuif vir Liewe Heksie en die tuindwergie, ʼn verhaal wat Verna Vels kort voor haar dood vir Frans Swart van Lefra Produksies geskryf het en wat onlangs in ʼn teaterstuk omskep is.

Liewe Heksie en die tuindwergie is die laaste Liewe Heksie-storie wat Vels geskryf het. Sy is in Augustus 2014 op 81 dood aan kanker.

Swart het by die destydse SAUK in die vermaakbedryf begin werk as kameraman, waar hy onder meer aan die televisiereeks Liewe Heksie gewerk het. Vels was nie net die skrywer van dié geliefde reeks nie, maar ook bestuurder van kinderprogramme van die SAUK.

Volgens Swart het hy en Vels ʼn hegte band gesmee. “Sy was die wonderlikste en kreatiefste mens. Sy was bereid om al haar kennis as skrywer van kinderverhale met my te deel en het my ook geleer hoe om vir kinders te skryf,” vertel Swart.

Onder leiding van Vels het Swart ʼn hele aantal Wielie Walie-tekste asook Vuurhoutjieland en Siembamba geskryf. Sy eerste kinderboek, Blouvlam die draak, is ook onder Vels se leiding geskryf en uitgegee.

Frans Swart en Verna Vels. (Foto: Verskaf)

“Verna het totaal en al verstaan hoe om met kinders te kommunikeer deur Liewe Heksie en die ander karakters, want Heksie verstaan ook nie mooi van ‘groot woorde’ nie. En Heksie kom gewoonlik in die moeilikheid oor iets wat sy nie beplan het om haar in die moeilikheid te bring nie.”

In Liewe Heksie en die tuindwergie sukkel Heksie steeds met groot woorde, maar gelukkig is Blommie die kabouter en haar geliefde Matewis die kat altyd naby om te help. Maar toe Casper die tuindwerg op ’n dag wakker word in Liewe Heksie se tuin, is daar drama van begin tot einde. Want wie is dit agter daardie boom? Kan dit ’n stoute Gifappeltjie wees?

Volgens Swart was die grootste uitdaging tydens die vervaardiging van die produksie om al die karakters van Blommeland uit te beeld met net vier akteurs. Anmari van Achterbergh vertolk die rol van Liewe Heksie, Botha Enslin die rolle van Matewis, Kwaaitjie Kabouter, die Geelheks, Borrie die Gifappeltjie, Griet, Karel Kat en Koning Rosekrans. Debrè Opperman is in die rol van Blommie, Kerrie die Gifappeltjie en Koning Rosekrans.  Phillru van Achterbergh vertolk onder meer die rolle van Casper, die tuindwergie, ʼn Gifappeltjie en Klein Kwaaitjie.

Innibos Digitaal het Liewe Heksie en die tuindwergie vroeër vanjaar opgeneem en dit word eksklusief as deel van Lefra se Kelderkonserte aangebied op Sondag 4 Oktober om 17:00. Kaartjies kos R95 en is beskikbaar by iTickets.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.