In Maart vanjaar het ʼn groep kuberkrakers weereens ʼn groot hoeveelheid data van Suid-Afrikaners se private inligting uitgelek. Dié keer was dit die internasionale kredietburo Transunion wat ʼn slagoffer was van ʼn kuberkrakergroep met die naam N4aughtysecTU, glo van Brasilië, wat 54 miljoen gebruikers se data gebuit het.
Dit was die soveelste databreuk in die afgelope drie jaar en Suid-Afrikaners voel waarskynlik ons moet nou maar net aanvaar ons inligting is nou daar buite waar kriminele daarmee kan doen wat hulle wil.
ʼn Mens kan egter nie help om te wonder nie: wat maak ʼn Jan en San Alleman se private inligting dan nou so waardevol, wat kan kriminele daarmee doen, en kan ek en jy nog enigsins iets doen om ons inligting te beskerm?
Maroela Media het onlangs met prof. Danny Myburgh hieroor gesels om hierdie vrae te beantwoord. Myburgh is verbonde aan die Noordwes-Universiteit en uitvoerende hoof van Cyanre the Digital Forensic Lab en LexTrado.
Hy vertel dat die gemiddelde afpersingsaak wat deur hierdie kuberkrakers gedryf word, tans plaaslik maklik gemiddeld tot R5 miljoen kan beloop. Die kleinste saak, waarvan Myburgh weet, het $40 000 (sowat R641 000) geëis as losprys vir die data, terwyl die grootse losprys vir data in Suid-Afrika $15 miljoen (ongeveer R241 miljoen) beloop het.
Myburgh verduidelik wat gebeur as ʼn maatskappy se data gesteel word, hoe die hedendaagse kuberkrakers lyk, wat hulle met ons data wil doen en wat maatskappye veronderstel is om te doen as hulle kliënte se data gesteel is.
- Luister na die volledige gesprek boaan hierdie berig.