Luister: Gee jou sosialemediarekeninge ’n positiewe hupstoot

Die Suid-Afrikaanse sosialemediakenner, Magriet Groenewald. (Foto verskaf)

As daar nou een vraag is wat die sosialemediabemarkingspesialis Magriet Groenewald gereeld hoor, is dit hoe kan ek meer volgelinge op my platforms kry.

“Dit is die een vraag wat ek altyd hoor en my antwoord is dan dat jy eers gehalte-inhoud vir daardie 400 tot 500 volgelinge wat jy reeds het moet verskaf,” verduidelik sy.

Groenewald spog met sewe opwindende jare in dié voortdurend veranderende bedryf en het reeds saam met verskeie bekendes soos Schalk Bezuidenhout, Minki van der Westhuizen, Hykie Berg en Leandie du Randt, asook die kreatiwiteitskenner dr. Kobus Neethling, en finansiële kundige Wouter Snyman gewerk om hulle teenwoordigheid op sosiale media te laat groei.

Groenewald meen as jy die geleentheid sou kry om as ʼn spreker voor 500 mense op te tree, sou jy die nodige voorbereiding doen om die beste praatjie te lewer vir die spesifieke gehoor op die dag. “Jy sou nie die hele tyd met jou rug staan na die gehoor en by die venster uitstaar terwyl jy op die verhoog staan en soek na nuwe gehoorlede nie. Nee, anders sal jy onmiddellik die aandag van jou gehoor voor jou verloor. Dit is dieselfde met jou volgelinge op ʼn betrokke platform.”

Sy meen jy moet daardie soeke na nuwe volgelinge vir eers opsy skuif sodat jy jouself kan vry maak om die inhoud te skep en jou bestaande gehoor te dien op die beste manier wat jy kan.

Maroela Media het ook by Groenewald gehoor wat die jongste neigings in sosiale media tans is en sy het ʼn wenk of twee oor kortformaat video’s gegee. Sy het ook gepraat oor die verantwoordelike gebruik van sosialemediaplatforms. Luister na die volledige onderhoud bo-aan hierdie berig.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.