Mandela-kuns vir kubergalery

“The Window” (Foto: Verskaf)

Vyf kleurvolle waterverfsketse van Robbeneiland en ’n geskrewe nota deur oudpres. Nelson Mandela kom vandeesweek as nieverwisselbare items (NVI’s, ook bekend as NFT’s) in Londen onder die hamer.

NVI’s het die kunswêreld behoorlik aan die gons. Dié digitale kunswerke (jy ontvang geen fisieke werk wat jy teen jou muur kan hang nie) wat op ’n blokketting gestoor word as bewys van eienaarskap en egtheid, behaal gereeld rekordpryse en word aangevuur deur die toenemende belangstelling in kriptogeld.

Die verkoop van NVI’s het verlede jaar sowat $25 miljard opgelewer en talle galerye, afslaers en gewilde handelsmerke belê deesdae in digitale kuns.

“The Motivation” (Foto: Verskaf)

Die Londense afslaers Bonhams sal die eerste NVI’s van Mandela se kunswerke, genaamd “My Robben Island”, op Woensdag 9 Maart aanbied. Die verkoping word deur die NVI-platform Nifty Gateway aangebied.

Volgens Bonhams is die prys $699 (sowat R10 700) vir ’n enkele prent en $3 495 (ongeveer R53 000) vir die stel. Die aantal wat verkoop gaan word, sal volgens die afslaers deur aanvraag bepaal word, maar ’n voorlopige perk van 10 000 word genoem.

Die vyf kunswerke wat aangebied word en waarop Mandela se handtekening verskyn, sluit in The Cell, The Window, The Lighthouse, The Church en The Harbour. Die handgeskrewe nota wat as deel van die stel verkoop word, staan as “The Motivation” bekend. Hierdie werke beeld tonele en gebiede van Robbeneiland uit waar Mandela 18 jaar in die tronk deurgebring het.

Die spesiale NVI-uitgawe word in vennootskap met Makaziwe Mandela, Mandela se oudste dogter, aangebied. Volgens ’n verklaring van Bonhams steun Makaziwe Mandela die munt van haar pa se kunswerke as NVI’s.

“Ek is baie bly om saam met Bonhams en Nifty Gateway te werk om hierdie eksklusiewe NVI’s van my pa se werk aan te bied. NVI’s is ’n opwindende manier om kuns te demokratiseer, en ek is verheug om my pa se nalatenskap in nuwe vorme te deel,” het sy gesê.

Die vooraanstaande afslaer Christie’s het verlede jaar ’n digitale kunswerk deur ’n kunstenaar genaamd “Beeple” vir bykans $70 miljoen opgeveil. (Foto: Verskaf)

Volgens Giles Peppiatt, direkteur: moderne en kontemporêre Afrikakuns van Bonhams, is Mandela ’n ikoon wie se lewe ’n bron van krag en inspirasie vir miljoene mense regoor die wêreld is. “Ons het reeds voorheen oorspronklike kunswerke deur Nelson Mandela by Bonhams verkoop en is daarom verheug om hierdie NVI’s aan te bied om versamelaars en bewonderaars in staat te stel om in sy werk te deel.”

Die vooraanstaande afslaer Christie’s het verlede jaar ’n digitale kunswerk deur ’n kunstenaar genaamd Beeple vir bykans $70 miljoen opgeveil. Die stuk, getitel Everydays: The First 5 000 Days, is vir $69,4 miljoen op ’n aanlyn veiling verkoop, wat Beeple die derde duurste lewende kunstenaar maak, het Christie’s gesê.

The Merge is die duurste NVI wat tot nog toe verkoop is. Dié digitale kunswerk deur die kunstenaar Pak is op 2 Desember 2021 vir $91,8 miljoen verkoop. Dit is egter debatteerbaar of ’n mens dit as ’n enkelprys kan ag, omdat bykans 30 000 mense saamgespan het (elkeen hou verskillende aantal eenhede of “tokens” in die werk) om hierdie NVI te koop.

Die veilingsrekord vir ’n enkele (fisieke) kunswerk deur ’n lewende kunstenaar is $91,1 miljoen, wat deur Jeff Koons se 1986-beeldhouwerk Rabbit in 2019 opgestel is.

Jeff Koons se 1986-beeldhouwerk “Rabbit”. (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frank ·

Ek kan nie glo dat mense nog daardie terroris kan ophemel nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.