Metaheelal: Fantasiefoefie of markplein-goudmyn?

Mike Abel se avatar in Ubuntuland. (Foto: Verskaf)

Eiendom en beleggingskuns is twee gewilde bateklasse waarin Suid-Afrikaners nog altyd graag belê. Dink aan daardie huisie by die see, ’n woonstel vir huurinkomste of ’n gesogte Irma Stern-skildery. Sal jy egter in ’n lappie grond belê wat jy nie kan omspit nie, of ’n kunswerk wat jy nie in jou studeerkamer kan vertoon nie?

Voor jy te vinnig nee sê: dis presies dié soort transaksies wat mense behoorlik aan die gons het. Nie beleggings in tasbare goedere nie, maar sakebedrywighede wat daarop gemik is om dividende in ’n splinternuwe wêreld op te lewer: die metaheelal-markplein.

Wat presies is die metaheelal?

Met die uitbreek van die Covid-19-pandemie het ons lewe skielik aanlyn beweeg, hetsy vir werk of skool, of om sosiaal te verkeer. Ons het aanlyn begin lééf en daarom behoort die volgende stap eintlik glad nie vreemd te wees nie: die ontstaan van ’n hele nuwe, alternatiewe wêreld in die kuberruimte. Welkom in die metaheelal!

Om in 2022 van “die metaheelal” te praat, is bietjie soos die verwysing na “die internet” in die jare sewentig, skryf Eric Ravenscraft in ’n artikel op Wired. Daar is destyds baie gegis oor dié nuwe tegnologie, maar niemand kon presies voorsien of voorspel wat die uitkoms daarvan sou wees nie.

Ravenscraft het ’n baie eenvoudige manier om dit te verduidelik. Jy kan bloot die woord “metaheelal” met “kuberruim” vervang, sê hy, want die term verwys meestal nie na nuwe tegnologie nie, maar eerder na ’n breë verskuiwing na of omwenteling in die manier waarop ons interaksie met tegnologie (en gevolglik met ander om ons) het.

Bowenal kan die term waarskynlik eendag heeltemal verdwyn namate ons die metaheelal onder die knie kry. Byna soos elektrisiteit, wat met alles om ons geïntegreer is, sonder dat ons werklik daagliks bewus is daarvan. (Dis nou behalwe wanneer daar beurtkrag is!)

Net soos wat elektrisiteit oral om ons is, selfs al is die ligte of die ketel nie aangeskakel nie, bestaan die metaheelal selfs al is ons nie heeltyd aktief daarin nie. Dit ontstaan deur die gebruik van bestaande (en toekomstige) tegnologie vir die skep van ’n “ander wêreld” in die kuberruimte, een waarin ’n virtuele realiteit knus langs ’n versterkte, verrykte of gewysigde realiteit bestaan.

Jy hoef nie ’n spesiale kopstuk of bril te dra om die metaheelal te besoek nie. Jy kan dit bloot doen deur in die gemak van jou sitkamer ’n rekenaarspeletjie te speel of op sosiale media vir jouself ’n nuwe virtuele identiteit of avatar te skep en die kuberruim daarmee te verken.

Verkleurmannetjie in ’n geïntegreerde kuberwêreld

Coca Cola se NVI van Vriendskapsdag. (Foto: Verskaf)

Net soos jy graag jou Facebook-profielfoto verander, sal jy ook jou avatar in die metaheelal wil verander deur byvoorbeeld nuwe klere te dra, wat die deur na die digitale ekonomie op ’n skrefie oopmaak. Kyk jy uit ’n groter perspektief na die saak, is die potensiaal vir die ontwikkeling van die digitale ekonomie enorm. Dis daarom dat al wat ’n internetmaatskappy is groot beleggings in die metaheelal maak.

Facebook het nie om dowe neute die naam van sy moedermaatskappy in 2021 na Meta verander nie. Dit was juis ’n doelbewuste skuif weg van een spesifieke sosialemediaplatform na ’n geïntegreerde kuberwêreld.

Beteken dit sosiale media soos ons dit ken gaan heeltemal verdwyn? Wel, nee… en ja. Volgens die tegnologie-webwerf Protocol.com gaan die metaheelal veral aan die begin op die een of ander vorm van sosiale media staatmaak. Mark Zuckerberg, grootbaas van Facebook (wat ook Instagram, Messenger en WhatsApp besit), het dit reeds duidelik gemaak dat al dié toepassings ten volle met die metaheelal geïntegreer moet wees.

Dit sal beteken dat jy – soos jy tans ’n plasing gelyktydig op meer as een platform kan deel – dit ook in die metaheelal sigbaar sal kan maak, selfs driedimensioneel. Die moontlikheid is ook nie uitgesluit nie dat die metaheelal uiteindelik individuele sosialemediaplatforms gaan opslurp. Vir eers is dit ’n gerieflike manier om tradisionele gebruikers van sosiale media te oorreed om ’n toon in die metaheelal-see te steek.

Daarom belê groot maatskappye soos Meta nie net in tradisionele toepassings nie, maar ook in nuwe tegnologie vir versterkterealiteitservarings en die oorhoofse integrasie daarvan. Meta belê byvoorbeeld in die ontwikkeling van virtuele huise wat jy kan aanskaf en waarna jy jou vriende vir ’n kuiertjie kan nooi. Net so beplan Microsoft virtuele raadsale waar jy saam met jou kollegas kan vergader. En met dié dat baie van ons weens die pandemie nou al vir twee jaar met kollegas op Zoom of Teams gesels, klink dit tog nie so vergesog nie, of hoe?

Welkom in Ubuntuland

(Foto: iStock)

Dis presies die soort virtuele raadsale en kreatiewe woon- en werkruimtes wat jy sal raakloop in Afrika se eerste metaheelal-markplein, Ubuntuland, wat einde Februarie bekend gestel is. Ubuntuland word beskryf as ’n plek van kreatiwiteit, eksponensiële tegnologie en innovasie waardeur Afrika se ware potensiaal ontsluit kan word deur die vasteland met die hart van die digitale ekonomie te verbind.

Dit word beskryf as ’n digitale vertoonvenster vir die beste kuns, mode, vermaak, sport, tegnologie en kreatiwiteit uit Afrika. Van die eerste beleggers wat eiendom in Ubuntuland gekoop het, was die selfoondiensverskaffer MTN en die Suid-Afrikaanse advertensieagentskap M&C Saatchi Abel.

Gewone Suid-Afrikaners sal eersdaags ’n lappie grond in Ubuntuland kan bekom. MTN het 144 erwe gekoop en beplan om selfoongebruikers daarheen te lok deur onder meer speletjies en musiek. Daar is meer as 204 000 erwe van verskillende groottes en in verskillende dorpies beskikbaar en pryse en posisie wissel. Saam met die erwe sal daar ook avatars te koop wees. Nie net kan jy kies waar jy wil bly of kuier of speel nie, jy kan ook besluit wié jy in hierdie stukkie van die metaheelal wil wees.

Vir M&C Saatchi Abel is dit ’n strategiese skuif om die heel eerste agentskap in Ubuntuland te wees. By die bekendstelling van Ubuntuland het Mike Abel van dié agentskap gesê die pandemie het gewys hoe maklik dit is om in ’n wêreld van gemengde realiteit te woon en dat die metaheelal nuwe moontlikhede skep om interaksie met ander in die hand te werk. Getrou aan dié nuutjie het Abel (se avatar) dié verklaring natuurlik vanuit Ubuntuland gelewer.

Maar is dit kuns?

(Foto: Verskaf)

Avatars klink prettig en innoverend, maar vir die ernstige belegger is dit ’n potensiële digitale goudmyn. In kunskringe het die tonge verlede jaar geklap toe Mike (Beeple) Winkelmann, ’n Amerikaanse digitale kunstenaar, grafiese ontwerper en animasiekunstenaar, se kunswerk “Everydays” vir $69 miljoen op ’n veiling verkoop is.

Die vangplek? Die kunswerk is ’n nieverwisselbare item (NFT of NVI) wat digitaal geskep is en net in ’n digitale wêreld bestaan. Jy kan dit nie in jou huis ophang nie en jy betaal ook nie met die spreekwoordelike harde kontant daarvoor nie. NVI’s word met kriptogeld gekoop.

In ’n volgende fase van die metaheelal sal jy by jou vriende met jou kriptokuns of ander NVI’s in jou digitale huis kan spog terwyl julle avatars aan skemerkelkies teug. Dis nou as jy jou eienaarskap wíl onthul, want daar is ook die neiging by die aanskaffers van kriptokuns om anoniem te bly. Of dalk wil jy virtuele afbeeldings van werke van die Ou Meesters bekom om atmosfeer in jou digitale sitkamer te skep. Dit is alles produkte wat jy aanlyn kan koop om jou ervaring in die metaheelal te verryk.

Die Amerikaanse beleggingsbankreus JP Morgan Chase raam dat die metaheelal se potensiële jaarlikse inkomstestroom uiteindelik tot $1 biljoen (trillion) kan beloop. Dis daarom nie vreemd nie dat Fortune verlede maand berig het dat dié bank ’n virtuele tak in die Metajuku-winkelsentrum geopen het. Dié winkelsentrum is in Decentraland, iets soortgelyk aan Afrika se Ubuntuland.

JP Morgan is, soos M&G Saatchi Abel, ’n baanbreker in die metaheelal en die eerste beleggingsbank om in dié virtuele omgewing sake te doen. Die bank voorspel dat die metaheelal elke sektor binne die komende jare op een of ander wyse gaan insypel en het daarom al in 2020 ’n afdeling op die been gebring wat in blokkettingtegnologie spesialiseer om transaksies in ’n digitale wêreld deur kriptogeld soos Bitcoin te fasiliteer.

Talle groot handelsmerke het ook reeds ’n tekkie in die deur van die metaheelal gekry, met alles van sportuitrustings deur Nike tot weelderige bykomstighede van Gucci wat aangeskaf kan word. Dit klink dalk baie materialisties en verbruikersgedrewe, maar van ’n afstand beskou, verskil dit nie eintlik van wat in die werklikheid gebeur nie. Behalwe dat jy blitsvinnig in die metaheelal jou hele lewe (en jou voorkoms) vir ’n splinternuwe een kan verruil (sonder botoks of kosmetiese chirurgie).

Wat is die risiko’s?

Decentraland in die Metaheelal. (Foto: Verskaf)

Soos met enige nuwe tegnologie en interaksie met mense, selfs al is dit in ’n virtuele omgewing, is daar risiko’s aan die metaheelal verbonde. Die vernaamste is sekerlik die verlies aan privaatheid omdat persoonlike data deurlopend in die metaheelal ingesamel sal word, presies soos dit gebeur op sosialemediaplatforms en elke ander terrein waar jy met die internet skakel.

Die deurslaggewende vraag is nie noodwendig wat groot maatskappye met daardie data doen nie, maar hoe veilig dit gestoor word. Beland dit in die verkeerde hande, kan dit lei tot kubermisdade soos identiteitsdiefstal, ’n al groter wordende probleem, aldus die navorsingsgroep Comparitech.

Die metaheelal kan boonop ’n ruimte word wat sleg is vir mense se geestesgesondheid, op presies dieselfde grondslag as wat mense dit byvoorbeeld op Instagram ervaar. Alles dáár lyk mos piekfyn en beeldskoon. Mense vergelyk hul alledaagse ervaring met die glanslewens op sosiale media, wat dikwels tot depressie en ’n gevoel van minderwaardigheid lei.

In die metaheelal kan dié situasie drasties vererger, want daar hoef jy nie ’n filter te gebruik om jou foto’s beter te laat lyk nie, jy kan bloot die perfekte wêreld skep. Voeg hierby ander risiko’s soos boeliegedrag en teistering, die verspreiding van fopnuus en kripto-korrupsie, en jy het allermins ’n fantasiewêreld waar kubermisdadigers nie hul hande op jou kosbare digitale Gucci-handsak kan lê nie.

Die Wêreld- Ekonomiese Forum (WEF) meen dis juis kwesbare groepe wat ’n hoër risiko het om slagoffers in die metaheelal te word. Die WEF het daarom ’n beroep op tegnologiemaatskappye, regerings, die burgerlike samelewing en akademici gedoen om te help om ’n “ekostelsel van vertroue” te skep.

Dis egter nie duidelik presies hoe dit in werking gestel moet word in ’n omgewing waar die grense tussen virtueel en werklikheid vervaag nie. Internasionale terrorisme, kuberkrakers en mensehandelaars kan net so maklik in die metaheelal rondsluip as enigiemand anders.

Boonop waarsku Mary Anne Franks, president van die Cyber Civil Rights Initiative, dat daar ’n risiko is dat die metaheelal vir mense baie meer eg kan voel as wat dit werklik is. Dit beteken dat enige misbruik in dié ruimte gevolglik meer traumaties beleef sal word.

Klink dit vreesaanjaend? Dit behoort te wees. Maar terselfdertyd het gebruikers van sosiale media en ander tegnologieplatforms oor die jare geleer om dié omgewings te modereer: om misbruikers daarvan aan te meld, te blokkeer of te vermy. En om openbare en politieke druk op tegnologiemaatskappye te plaas om verantwoordelik op te tree en gebruikers se veiligheid en privaatheid te respekteer en te beskerm.

Eindelik sal die metaheelal ongesiens alledaags word, net soos die internet en elektrisiteit. Maar vir eers is ek heeltemal tevrede met (net) R50 se Bitcoin en filtervrye, fisieke kontak met die “gewone” mense om my. ’n Mens kan immers nie ’n braaivleisvuur aanlyn ruik nie.

Fassinerende feite

  • Die metaheelal-mark sal na verwagting teen 2024 sowat $800 miljard bereik. Terwyl JP Morgan verwag dat die jaarlikse inkomste uit dié mark tot $1 biljoen (trillion) sal toeneem, voorspel Goldman Sachs enigiets tussen $1 biljoen en $12 biljoen. Die Metaheelal-mark was in 2020 sowat $46 miljard werd.
  • Meta se Reality Labs het reeds $10 miljard in die metaheelal belê. Dié sakebeen van die voormalige Facebook het in 2021 ’n inkomste van $2 miljard opgelewer.
  • Sowat 10 000 werkgeleenthede sal glo oor ’n tydperk van vyf jaar geskep word.
  • Die wetenskapfiksieroman Snow Crash het die frase “Metaverse” in 1992 geskep.
  • Decentraland het $24 miljoen ingesamel voor sy vrystelling in Februarie 2020.
  • Gebruikers van die Roblox-speletjie het reeds $652 miljoen aan sy virtuele geldeenheid bestee.
  • Sowat 33 miljoen mense het deur Roblox na Lil Nas X se aanlyn konsert gekyk, terwyl 45,8 miljoen mense Travis Scott se “Astronomical” in die kuberruim bygewoon het. Meer as 10,7 miljoen mense het ’n Fortnite-konsert bygewoon.
  • ’n Digitale Gucci-sak is vir meer as $4 100 (sowat R63 000) verkoop en Louis Vuitton het op sy beurt ’n speletjie in die metaheelal geskep.
  • Disney werk tans aan ’n temapark in die metaheelal en beskou dit as “die volgende groot platform” om sy stories te deel.
  • Coca-Cola het in 2021 sy eerste NVI vir $575 000 opgeveil.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.