Microsoft maak venster versigtig oop

‘n Skermskoot van die nuwe Windows-bedryfstelsel wat tans in fases uitgerol word.

Anders as Apple wat jaarliks nuwe bedryfstelsels aan sy Mac-gebruikers bekend stel, moes (ander) rekenaargeesdriftiges meer as ses jaar wag om met ’n nuwe Windows-bedryfstelsel te spog.

Microsoft het die afgelope twee weke begin om Windows 11 in fases uit te rol, ses jaar nadat Windows 10 in 2015 die tegnotroonopvolger van Windows 8 geword het.

Afhangende van die hardeware en ouderdom van jou rekenaar kan bestaande Windows 10-gebruikers in fases tot en met middel 2022 die nuwe Microsoft-bedryfstelsel gratis aflaai. Gebruikers sal in kennis gestel word wanneer hulle vir die opdatering in aanmerking kom.

John Cable, vise-president van programbestuur by Windows Service and Delivery, het gesê die gefaseerde benadering rondom die uitrol van Windows 11 het ten doel om die oorgang so soomloos moontlik vir gebruikers te maak.

“Ons begin eers met die opgradering van nuwe toestelle, waarna ander rekenaars volg. Soos met die opdatering van ons vorige bedryfstelsels gaan ons eers toestelle se gesondheidsdata na om te sien of Windows 11 via Windows Update aangebied kan word.

“As ons agterkom dat daar moontlike onversoenbaarheidsprobleme kan opduik, sal ons ’n beveiligingsmeganisme gereed kry en eers die opgradering aanbied sodra die probleem opgelos is,” het Cable gesê.

Volgens Cable is 4 Oktober 2021 die amptelike begin van die lewensiklus van 24 maande vir die Home- en Pro-weergawes van Windows 11. (Jy kan solank gaan loer of jou rekenaar met die nuwe bedryfstelsel versoenbaar is deur Microsoft se PC Health-app af te laai.)

Volgens Microsoft word Windows op 1,3 miljard toestelle wêreldwyd gebruik. Die tegnologiegroep hoop die nuwe bedryfstelsel gee die verkope van rekenaars ’n stewige hupstoot soos die uurglas vir Windows 10 se steundiens teen 2025 leegloop. Die meeste nuwe rekenaars wat in die winkel beskikbaar is, word reeds vooraf met Windows 11 gelaai.

Microsoft het verlede maand opdaterings van sy Surface-reeks bekend gestel wat hand aan hand met Windows 11 loop. Die vlagskipproduk, Surface Laptop Studio (teen ’n stewige prys van $1 599), het sowat vyf jaar geneem om te ontwikkel en verander van skootrekenaar na ’n skerm wat die stroom van reekse of rolprente, of teken en skets vergemaklik.

“Windows 11 is ontwikkel met die snel groeiende aanlyn speletjiesmark voor oë,” het Microsoft gesê. “Innoverende nuwe funksies soos AutoHDR en DirectStorage neem die speletjieservaring na ’n splinternuwe vlak.

“Dit sluit onder meer die Xbox-app in, waar jy deur meer as 100 rekenaarspeletjies van hoë gehalte uit die Xbox Game Pass Ultimate- en PC-biblioteek kan blaai, laai en laat waai.”

Ander nuwighede waarna gebruikers kan uitsien sluit in Microsoft Teams se geselsfunksie “wat gebruikers nader sal bring aan die mense vir wie hulle omgee”.

Microsoft Store is ook geheel en al herbou om navigasie deur programme, speletjies en vermaak te vergemaklik. “Die skermuitleg is meer vaartbelyn danksy die kragtige Snap Layouts and Groups. Dit sal meervoudige taakuitvoering optimaliseer, gefokusde werkvloei in die hand werk en ’n visueel skoner skermspasie skep,” het die groep gesê.

Loer gerus hier om te sien wat Windows 11 anders maak of kyk hier na die video.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Eend Bessinger ·

Wel, hoe verder Microsoft gaan, hoe groter is die behoefte van my rekenaar om te migreer na Linux. Ek soek net ‘n DVD wat werk sodat ek kan oorskakel! Het al TWEE DVDs moes weggooi omdat hulle nie reg werk nie of beskadig is…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.