Nasa wil Mars-materiaal aarde toe bring

'n Kunstenaarsvoorstelling (Foto: Christian Science Monitor)

‘n Kunstenaarsvoorstelling (Foto: Christian Science Monitor)

Nasa gaan met sy volgende sending na Mars in 2020 beoog om grond- en lugmonsters te versamel met die oog daarop om dit na die aarde terug te bring.

Die ruimteagentskap het die afgelope week tydens ʼn konferensie gesê die plan is egter nie om dié materiaal met dieselfde sending al terug te bring nie, maar dat ’n volgende sending dit sal oplaai en terugbring.

Nasa het intussen drie moontlike landingsplekke op Mars vir die volgende sending geïdentifiseer. Twee van dié plekke het waarskynlik eens warmwaterfonteine gehad, en die derde is ’n krater waar moontlik eens ’n groot meer was.

Volgens Bruce Betts, verbonde aan die ruimteagentskap, vorm dit alles deel van die plan om te bepaal of daar eens lewe op dié planeet was.

“Al die vorige sendings is gedryf deur ons soeke na water of tekens van water op die planeet. Water is teken van lewe, en dit is waaroor die sending gaan,” het hy gesê.

Die wetenskaplikes weeg tans die koste van talle Mars-karretjies wat die Rooi Planeet deurkruis op teen die koste van ’n tuig wat die versamelde materiaal kan kom oppik.

Boonop is van die instrumente wat nodig is om die materiaal behoorlik te ondersoek heeltemal te swaar om na Mars te neem. Om die materiaal op aarde te ondersoek sal die taak om te bepaal of daar eens lewe op Mars bestaan het aansienlik vergemaklik.

Die moontlikheid bestaan dat samewerking met Space X die koste heelwat kan verminder, nadat Space X aangedui het dat die koste van sy Red Dragon-tuie net ’n fraksie gaan wees van dít wat Nasa beplan. Volgens Space X kan die Red Dragons na Mars én terug reis.

Bron: Christian Science Monitor

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.