Netflix, Microsoft smee vennootskap vir advertensiediens

Die stromingsdiens Netflix. (Foto: Thibault Penin/Unsplash)

Netflix het Woensdag in ʼn verklaring bevestig dat dié stromingsreus Microsoft gekies het om advertensies te help verskaf op ʼn nuwe goedkoper intekeningsvlak vir intekenare.

Met die vennootskap word Microsoft nou die eksklusiewe bediener en verkoper van advertensies op Netflix, wat tans sowat 222 miljoen intekenare het en selfs nog meer kykers.

“Microsoft het die bewese vermoë om al ons advertensiebehoeftes te ondersteun terwyl ons saamwerk om ʼn nuwe advertensiegesteunde aanbod te vestig,” het Greg Peters, Netflix se bedryfshoof, gesê.

Netflix het die afgelope paar maande na ʼn vennoot gesoek wat kan help om die nuwe intekeningsvlak van stapel te stuur, en Google en Comcast is glo ook hiervoor oorweeg.

Peters het gesê dat Microsoft gekies is omdat die groep die buigsaamheid het om met verloop van tyd te kan innoveer aan die tegnologiese én verkoopskant van die platform. Microsoft bied ook sterk privaatheidsbeskerming vir Netflix se lede.

Hy het bygevoeg dat die diens se advertensieplanne nog in ʼn vroeë stadium is en dat daar nog baie ontwikkeling is om te doen.

Hoewel Netflix aanvanklik jare lank teen die idee was om enige advertensies op sy stromingsdiens aan te bied en dit selfs ʼn verkoopspunt van die stromingsplatform was, het die diensverskaffer nou besluit om advertensies op ʼn goedkoper intekeningsvlak bekend te stel. Dit volg ná ʼn beduidende verlies aan intekenare gedurende die eerste kwartaal van 2022.

Stadiger groei het die maatskappy genoop om nuwe maniere te vind om intekenare te lok en inkomstestrome te vind. Hoewel Netflix belê het in die ontwikkeling van oorspronklike en nuwe inhoud, het dié strategie nie die opbrengs gelewer waarna die stromingsdiens streef nie.

Ted Sarandos, die mede-uitvoerende hoof van Netflix, het die nuwe strategie rakende advertensies in Junie bevestig en die maatskappy beoog om die nuwe vlak vir intekenare teen die einde van die jaar bekend te stel.

Netflix sal na verwagting Dinsdag sy jongste kwartaallikse verdienste rapporteer, maar het egter reeds gewaarsku dat die stromingsdiens moontlik ʼn verdere twee miljoen intekenare in die tweede kwartaal verloor het. Netflix se aandele het vir die jaar-tot-jaar-datum met meer as 70% gedaal.

Bronne: Bloomberg.com, CNBC.com en TechCrunch.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.