Nuwe baas op die lyn by Telkom

‘n Telkom-winkel. (Foto: Irene Village Mall/Facebook)

Net ’n paar luitone langer as ’n week nadat Telkom aangekondig het dat Sipho Maseko die handstuk op die mikkie gaan neerlê as uitvoerende hoof, het die telekommunikasiegroep aangekondig dat sy opvolger, Serame Taukobong, reeds op die anderkant van die lyn aanhou.

Taukobong is tans uitvoerende hoof van Telkom se verbruikersakeafdeling en sal in werklikheid eers einde Junie volgende jaar die warm stoel inneem as Maseko finaal aflui. Taukobong sal egter vanaf 1 Oktober reeds met die titel aangewese uitvoerende hoof (CEO designate) op sy besigheidskaartjie pronk.

Volgens Telkom se voorsitter, Sello Moloko, is Taukobong ’n ervare bestuurder wat kontinuïteit in die hand sal werk en toon dié interne aanstelling die kaliber van Telkom se grofgeskut.

Taukobong het in 2018 by Telkom begin, nadat hy verskeie hoë posisies by mededinger MTN beman het. Dit sluit in bedryfshoof van MTN Uganda, verkoop- en verspreidingsbestuurder van MTN in Iran, bemarkingshoof van MTN se plaaslike sake en uitvoerende hoof van die selfoongroep se Ghana-bedrywighede.

Taukobong meen die afgelope drie jaar se luister en leer onder Maseko se leiding maak hom enersyds bewus van die uitdagings wat voorlê, maar andersyds is hy vasbeslote om waarde vir aandeelhouers te ontsluit, markveld te wen en die beste werknemers te lok en behou.

As deel van dié waardeontsluitingsoefening snuffel Telkom vir beleggers vir sy mas-en-toring-onderneming, wat volgens die groep onderwaardeer is omdat dit in die groepstruktuur verstrengel is.

Volgens Telkom het Taukobong sy mobielekliëntebasis drievoudig tot 15 miljoen laat groei en sy inkomste het binne ’n driejaartydperk byna verdubbel tot R20 miljard ($1,40 miljard). Telkom se selfoonsake is op twee na die grootste in Suid-Afrika.

Maseko sal volgens die groep help om ’n naatlose oorgang te verseker. Hy het op 1 April 2013 by Telkom aangesluit in ’n tyd toe ’n besettoon die minste van sy probleme was.

“Gedurende sy ampstermyn van agt jaar het hy die onderneming omgekeer en uitgebou van ’n tradisionele vastelynonderneming tot mandjie ondernemings bestaande uit die mobiele, IT-, groothandelinfrastruktuur- en die mas-en-toringsakebene.

“Maseko het ook gehelp om Telkom se migrasie van ADSL na vesel te versnel, en die aantal huise wat tans met vesel spog, is nou veel meer as die aantal huise wat met koper verbind is,” het Telkom gesê.

Taukobong sal op sy beurt tydens die oorgangstydperk steeds ’n ogie hou oor Telkom se verbruikersakeafdeling, terwyl ’n werwingsproses vir sy opvolger onmiddellik begin.

Telkom se aandeelprys het net voor uitkloktyd op 4 Augustus teen R4 276 verhandel. Dit is meer as 52% hoër as die vlak van R2 800 ’n jaar gelede. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Hendrik ·

Stel regtig nie belang nie. Buite die dorp tel Telkom nie meer nie en ons maak maar gebruik van dienste gelewer deur ons eie gemeenskap se besighede.

Wielspore ·

Ons besit al meer as 20 ‘n Telkom lyn by die huis, as die lyn werk, dan werk hy, tussen die Laeveldse donderweer en stoms bly hy aan. Aan die ander kant, as die lyn af is, dan is hy af, sommer vir lank, hulp is min. Intussen het ons ADSL bygekry, data spoed is redelik maar as hy stadig is, dan is hy stadig. Die beheerkamers lyk indrukwekkend maar die infrastruktuur is goor, pale lê op die grond, oorhoofse kabels ook, dit hang skeef. En waar kry jy die instandhoudings voertuie, by die lugverkoelde beheerkamers. Dit het al beter gegaan met Telkom.

Martie ·

Nee wat maak nie saak wie optel aan Telkom se kant nie hulle diens is pateties.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.