Plaas kuberwelstand nou op die agenda

tablette-skootrekenaars-slimfone-blogger

(Foto: Unsplash/Pixabay)

Terwyl daar nog talle werknemers is wat van die huis af werk, het maatskappye en hul personeel nou die geleentheid, asook die verantwoordelikheid, om ʼn aktiewe rol te speel in die ontwikkeling van verantwoordelike digitale burgers.

Dit is die mening van Rianette Leibowitz, stigter van SaveTNet Cyber ​​Safety en skrywer van twee boeke wat op die digitale mentorskap van ouerskap fokus. Sy reken maatskappye en hul werknemers leer tans nog hoe om die nuwe digitale werklikheid van afstandswerk reg te navigeer.

“Maatskappye is beslis nou meer blootgestel aan risiko’s soos kuberaanvalle, skade aan hul naam en potensiële verliese wat direk aan kuberveiligheid toegeskryf kan word. Terselfdertyd ervaar mense wat tuis werk en hul gesinne bykomende druk om tegnologie en die verwagtinge te bestuur van die ekstra ure wat ons aanmekaar deur tegnologie verbind is.”

Leibowitz het onlangs die Cyber Wellness-program ontwikkel wat werknemers kan help om hul risikoprofiel te bepaal. Dit kan ook kuberveiligheidbewustheidsvlakke evalueer en die risiko’s vir maatskappye en hul personeel bestuur.

“Die program het ʼn sterk fokus op kuberveiligheid, wat veral konsentreer op die risiko’s wat die internet en sosiale media bied. Aan die ander kant neem ek ook ʼn meer holistiese beskouing met kuberwelstand waar daar gekyk word hoe ʼn mens se digitale lewe met jou fisieke, emosionele, intellektuele, psigiese, omgewings- en verhoudingwelstand kan balanseer.

“Om die gesprek van net kuberveiligheid na kuberwelstand oor te skakel, is nou tydig en ook uiters belangrik,” sê Leibowitz.

Rianette Leibowitz het ‘n paar wenke vir hom jou gesin se tyd aanlyn in afsondering te bestuur. (Foto: Verskaf)

Die kuberwelstandprogram met die titel Cyber Wellness bevat onderwerpe soos:

  • Veiligheidsverstellings om jou onderneming en gesin te beskerm.
  • Die dilemma oor skermtyd en hoe om beheer te neem.
  • Webkameras, aanlyn vergaderings en wie almal dalk nog inskakel.
  • Digitale isolasie en ontkoppelde verhoudings.
  • Stel jou digitale grense vas, asook die belangrikheid van ’n gereelde digitale detoks.
  • Kuberafknouery, bekruiping en ander strikke.

“In die verlede het IT- en veiligheidspanne beheer gehad oor die gebruik van hul stelsels en toestelle en hoe die toepaslike sekuriteitsprotokol plus netwerkinfrastrukture in werking gestel is.

“Met mense wat op ʼn afstand werk, is maatskappye nou kwesbaar vanweë ʼn gebrek aan duidelikheid rakende die veiligheid en gebruikersgedrag by werknemers wat hul eie internetverbinding gebruik en familielede toegang gee tot die tegnologie van die onderneming vir aanlyn onderrig, speletjies en vermaak,” verduidelik sy.

Leibowitz weet sommige mense sal voel dit is skrikwekkend om kuberwelstand ook nog by ʼn lang lys verantwoordelikhede te voeg, maar bygewerkte ondernemingsbeleid, infrastruktuuraanpassings en interne opleiding is onontbeerlik.

Die Cyber Wellness-span kan maatskappye help om oplossings te vind om ondernemings se aanlyn sekuriteit en werknemers se risikoprofiel te verbeter, terwyl hulle ook gesinne se digitale sekuriteit tuis help verbeter.

  • Rianette Leibowitz, ʼn kuberveiligheidskenner en digitale ouerskapmentor, het met Maroela Media gesels oor kuberwelstand. Sy het aan Esté Meyer Jansen verduidelik hoekom dit belangrik is om nou daaraan aandag te gee. Sy het ook talle wenke gegee oor hoe jy jou kuberwelstand en kuberveiligheid kan verbeter. Luister na die volledige onderhoud boaan hierdie artikel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.