’n Rekenaar wat sekere siektes tot vyf jaar vooruit sal kan voorspel, word nou deur ’n Nederlandse navorser ontwerp.
Prof. Wiro Niessen, hoogleraar in Mediese Beeldverwerking aan die Erasmus MC en die TU Delft het pas die Simon Stevin Meester-prys ontvang om die ontwerp en bou daarvan te voltooi. Die prys beloop ’n halfmiljoen euro.
Die aanvanklike rekenaar sal veral hart en hartvatsiektes, en siektes soos Alzheimer voorspel. Later moet dit ook ander siektes kan voorspel.
Die konsep behels ’n databasis van beelde van hoe die menslike liggaam daaruit sien, nog lank voordat ’n siekte begin manifesteer. Die rekenaar sal abnormaliteite kan “raaksien” wat die menslike oog nie kan waarneem nie. Plate word dan geneem en deur die rekenaar met die databasis vergelyk.
Indien siektes vooraf bepaal kan word, sal voorkomende geteikende behandeling moontlik wees, en die prognose aansienlik verbeter.
Niessen wys daarop dat selfs indien Alzheimer ’n jaar vroeër geïdentifiseer kan word, dit reeds ‘n yslike verskil sal kan maak.