Ruimteliefhebbers kan in 2019 hierna uitsien

Ter illustrasie. Foto: Xinhua/Hua Yi (jmmn)

Die jaar het vir Suid-Afrikaanse ruimteliefhebbers opwindend begin toe ’n meteoor, skynbaar ongeveer so groot soos ’n kruiwa, in die atmosfeer bo die Wes-Kaap ontplof het.

Behalwe vir ’n klompie glase wat glo gebreek het, was daar nie aangemelde skade nie, al het talle huise behoorlik geratel.

Die skade van meteore wat in die atmosfeer ontplof, kan groot wees, maar verskeie faktore kan dit beïnvloed, soos die grootte en die hoogte bo die grond waar dit ontplof het.

Verlede jaar het ’n meteoor sowat 40 km bo Groenland met die plofkrag van 2,1 ton TNT ontplof, en die trillings wat dit op die grond tot gevolg gehad het, is tot ongeveer 300 kilometer van die episentrum op seismometers geregistreer. Wetenskaplikes het tot die gevolgtrekking gekom dat die uitwissing van Sodom en Gomorra waarskynlik ook aan ’n meteoor te wyte was wat in die atmosfeer ontplof het. Tot huise se fondasies het gesmelt.

Suid-Afrikaners was grotendeels die eerste maansverduistering van die jaar nie beskore nie, maar kon darem die eerste supermaan wat daarmee gepaard gegaan het bekyk. Al vind daar vanjaar verskeie sons- en maansverduisterings plaas, word Suid-Afrikaners grootliks gesnoep.

Suid-Afrikaners sal wel ʼn paar minder bekende en skaarser “verduisterings” te siene kan kry. Op 11 November beweeg Mercurius voor die son in, iets wat eers weer in 2032 sal gebeur. Beide Jupiter (10 Junie) en Saturnus (9 Julie) se wentelbane kom vanjaar op hul naaste moontlike afstand aan die aarde. Jupiter en Saturnus kry dan vol sonlig. Jupiter sal só naby wees dat selfs die vier grootste mane met ’n goeie teleskoop van die aarde af gesien sal kan word. Saturnus se ringe sal dan op ’n 24 grade-hoek van die aarde af sigbaar wees, en so ook ’n aantal mane – mits ’n mediumgrootte teleskoop ingespan word.

Op 19 Februarie en 21 Maart is daar ook weer supermane.

Verskeie lande is vanjaar as’t ware “met die maan gepla.” Die Chinese tuig, Chang 5, is reeds op die maan, en was die eerste tuig wat op die wegkant van die maan geland het. Chang 5 keer later vanjaar na die aarde terug met monsters. Indië beplan om die Chandarayaan 2 teen Maart vanjaar, indien nie vroeër nie, na die maan te stuur.

Israel beplan ook vanjaar ’n maanlanding met sy maantuig, die Sparrow.

Tensy iets verkeerd loop, sal die VSA ná ʼn lang afwesigheid, weer met bemande ruimtevlugte begin. Space X se onbemande vlug in ʼn tuig wat ’n bemanning kan dra, word vir Mei beplan. Indien alles goed verloop, sal ’n bemande Dragon 2 in Junie by die Internasionale Ruimtestasie (IRS) aandoen. Boeing se CST-100 Starliner se onbemande vlug word vir Junie beplan, en ʼn bemande vlug – ook na die ruimtestasie – word vir Augustus beplan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.