Ruimtenuus: Meer mens dalk al deur meteoriete getref

‘n Meteorieted. (Argieffoto: NASA)

Wetenskaplikes reik klankopnames van die ruimte uit en verduidelik of jy in die Melkweg kan inloop. Meer mense is dalk al ook deur meteoriete getref as wat ons dink. Maroela Media bring vir jou ’n versameling van berigte oor die jongste ruimtenuus:

Meer mense dalk al deur meteoriete getref

Normaalweg lewer beskikbare verslae nog slegs een bevestigde geval op van iemand op aarde wat deur ʼn meteoriet getref is, naamlik Ann Elizabeth Fowler Hodges wat op 30 November 1954 deur ʼn fragment van ʼn asteroïede getref is. Behalwe nog een geval wat redelik waarskynlik lyk, was trefslae skynbaar so skaars soos ruimterose vol in die blom.

Nou blyk dit daar was wel nog ʼn goed beskrewe voorval. Navorsers wat in Irak se Koerdistan deur dokumente van die destydse Ottomaanse Ryk gewerk het, het op verslae van 1888 afgekom wat vertel hoe ʼn groot vuurbal bo ʼn dorpie ontplof het, en tientalle klippe op ʼn piramiedvormige koppie buite die dorp geval het. Een man is dood, en nog een verlam. Nog dokumente, wat opgespoor is nadat dit gedigitaliseer is, dui op nog moontlik drie sulke voorvalle. Die dokumente word nou bestudeer en die bevindings sal bekendgemaak word sodra dit gereed is.

‘n Skermgreep uit die ruimteklanke se YouTube-opname.

Ruimteklankopnames van BepiColumbo bekend

Die Europese Ruimteagentskap (ESA) het unieke klankbane van die BepiColumbo-tuig, wat in ʼn gesamentlike projek met die Japannese Ruimteagentskap onderweg is na Mercurius, bekendgemaak. Hierdie tuig kan nie dié klein binneplaneet so na-aan die son regstreeks bereik nie, en is met ʼn ingewikkelde trajek – wat verskeie verbyvlugte om die aarde, Venus en Mercurius gemaak het – self onderweg voor dit in 2025 uiteindelik finaal by die naaste planeet aan die son gaan aandoen. BepiColumbo het reeds in 2018 van die aarde af vertrek.

Die opnames is van verskeie ruimteverskynsels gemaak en na hoorbare klank omgesit. Dit klink, wel, soos musiek uit die buitenste ruimte.

windpomp-sterre-hemelruim-melkweg

Foto: Emily Goodhart/Unsplash.com

Kan die mens van die aarde reguit tot in die Melkweg loop?

Anders as wat ʼn mens se eerste reaksie sou wees, is die antwoord “ja.” Die aarde se son is immers een van ons Melkweg se sterre, en daarom woon die ganse mensdom in die Melkweg.

Die inwoners van die ou Indiaanse stad, Cahokia, het anders oor die saak gedink. Die ervaring was egter net vir die dooies gereserveer, wat ʼn sekere tyd van die jaar aan die einde van ʼn reguit pad deur die stad begrawe is, reg onder die plek waar dit dan gelyk het of die Melkweg by die pad aansluit. Die geeste (of siele) kon dan daarvandaan die “staptog” in die hemelruim voortsit. Maar eers moes hulle tot by die Melkweg “spring, en dan hoër opklim”.

Cahokia, wat volgens sommige bronne reeds voor Christus se geboorte gestig is, was die grootste stad noord van Meksiko. Dit het in ooreenstemmende tye meer inwoners as Londen en Parys gehad, en was kosmopolitaans. Die stad was verlate toe die eerste Europeërs hulle daar kom vestig het. Dit was op die oorkantste wal van die Mississippi-rivier naby die hedendaagse St. Louis gesetel, en is gekenmerk deur ʼn groot aantal grondhope (mounds). Van hulle het die vorm van piramides aangeneem, met trappe langs die kant en tempels bo-op.

Alle geboue is van pale gebou, en daar is dus min oorblyfsels van die geboude strukture. Baie van die grondheuwels is ook later deur koloniste benut vir opvulwerk, soos om moerasse te dreineer.

In ʼn nuwe artikel vertel argeoloë van hul onvergeetlike nagtelike ekspedisie om langs dieselfde pad die tog na die Melkweg aan te pak. Hulle het darem nie probeer om die sprong aan te durf nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.