SA kunstenaar skep ‘NFT’-kuberkuns

Jan Hendrik Viljoen, beter bekend as Portchie, betree die NFT-wêreld. (Foto: Verskaf)

Dit klink dalk verregaande om duisende rande aan ʼn kunswerk te bestee wat slegs digitaal vertoon kan word, maar kenners meen diegene wat die groeiende tendens van NFT’s – oftewel nieverwisselbare bewyse – ignoreer, gaan dalk oor ʼn paar jaar spyt wees.

Jan Hendrik Viljoen, beter bekend as Portchie, is die mees onlangse Suid-Afrikaanse kunstenaar om die “kunskuberruim” te betree deur sy geverfde kunswerke in dié unieke digitale handelsformaat te omskep.

Die kunstenaar, wie se werk gekenmerk word deur helder kleure, verwronge vorms en blou bome, se eerste NFT-versameling getiteld Cycling by the Riverside bestaan uit 1 000 unieke NFT’s wat elkeen tussen R3 000 en R4 000 kos en geskep is om slegs digitaal vertoon te word.

Wat is ʼn NFT?

NFT staan vir “non-fungible tokens” en verwys volgens die kripto-eenheid Ethereum na betaalmiddels (tokens) wat gebruik kan word om eienaarskap van unieke digitale items voor te stel.

Dit verwys dus na items wat ʼn uiters unieke waardestelsel het en nie maklik verhandel of vervang kan word nie, juis danksy dié unieke waardestelsel. Dit kan ook enigiets van digitale items soos kunswerke, musiek en video’s, tot dokumente vir “regte items” soos aktes vir ʼn motor of eiendom, of selfs kaartjies vir ʼn konsert insluit.

ʼn NFT is dus ʼn soort digitale bate wat ten volle en uitsluitlik in die digitale heelal bestaan en in ʼn digitale kluis beskerm word. Dit is nie tasbaar nie, maar kan besit word of iets tasbaar verteenwoordig.

Ethereum se webblad beskryf kontant egter as iets wat wel maklik “fungible” of verwisselbaar is, omdat die unieke eienskappe en byna sentimentele waarde van twee identiese bedrae geld nie verskil nie.

Portchie se Cycling by the Riverside kan ook met dié kripto-eenheid gekoop en verkoop word.

Prof. Waldo Krugell van die Skool vir Ekonomiese en Bestuurswetenskappe aan die Noordwes-Universiteit (NWU) verduidelik verder dat NFT’s mettertyd waarde skep wat verder as die oorspronklike prys strek.

“NFT’s kan soos lidmaatskapkaarte werk, of kaartjies wat die eienaars daarvan in staat stel om dinge in die werklike wêreld of die digitale wêreld te doen. Maatskappye het dit al gebruik as ʼn manier om ʼn gemeenskap by hul handelsmerk betrokke te kry, en aan eienaars toegang tot eksklusiewe handelsware of spesiale afslag te gee. Dit kan ook as digitale sleutel tot aanlyn ruimtes werk.”

Elke NFT kan ook net een amptelike eienaar op ʼn slag hê en word beveilig deur die betrokke blokketting waarin dit gestoor word, wat beteken dat niemand die rekord van eienaarskap kan verander of die NFT kopieer nie.

Hoe koop mens ʼn NFT?

Krugell verduidelik dat NFT’s ʼn nuwe soort “bateklas” is, wat op spesiale webwerwe of aanlyn markte verkoop word. Om toegang tot daardie mark te hê moet die koper egter ʼn digitale beursie op ʼn blokkettingplatform soos Ethereum hê, wat op daardie spesifieke webwerf of markplek werk.

Daarna gaan die koper deur ʼn proses genaamd “minting” – waar digitale data in kripto-versamelings of digitale bates omskep word. Verbruikers “mint” dus NFT’s en die prys word dikwels deur vraag en aanbod bepaal.

“Daar word elke week miljoene dollars se NFT’s deur markplekke soos Foundation of OpenSeas verkoop, en beroemde mense is dikwels betrokke. Verlede jaar in Maart is ʼn kunswerk genaamd Everydays: The first 5 000 days vir $69 miljoen op ʼn veiling verkoop,” sê Krugell.

Waar of hoe sien mens NFT’s?

Foto bloot ter illustrasie. (Foto”Andrey Metelev/Unsplash)

In Portchie se geval beteken dit dat die kunswerke van Cycling by the Riverside slegs op elektroniese toestelle soos ʼn rekenaar of deur virtuelerealiteit-brille gesien kan word en nie fisiek gekopieer of gedruk kan word nie.

Die kunstenaar het egter aangekondig dat NFT-eienaars van dié reeks óók ʼn hoëdefinisie-afdruk van hul versamelstuk sal ontvang wat deur hom geteken is. Indien daardie NFT egter op die blokketting verhandel word, sal die nuwe eienaar vir ʼn nuwe hardekopie-afdruk moet betaal.

Meta, die moedermaatskappy van Facebook en Instagram, het einde Augustus ook aangekondig dat hy nou sosialemediagebruikers die geleentheid gaan bied om hul NFT’s binne dié platforms te gebruik.

Die sosialemediareus sê in ʼn aanlyn blog wat op 29 Augustus op sy webwerf verskyn dat dié verwikkeling mense dus in staat sal stel om hul “digitale beursies” eenmalig aan enige app te koppel om hul digitale versamelstukke oor Facebook én Instagram te deel.

Hoe verskil ʼn Portchie-NFT van ʼn “regte” Portchie-skildery?

Die kunstenaar verduidelik dat sy NFT-kunswerke uit van sy werke se kenmerkende elemente, naamlik ʼn kleurvolle landskap, ʼn blou, verwronge boom, hoenders en fietsryers, bestaan.

Elke element wat gebruik word om ʼn unieke skildery te skep, is deur Portchie self met die hand geverf. Daar is byvoorbeeld 1 000 variasies van die landskappe, meer as 4 000 variasies van blomme en meer as 18 000 weergawes van die bome.

Elkeen van dié elemente word dan geskandeer en sal volgens algoritmes elke keer anders vertoon word, maar steeds Portchie se voorgeskrewe “reëls” vir sy kunswerke volg.

Hy sê verder dat hierdie NFT-versameling slegs bestaan uit unieke versamelstukke, wat beteken dat daar, anders as beperkte uitgawes of afdrukke, nie twee van dieselfde gevind kan word nie.

Is die Suid-Afrikaanse mark reg vir NFT’s?

Volgens Krugell is die konsep van NFT’s nog nie so aanloklik vir die plaaslike mark vergeleke met dié in die VSA nie.

Hy sê dit word veral gekoppel aan “celeb-kultuur”, met bekendes soos Paris Hilton, Kylie Jenner, Gwyneth Paltrow en die kletsrymer Snoop Dog wat gehelp het om die wêreld daaraan bekend te stel.

“Uiteindelik gaan dit ook baie daaroor om te spog oor die eksklusiwiteit van jou NFT en die status wat daaraan gekoppel word.”

‘n Galery-assistent kyk na ‘n digitale reproduksie van die skildery ‘Madonna del Cardellino’ by die Londen Unit-kunsgalery. (Foto: Justin Tallis/AFP)

Hy prys ook kunstenaars soos Portchie wat dié soort tegnologie inspan om ʼn nuwe teikenmark te bereik of ontgin. “Hoewel dié tendens nie vir almal is nie, dink ek dit sal dom wees om dit heeltemal te ignoreer, want ons weet nie hoe die toekoms gaan lyk en hoe dié tendens gaan groei nie.”

ʼn Handjievol internasionale museums eksperimenteer ook met die ontginning en toegang tot NFT-kunswerke, maar dit blyk nie oral ʼn sukses te wees nie.

AFP het berig dat 13 Italiaanse museums onlangs ooreenkomste met Cinello, ʼn firma wat beperkte digitale reproduksies van kunswerke verkoop, gesluit het.

Cinello bied digitale replikas van meesterwerke en die koper kry ʼn unieke, hoëresolusie- digitale kopie om op ʼn skerm te projekteer, asook ʼn sertifikaat van die museum waar die oorspronklike kunswerk hang. Die idee is dat die betrokke museum ook dan die helfte van die opbrengs kry wat Cinello uit die reproduksies maak.

Dié maatskappy het in Februarie vanjaar ʼn skouspelagtige Londense vertoning gehou met gedigitaliseerde werke deur Renaissance-meesters, onder wie Raphael, Da Vinci en Caravaggio. Die Italiaanse kultuurministerie was glo ontsteld dat ʼn replika van Michelangelo se Doni Tondo vir ongeveer 240 000 euro “verkoop” is, maar Florence se Uffizi-galery het minder as ʼn derde van die opbrengs gekry.

ʼn Woordvoerder van die ministerie het die kwessie as “verwikkeld en ongereguleerd” beskryf en museums gemaan om geen nuwe kontrakte rakende NFT’s te onderteken nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Ronél ·

Ek is bevoorreg om 3 x Porchie skilderye te besit en elke dag te kan geniet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.