Samsung S9 op almal se lippe; dán in SA

Die nuwe Samsung S9 (Foto: Samsung)

Die internasionale vervaardigingsreus Samsung het pas aangekondig dat sy jongste vlagskip-slimfone in Maart vanjaar in Suid-Afrika bekend gestel gaan word – en luidens beloftes van die vervaardiger is daar weinig wat dié slimfoon nié kan doen nie.

Samsung het die afgelope naweek die splinternuwe Galaxy S9 en die S9+ in Barcelona in Spanje bekend gestel.

DJ Koh, uitvoerende hoof van digitale verkope, sê die vervaardiger se hooffokus met dié slimfone was ʼn verbeterde ervaring op sosiale media en innoverende kamerategnologie wat die neem van foto’s en video’s na ʼn professionele vlak voer. Volgens hom is dit die maatskappy se beste produk nóg.

Koh sê aanhangers van die Samsung-slimfone kan onder meer uitsien na ʼn kamera wat 960 raampies per sekonde neem en boonop ook in staat is om stadig bewegende video’s te neem deur middel van opsporingstegnologie.

Die nuwe Samsung S9 kan ook teks vertaal (Foto: Samsung)

Gebruikers kan ook gepersonifieerde emotikons maak deur die blote neem van ʼn foto. Die vervaardiger maak dit deur middel van die AR Emoji-app moontlik dat ʼn enkele foto in altesaam 18 verskillende emotikons kan verander wat gebruikers dan op ander sosialemediaplatforms soos WhatsApp kan gebruik.

Sekerlik een van die mees opwindende kenmerke van die nuwe Galaxy S9 is dat die vervaardiger dit deur middel van kunsmatige intelligensie moontlik maak om woorde te vertaal deur bloot die slimfoon se kamera oor die woorde te hou. Gebruikers kan onder meer die woorde van straattekens én spyskaarte verander, hoewel die vervaardiger erken dié vertaling se sinskonstruksie is nie altyd heeltemal akkuraat nie.

Die gepersonifieerde emotikons met behulp van die AR Emoji-app (Foto: Samsung)

Deur middel van die Bixby-app, wat ook van kunsmatige intelligensie gebruik maak, kan gebruikers selfs die kilojoule-inhoud van hul kos meet en objekte identifiseer – dít alles met net die kamera.

Ander kenmerke waarna gebruikers kan uitsien, is onder meer dat die klank van die nuwe slimfone glo 1,5 keer harder as dié van die S8-weergawe is asook ʼn 5,8 duim-QHD-skerm.

Intussen het Koh ook bevestig dat Samsung steeds werk aan ʼn voubare selfoon. Die vervaardiger het in September verlede jaar gesê hy moet nog talle “struikelblokke oorkom” voordat dié slimfoon ʼn realiteit kan word. Koh het egter gesê die vervaardiger het realistiese verwagtinge en werk daaraan om die bes moontlike produk aan gebruikers beskikbaar te stel.

Die S9-slimfone sal beskikbaar wees in swart, pers, blou en grys. Die Galaxy S9 gaan jou R15 499 uit die sak jaag terwyl die S9+ jou R17 999 gaan kos.

Bron: Samsung, My Broadband

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Gerhard ·

Sommige van die goed kan jy op enige telefoon kry deur slegs ‘n app van Google Play af te laai, soos bv. die vertaling deur jou kamera. Dan is daar ook ander fone wat meeste van die goed doen wat Samsung so mee spog. Omtrent die enigste ding wat die foon uniek maak is die kamera omdat dit “variable aperture” het. Iets wat nog nooit op ‘n selfoon gesien is nie.

Frank ·

Ek hoop dit is ‘n reuse verbetering op die S8 en S8+, want dit is beslis die swakste fone wat ek nog gehad het.

jaco ·

en julle se nie wanneer dit beskikbaar in SA gaan wees nie, al dui die opskrif so aan?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.