Sleep vlerk in jou moedertaal met Armand Aucamp se nuwe app

Armand Aucamp. (Foto: Suzanne Swart)

As hartebreker-akteur in reekse soos Die Boekklub en die rolprente Ballade vir ʼn enkeling en Stroomop, laat die akteur en entrepreneur Armand Aucamp gereeld die Afrikaanse gemeenskap se harte vinniger klop.

Nou het Aucamp ʼn manier gevind om vir selfs nog meer warm Afrikaanse harte te sorg én vlerksleep in 2020 makliker te maak: ʼn Splinternuwe liefdes-app genaamd Koer.

Ná die sukses van sy kookboek en televisieprogram, Armand kook kaal, was Aucamp lank op soek na ʼn goeie entrepreneursgeleentheid, veral in die vorm van ʼn slimfoon-app.

“Toe iemand vir die hoeveelste keer by ʼn braai sê hulle soek net ʼn plat op die aarde, Afrikaanse pasmaat, het die idee vir ʼn Afrikaanse liefdes-app by my posgevat,” vertel hy.

“Ja, daar is ander dating apps soos Tinder en Bumble, maar ek het besef daar is ʼn behoefte om in jou moedertaal te soek na ʼn pasmaat, wat ook met jou in jou moedertaal kan kommunikeer en daar is iets spesiaals daaraan om dit te kan doen.”

Koer is nie eksklusief vir mense wat na pasmaats soek nie, maar ook eensames wat op soek is na vriendskappe en penmaats kan vir mekaar “koer” of “koes” op dié app. “Ons het baie hard daaraan gewerk om die woordspeling en woordkeuses so prettig dog eg-Afrikaans as moontlik te maak. Vir Afrikaanse mense sê die woord ‘koer’ dadelik iets van duifies, vlerksleep en nesskrop.”

Hy sê selfs Afrikaanssprekendes wat in die buiteland woon, met ʼn behoefte om by ʼn Afrikaanse gemeenskap aan te sluit, kan met behulp van die app iemand in hul land of omgewing ontmoet wat hul kultuur en herkoms deel.

Armand Aucamp. (Foto: Suzanne Swart)

“Almal ken tog iemand wat ware liefde gevind het op die een of ander sosiale platform. Dan praat ek nie eens van Afrikaanse mense wat oorsee woon en werk nie. Dink maar aan die rugbyspelers in Frankryk en die duisende Afrikaanssprekendes in Londen, Australië en dwarsoor die wêreld heen.”

Koer gee ook aan verbruikers die geleentheid om ander profiele in die “Koerwoud” deeglik deur te trap en die kat behoorlik uit die boom te kyk. “Hier gaan dit nie net oor voorkoms nie. Met Koer kan jy vir enige persoon eers ʼn briefie aanstuur, iets wat jy nie op ander apps kan doen nie. Sodoende kan jy deur eers ʼn gesprek te voer agterkom of julle byvoorbeeld ʼn sin vir humor deel.

“Koer skep ook die geleentheid om vooraf bepaalde belangstellings te kies; so jy kan vinnig sien of die ander ou geïnteresseerd is waarin jy is en of julle sekere eienskappe en belangstellings deel,” sê Aucamp.

Hy het die app saam met ontwerper Dewald van Zyl, kopieskrywer Marteni Burger en tegniese ontwikkelaar Jacques Engelbrecht ontwikkel.

“Tussen ons vier lê jare se ondervinding in tegnologie, app-ontwikkeling, konsepontwikkeling, ontwerp, bemarking en kennis van Suid-Afrika se Afrikaanssprekende bevolking. Dit neem ʼn bende om ʼn app te bou en met die liefde te smokkel.”

Aucamp vertel die app, wat verlede week amptelik bekend gestel is, het reeds sowat 3 000 lede in die Koerwoud gewerf.

“Dit is ongelooflik. Ons het nie die app vir onsself gebou nie; ons het dit gedoen vir mense wat dit nuttig kan vind en vir wie dit moontlikhede kan ontsluit. Die feit dat soveel mense reeds deel is hiervan, bevestig my vermoede oor die aanvraag na ʼn platform waar jy in jou eie taal kan kuier.”

Hy sê mense in Australië, China en die VK het reeds by Koer aangesluit. “Dit is wonderlik vir die bevordering van die taal en ek glo daar is ʼn blink toekoms vir Koer.”

Armand Aucamp. (Foto: Suzanne Swart)

Volgens Aucamp het hy in Julie verlede jaar die idee vir die app gekry en is dit sowat presies ʼn jaar later bekend gestel.

“Ons sou aanvanklik die app op Lentedag vanjaar bekend stel, maar met die inperkingstydperk en die koronaviruspandemie wat intussen op ons voorstoepe beland het, het ons besluit om dit eerder so gou as moontlik beskikbaar te maak. Ons was almal onkant gevang deur die feit dat ons soveel werk verloor het weens die inperking, maar dit het ons eintlik soveel meer tyd gegee om hierdie ding reg te kry en vry te stel.”

Dit is gratis om by Koer aan te sluit en verbruikers kan 20 aksies per dag gratis uitvoer voordat ʼn betaalmuur van R69 per maand bereik word.

“As jy nie wil betaal nie, kan jy bloot net môre weer probeer. Maar as jy onbeperkte toegang wil hê tot die app en byvoorbeeld vir advertensies wil koes, kan jy die aansluitingsgeld betaal. As jy betaal kry jy ook ʼn koerlisensie wat op jou profielfoto vertoon, so betalende lede kan ander betalende lede eerste sien en jy kan so ook aflei watter verbruikers is ernstiger daaroor om iemand te ontmoet,” verduidelik Aucamp.

Hy voeg by dat die veiligheidsaspek van vlerksleep ook belangrik is vir Koer. “Wat is dan veiliger as om uit die gemak van jou eie huis na ander mense se profiele te kyk en hulle te leer ken sonder om ʼn voet by die deur uit te sit? Mens is ook nie meer altyd lus om op ʼn Vrydagaand vreemdelinge êrens te gaan ontmoet nie,” sê hy.

“Ons weet en glo dat Koer al die regte boksies op die eeue oue vraag sal aftik: ‘Sal jy met my kys?’.”

Koer is aflaaibaar op Apple se App Store en op Android-fone op die Play Store. Volg Koer op sosiale media op Facebook en Instagram.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.