Steeds plek vir satelliettegnologie in die hommeltuig-era

Hommeltuie is deesdae ʼn groot gunsteling om lugfoto’s en video’s te neem. Buiten die neem van gewone beelde word hierdie nuttige apparate ook baie doeltreffend in die landbou aangewend wanneer dit met multispektrale kameras, radar of nagsig toegerus word. Daarmee kan jy jou plaas oppas, vog in die grond meet, peste en plae monitor of kyk hoe vinnig groei jou gewasse.

Omdat hommeltuie ook laer as satelliete vlieg, kan hulle beelde van ʼn resolusie van een sentimeter lewer. Maar hoewel hommeltuie hul doel het, is dit wel in baie gevalle onprakties, veral vir graanboere.

Graanlande kan honderde tot duisende hektaar groot wees. Aangesien ʼn hommeltuig nie naastenby so hoog soos ʼn satelliet kan vlieg nie, moet dit verskeie kere oor ʼn veld vlieg om dieselfde oppervlakte te dek. Dan moet dit na die volgende veld beweeg, en die volgende. Daarbenewens kan dit ʼn duur en tydrowende proses wees om die verskillende beelde aaneen te stik. Daarvoor is gespesialiseerde geo-verwysingsagteware nodig.

‘n Hommeltuig kan slegs ‘n beperkte oppervlak afneem of skandeer.

 

‘n Satelliet kan ‘n baie groter oppervlakte as ‘n hommeltuig afneem of skandeer.

Satellietbeelde aan die ander kant, kan ʼn hele veld of selfs ʼn groep velde gelyktydig dek. Met bestaande tegnologie kan die betrokke oppervlakte ook geo-verwys word en onmiddellik die ligging van die probleemarea in die veld weergee. Baie hommeltuig- en werkure is nodig om dieselfde te doen.

Dan is daar natuurlik ook die uitdaging om die hommeltuig in die lug te hou. Op ʼn groot graanplaas moet ʼn hommeltuig omtrent deurlopend heen en weer vlieg, want teen die tyd dat al die lande klaar gemonitor is, het sake op die eerste lande weer verander. Wanneer ʼn kontrakteur gehuur moet word, kan dit tot nog meer uitgawes lei.

Teenoor satelliete is hommeltuie baie arbeidsintensief, want iemand moet die hommeltuig beheer.

Daar word dikwels verwys na die hoër resolusiebeelde wat hommeltuie teenoor satelliete kan lewer. “Hoewel dit tot ʼn sekere mate waar is, het graanboere nie veel nut in die ontleding van baie klein oppervlaktes nie,” sê Gerhard Olivier, geografiese inligtingstelsel (GIS) -analis by Geofarm. “Boere stel eerder belang in groter probleemareas. Dit is dus nie kostedoeltreffend om duur hulpbronne soos hommeltuie te gebruik om baie klein gebiede in ʼn veld te ontleed nie. Die wins uit ʼn mielie-oes wat uit ʼn baie klein area gemaak word, word ver oorskry deur die koste van hulpbronne wat nodig is om so ʼn klein area te identifiseer.

“Ons het onlangs ʼn hommeltuig gebruik om die data van ʼn mielieland vas te lê en gevind dat ons skaars ses hektaar kon vlieg voordat die hommeltuig se battery pap word,” sê Olivier. “Dit het ongeveer 20 minute geduur. Dit was egter ʼn winderige dag wat die hommeltuig se battery vinniger as gewoonlik pap gemaak het.

“Wind is een van die faktore wat ʼn hommeltuig onprakties maak. Om duisende, of selfs ʼn paar honderd hektaar te karteer, selfs al is meer as een hommeltuig beskikbaar, grens aan die onmoontlike.”

Deesdae se multispektrale kameras op hommeltuie is nog nie so gevorderd soos op satelliete nie en het minder kleurbande. Multispektrale kameras maak dit nie net moontlik om satellietdata visueel voor te stel nie (deur foto’s te neem), dit kan massas data kwantifiseer om dit ook in grafieke en kaarte voor te stel. Daarenteen kan optiese kameras slegs fotobeelde lewer wat nie gekwantifiseer kan word nie.

Die verskil tussen ‘n optiese beeld (links) en multispektrale beeld (regs). Op die multispektrale beeld stel verskillende kleure, verskillende gewastoestande voor. Dit kan nie op die optiese beeld gesien word nie, dit wil sê, nie met die blote oog nie.

Gekwantifiseerde data is ʼn baie belangrike aspek van satellietdata en kan beskou word as die “werklike waarde” daarvan. Gekwantifiseerde data is nie net noodsaaklik vir die ontleding van tendense nie, dit is ook belangrik omdat mense geneig is om beelde anders te interpreteer.

“Dit is opmerklik dat hommeltuie wel hul plek in wingerd- en sitrusboerderye gevind het, waar boorde op kleiner oppervlaktes as graan aangeplant word. Die oppervlakte-randwaarde verhouding van sitrus en wingerde is baie hoër as dié van mielies, wat dit dus lewensvatbaar maak om geld op hulpbronne wat klein oppervlaktes kan ontleed, te bestee.

“Verder kan satelliete en hommeltuie mekaar in sommige gevalle aanvul, byvoorbeeld, wanneer ʼn probleemarea op ʼn satellietbeeld opgemerk word kan ʼn hommeltuig gebruik word om nadere ondersoek in te stel,” sê Olivier.

Satelliettegnologie beweeg teen ʼn geweldige tempo. Die beeldresolusie en oorvliegfrekwensie verbeter deurlopend en dit sal nie lank wees voordat dit vir hommeltuie kan kers vashou nie. Geofarm se raad aan graanboere is om twee keer te dink voordat hulle groot bedrae geld in hommeltuigtegnologie belê. Besoek hulle webwerf hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.