Takealot brei afleweringsdiens uit

Takealot het hul afleweringsdiens uitgebrei. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Die aanlyn verkoper Takealot se eenuur-afleweringsdiens, TakealotNOW, is gaandeweg besig om na nuwe gebiede in Suid-Afrika uit te brei.

Dié diens behels dat verbruikers binne ʼn uur vandat hulle ʼn bestelling geplaas het, hul pakkie kan ontvang. ʼn Toetstydperk vir die nuwe diens is in Augustus verlede jaar in verskeie buurte in Johannesburg en Kaapstad begin.

Daar is egter vandeesweek bekendgemaak dat TakealotNOW se dienste voortaan in meer gebiede in die Kaap beskikbaar is.

“Nadat TakealotNOW suksesvol in Johannesburg en die noordelike woonbuurte van Kaapstad van stapel gestuur is, is dit duidelik dat ons klante die spoed van die aflewering en die gerief daarvan waardeer,” het Frederik Zietsman, uitvoerende hoof van Takealot, gesê.

TakealotNOW, beskikbaar op die Mr D-app, bied ʼn verskeidenheid produkte, insluitend elektronika soos rekenaars en slimfone. Dit bied ook huishoudelike produkte soos troeteldierbenodighede, skoonheidsprodukte en speelgoed.

Die diens sal voortaan ook in Woodstock, Rondebosch, Kenilworth, Milnerton, Ottery, Century City, Foreshore, Plattekloof, Richmond Park, langs die kus en in die middestad beskikbaar wees.

Namate die e-verkopemark groei, wil Takealot by klante se gedrag aanpas.

“Die uitbreiding is nóg ʼn opwindende mylpaal vir ons,” sê Alex Wörz, uitvoerende hoof van Mr D.

“TakealotNOW integreer op naatlose wyse met die Mr D-app en bied dieselfde betroubare, moeitelose gerief waarvoor Mr D bekend is.”

Dit is nie die enigste nuus wat die aanlyn reus die afgelope paar dae gedeel het nie: Takealot se intekendiens, TakealotMORE, is verlede week bekendgestel en het Maandag amptelik in werking getree.

Dié intekendiens sal verbruikers enigiets tussen R39 en R99 uit die sak jaag en word bestempel as ʼn besparing op afleweringskoste wat op elke bestelling gehef word.

Hierdie diens sluit onbeperkte gratis aflewerings in wat op dieselfde dag as die bestelling plaasvind. Premium-intekenaars het ook die opsie vir gratis aflewerings, ongeag die minimum bedrag van R500 wat altyd ter sprake was om vir ʼn gratis aflewering te kwalifiseer.

Die afleweringskoste word ook geskrap vir intekenaars wat groot items, soos meubels of kombuistoerusting, bestel. Die diens strek ook verder as net Takealot, aangesien dit gratis aflewering vir Mr D ook insluit.

  • Vir meer inligting oor TakealotMORE, klik hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Vonkprop ·

Ek moet sê hulle take a lot more, want Takealot is nie meer so goedkoop nie. As jy bietjie rondkyk op die internet kry jy baie van die produkte veel goedkoper. Doen eers jou huiswerk.

Martie Smartie ·

Mens kry niks gratis nie, dis ingereken by die prys. Die gratis aflewering is ‘n reklame foefie.

Lukas ·

Ek is baie opgewonde oor Temu en ook Amazon wat die klomp by Takealot Payalot gaan laat goed les opsê as dit kom by prys kompetisie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.