TV: Kunsmatige intelligensie, stembeheer jongste neigings

Skyworth se S9 OLED TV. Foto: Verskaf

Skyworth wil die televisie die kerntoestel maak om jou huis in ʼn sogenaamde “slim huis” te omskep.

“Onmiddellike bevrediging. Dis die tipe wêreld waarin ons leef. Ons soek dinge vinnig en onmiddellik. Dit is veral waar wanneer dit by tegnologie kom,” sê Jaco Joubert, Skyworth se handelsmerkbestuurder.

Skyworth was volgens Joubert die eerste maatskappy om Android TV en kunsmatige intelligensie in televisies in Suid-Afrika bekend te stel.

Skyworth het tydens die onlangse IFA-tegnologieskou wat in September in Berlyn, Duitsland, plaasgevind het, hul nuwe Swaiot-stelsel bekend gestel. Die stelsel maak van stemherkenningstegnologie gebruik en kan aan meer as 6 000 huishoudelike toestelle van verskillende handelsmerke gekoppel word.

Dit beteken jy kan sommer van die rusbank af die ketel aanskakel of die waaier aansit met die krag van jou stem.

Die toestelle moet egter ook gekoppel word om van die tegnologie gebruik te maak. Daar is reeds muurproppe en ander tegnologie beskikbaar wat enige toestel deur middel van Bluetooth of Wi-Fi kan koppel om te verseker dit is deel van die sogenaamde “internet van dinge” (IoT) en dus van ʼn sentrale toestel af beheer kan word.

Volgens Joubert is die jongste neiging rakende televisie die verpersoonliking van tegnologie. “Kunsmatige intelligensie en stembeheer sal steeds die belangrikste neigings wees in die nuwe jaar. Skyworth was die eerste handelsmerk om vroeër vanjaar kunsmatige intelligensie in televisies beskikbaar te stel en hierdie TV-reeks ondersteun ook Google Assistant en ander slimhuis-toestelle soos Amazon Alexa, wat jou TV die beheersentrum van jou huis maak.”

Joubert het ook verder gesê 4K-tegnologie sal binnekort die standaard wees wanneer dit kom by TV kyk. “Die meeste platskerm-TV’s is hoë definisie, maar 4K, ook bekend as ultra-HD, is vinnig besig om die standaard te word. En vir goeie rede: 4K het vier keer soveel pieksels as 1080p HD.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Judge Dredd ·

…soek ‘n TV wat self posisie verander as vroulief besluit om voor die tv te staan…….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.