Tyd om kennis te neem van Bitcoin

Argieffoto (Foto: CoinDesk)

Deur Appie Pienaar

Die ondersteuners van Bitcoin en ander virtuele geldeenhede glo dis die toekoms van geld en van bankwese. Teenstanders daarvan glo dis ’n bose uitvindsel wat internasionale misdaad aanmoedig. Ongeag wat ons dink en voel oor Bitcoin – dis ’n werklikheid en waarskynlik hier om te bly. Dit is dus tyd dat elke individu kennis neem van Bitcoin en soortgelyke kripto-geldeenhede. Die woord “kripto” beteken letterlik “weggesteek. Daar is tans ’n paar honderd kripto-geldeenhede waarvan Bitcoin die belangrikste is.

Wat is Bitcoin?

Bitcoin is ’n gedesentraliseerde, virtuele geldeenheid. Met die term “gedesentraliseer” bedoel ons dat die geldeenheid nie êrens deur ’n sentrale owerheid, soos ’n bepaalde land se reserwebank, beheer word nie. Die term “virtueel” dui aan dat die geldeenheid binne die domein van die internet funksioneer.

Bitcoin bestaan sedert Januarie 2009, toe die netwerk ontstaan het met die uitreik van die eerste blok Bitcoin aan Satoshi Nakamoto. Laasgenoemde is waarskynlik ’n skuilnaam van die eerste persoon wat Bitcoin geskep of gemyn het.

Hoe ontstaan Bitcoin?

Bitcoin is stukkies rekenaarkode wat met wiskundige algoritmes geskep kan word. Die proses word vergelyk met die myn van grondstowwe, en daarom word die term “myn” ook gebruik vir die skep van nuwe Bitcoin. Aanvanklik is dit maklik om ’n grondstof soos goud te myn omdat dit taamlik naby aan die oppervlakte van die aarde lê. Gaandeweg moet dieper gemyn word en raak die proses duurder. Die skep van Bitcoin werk op dieselfde beginsel. Dit raak daarom al moeiliker en duurder om nuwe Bitcoin te skep. In totaal is daar sowat 21 miljoen Bitcoin beskikbaar, waarvan sowat 80% reeds gemyn en in omloop is.

Argieffoto (Foto: CoinDesk)

Is Bitcoin totaal anoniem en onopspoorbaar?

In teenstelling met die algemene opvatting, is Bitcoin in heelwat lande opspoorbaar. In Suid-Afrika word van persone wat Bitcoin verhandel, verwag om hul identiteitsnommers en fisiese adres bekend te maak indien hulle meer as sekere hoeveelhede Bitcoin per maand wil verhandel.

Hoe verhandel mens Bitcoin?

Daar bestaan verskeie webblaaie waardeur Bitcoin aangekoop kan word. ’n Baie gewilde Suid-Afrikaanse webblad is luno.com (https://www.luno.com) waar Bitcoin in Suid-Afrikaanse rand verhandel word.

Dit is verbasend maklik om Bitcoin te verhandel. Mens registreer eenvoudig op ’n webblad soos luno.com, en ontvang dan ’n beursie (“wallet”), wat ’n unieke rekening is waarin jou geld veilig bewaar kan word. Daar bestaan dan ’n opsie om ’n bedrag in rand uit ’n gewone bankrekening in die beursie te deponeer. Sodra die deposito in jou beursie vertoon word, kan mens transaksies op ’n Bitcoin-beurs (“exchange”) begin doen. Die beursie kan op dieselfde tyd rand en Bitcoin hou.

Die Bitcoin-beurs funksioneer op dieselfde beginsel as die JSE-effektebeurs, met ander woorde die prys van Bitcoin, soos in die geval van aandele, word deur vraag en aanbod bepaal. Die Bitcoin-beurs het egter geen handelsure soos die JSE-effektebeurs nie. Dit is aanlyn en mens kan enige tyd van die dag of nag transaksies doen. Die waarde van Bitcoin in Suid-Afrika word grootliks deur die Bitcoin-prys in dollar en die rand/dollar-wisselkoers bepaal.

Bitcoin as betaalmiddel

Daar bestaan reeds duisende maatskappye wêreldwyd wat Bitcoin as geldige betaalmiddel aanvaar, waarvan Takealot waarskynlik die bekendste in Suid-Afrika is. Bitcoin kan met groot gemak na ander entiteite of individue se beursies oorgedra word deur die uitruil van adresse van die onderskeie partye.

Wat is die waarde van Bitcoin?

Bitcoin verhandel tans (Julie 2017) teen sowat R36 000 per Bitcoin. Omdat die waarde so hoog is, kan mens in desimale van Bitcoin handel dryf. Dit is byvoorbeeld moontlik om slegs 0,001 Bitcoin op ’n keer aan te koop.

*Hierdie artikel het oorspronklik in die Solidariteit Tydskrif verskyn en word met vergunning op Maroela Media gepubliseer.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Geldsake, Meningsvormers, Tegnologie

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Ian ·

R36000 n Bitcoin? Probeer gister se R58000. Hierdie is seker n ou berig.

Mercy ·

Daar is ander ” exchange platforms” wat goedkoper bitcoin verhandel as luno en altcoin. EK gebruik graag local bitcoin.com.
Luno se transaksie kostes is baie hoog, gemiddeld 35% hoër as ander platforms
hoewel luno voordeel bied vir suid afrikaners om hul
SA BANKREKENINGS direk te Koppel aan Luno rekening , dus kan jy direk btc in luno rekening oorplaas na persoonlike fnb/ standardbank/ absa rekening wat gekoppel is, daar is transaksie kostes.
Suid Afrikaners kan ook aansoek doen vir crypto pre paid krediet kaarte, kaarte kan gebruik word by enige onderneming waar kaarte aanvaar word, selfs om kontant by enige atm onttrek.
Crypto kaartkostes/fees is laer as sa bankkostes, gemiddeld $1 per maand ( hoogstens R15 per maand wat nie vergekyk kan word met gewone bankkostes nie).

Ek lief bitcoin

Klaas ·

Ek was self een van die gelukkiges wat op aanbeveling van ñ vriend in 2015 drie Bitcoins gekoop het teen R3000.00 een. Ek kon dit verlede maand verkoop teen R58000.00 per Bitcoin . Daar is vele ander kripto geldeenhede maar wees versigtig. Die mark is ontstuimig en die goue reël is: Moet nie meer belê as wat jy bereid is om te verloor nie.

Liesl du Toit ·

Ek wil weet wat as jy besluit jy wil dit verkoop. Gestel nou maar jou Bitcoins het gegroei tot R100 000 van die aankoopprys van R3500 af, Kry jy dan fisies kontant in jou rekning terug of hoe werk dit?

Pietman ·

Liesl, as jy wil verkoop dan moet jy dit weer verhandel op ‘n exchange soos Luno of Altcointrader. Dit beteken jy kan sê jy wil jou Bitcoin teen ‘n bepaalde prys verkoop, en dan soek die website weer ‘n koper wat ‘n aanbod ingesit het om Bitcoin te koop teen ‘n bepaalde prys. Dan vind die transaksie plaas en sy Rande word vir jou Bitcoin verruil. Die exchange betaal die rande terug in jou bankrekening

Emile K(ice3x) ·

Gebruikers veruil bitcoin vir Rand op die beurs. Die prys word beinvloed deur die $ waarde maar word nie bepaal daardeur nie aangesien die lokale mark suiwer vraag en aanbod is. Dit is byvoorbeeld nie moontlik om Bitcoin opr ICE3X te verkoop en Dollar te ontrek nie, en andersom. Bitcoin kan nie ekonomies “ontgin” word in Suid Afrika op skaal nie.

naam ·

Bitcoin het kliphard geval die laaste paar dae, sedert China aangekondig het dat hulle Bitcoin-Yuan verhandeling wil onwettig verklaar. Gelukkig is China nie meer die dominerende rolspeler in Bitcoin nie, sedert gebruik in regte markte sterk begin optel het en affekteer dit myns insiens nie die langtermynwaarde van Bitcoin nie.

Die tweede nekslag, wat die prys afgedryf het na die huidige R45,000 (kyk hier: https://luno.com/trade/XBTZAR ) is die aapstert in beheer van die Amerikaanse JPMorgan Chase bank, wat die stelling gemaak het dat hy enige van sy personeel wat hy vang handel dryf met bitcoin summier sal afdank. Sy manlikheid moes seker ‘n knou gekry het oordat hy nie ‘n posisie gehad het sedert die begin van die jaar nie, want hy kon in retrospek sy geld versesdubbel. Klink beslis soos suur druiwe.

Daar is interessante bekgevegte aan die gang oor hierdie aangeleentheid op die internet tussen voorstaanders en teenstaanders.

Die enigste vreemde ding is hoe emosioneel die markte kan reageer op hierdie kommoditeit. Dis eintlik hartseer om te sien.

Luno se prys is altyd so effens duurder as suiwer dollar prys maal wisselkoers, aangesien Suid-Afrikaners koopdruk uitoefen en ons eie mark opdryf. “Arbitrage” begin die moeite werd raak hier by ‘n 10% prysdifferensiaal, kostes en risiko ingesluit, daarom styg dit nie loshande weg van die dollarprys af nie.

As jy bitcoins het om te verkoop, is nou nie ‘n goeie tyd nie. Wag so maand of drie, dan behoort die prys weer rekords te breek.

Middie ·

Sê nou Ek het ‘N R1000 om op Bitcoin te “waag”. Waar begin Ek?

Appie ·

Middie, besoek http://www.luno.com en open ‘n rekening.

Terloops, hierdie artikel is reeds in Julie geskryf. Intussen het die prys opgegaan na byna R70,000, en weer geval na R45,000. Gordel dus maar vas!

Gert ·

Mense julle is gulsig bly eers vir n tyd weg van bitcoin af , hy gaan erg val , wees gewaarsku .

SARIE VAN HEERDEN ·

Pasop vir ‘n Bubble. Met Sharemax het almal geglo hul skip het ingekom en ek weet van iemand wat ALLES daarin bele en ALLES verloor het en toe maar ‘n koeel deur sy kop gestuur het. Pasop as ‘n storie te waar klink om werklik te wees en moenie gulsig wees nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.