Verbruikersake: As kuberkrakers jou inligting het

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Suriyawut/Vecteezy)

Kuberkrakers het weer hul hande op Suid-Afrikaners se persoonlike inligting gelê toe hulle na bewering toegang gekry het tot die rekords van die kredietburo TransUnion. Die kuberkrakers dreig nou om die inligting van omtrent 54 miljoen Suid-Afrikaners openbaar te maak as TransUnion nie ʼn losprys van $15 miljoen (R223 miljoen) betaal nie. Sê nou ons almal se inligting beland in die openbaar? Ina Opperman verduidelik wat jy kan en moet doen om jouself te beskerm teen identiteitsdiewe wat jou besonderhede wil gebruik om jou geld te steel.

Die groep kuberkrakers, wat hulself N4aughtysecTU noem en blykbaar in Brasilië is, beweer hulle het inligting oor Suid-Afrikaners wat hul bankbesonderhede en ID-nommers insluit en dit is wat dit so gevaarlik maak – hulle kan jou ID-nommer en bankbesonderhede gebruik om geld uit jou bankrekening te verduister of om rekeninge in jou naam te open waarvoor jy moet betaal, al het jy nie die goedere wat gekoop is nie.

“Hierdie kommerwekkende nuus is ʼn verdere aanduiding dat elke maatskappy wat verbruikers se persoonlike inligting hou, ʼn moontlike teiken is. Verbruikers het dringend nog ʼn laag beskerming nodig op hul identiteit om hulle te beskerm teen misdadigers wat hul lewe wil omkeer sonder om twee keer te dink,” sê Manie van Schalkwyk, hoof van die Suider-Afrikaanse Bedrogvoorkomingsdiens (SAFPS).

As mens kyk na hoeveel kuberaanvalle daagliks plaasvind, sien jy hoe groot die risiko is: daar is elke dag 17 miljard kuberaanvalle oor die hele wêreld, maar nie almal is suksesvol nie.

Kuberaanvalle in Suid-Afrika

Suid-Afrikaners het oor die afgelope twee jaar dikwels aangemeld dat hulle die slagoffers van kuberaanvalle was en sommige van hierdie aanvalle is gedoen om verbruikers se persoonlike inligting te steel.

Geen organisasie is immuun teen kuberaanvalle nie en selfs die departement van justisie was onlangs die slagoffer van ʼn kuberaanval. In ʼn ander kuberaanval by Debt-IN Consultants, ʼn professionele skuldinvorderaar, het ʼn kuberaanval daartoe gelei dat ʼn aansienlike hoeveelheid persoonlike inligting van meer as 1,4 miljoen verbruikers en werknemers gesteel is.

“Kuberaanvalle neem wêreldwyd toe en Suid-Afrika het ʼn ongelooflike toename in die aantal kuberslagoffers gehad,” sê Dalene Deale, uitvoerende hoof van Secure Citizen, wat gestig is deur die SAFPS and OneVault in reaksie op die vinnige toename in identiteitsdiefstal weens aanlyn bedrog.

Die risiko raak al hoe groter

“Bedrieërs diskrimineer nie. Namate die gemeenskap voortdurend beweeg na die instelling van die digitale (en nog belangriker, ‘kontaklose’) era, word die platform vir bedrog al hoe groter. Bedrog is ʼn bedrieër se onderneming en hulle gebruik dikwels dieselfde saketaktiek wat ons in regmatige ondernemings gebruik. Die enigste verskil is dat hulle nie kliënte het nie, maar slagoffers,” sê Deale.

Weens die vermeerdering van kuberaanvalle is bedrieërs nog meer gemotiveerd en gewapen met die regte inligting kan hulle beslis voorgee om jy te wees. Die uitwerking hiervan is katastrofies,” sê Deale.

Van Schalkwyk is baie bekommerd oor die aanval by TransUnion omdat die rekords van 54 miljoen mense nou in die gedrang is. “In ʼn land waar identiteitsdiefstal reeds algemene praktyk is, is dit baie kommerwekkend. Dit is van kritiek noodsaaklike belang vir verbruikers om nou op te tree voordat beduidende bedrog namens hulle plaasvind.”

Die vorige groot kuberaanval was in 2020, toe kuberkrakers toegang gekry het tot 20 miljoen rekords by Experian, ook ʼn kredietburo. Die SAFPS het toe gesien dat klagtes van identiteitsdiefstal met 300% gestyg het.

Digitale beskermingsregistrasie

Digitale beskermingsregistrasie wat deur Secure Citizen gedoen word, is een van die belangrikste dienste wat die SAFPS lewer. Dit is ʼn gratis diens wat mense beskerm teen identiteitsdiefstal. Verbruikers kan aansoek doen om die diens en die SAFPS laat dan sy lede weet dat hulle bykomende veiligheidsmaatreëls moet gebruik wanneer hulle met jou besonderhede werk.

Die digitale beskermingsregistrasie gee jou daardie bykomende lagie beskerming wat jy nodig het sodat jy gerus kan wees al is jou inligting bekend. “Verbruikers kan registreer en vandag al iets doen om te keer dat bedrieërs wegstap met hulle swaarverdiende geld. Net jy moet jou identiteit kan gebruik,” sê Deale.

Van Schalkwyk voeg by dat dit belangrik is vir die gemeenskap om te beweeg na ʼn wêreld wat beskerming teen bedrog bied voordat iets gebeur. “Ons moet verbruikers beskerm en dit moet proaktief gedoen word. Ons kan nie altyd reaktief optree teen bedrog nie.”

Lede van die publiek wat voorkomend wil optree in die geveg teen bedrog kan op die SAFPS staatmaak vir hulp.

Hoe om te registreer

Besoek die webwerf by www.safps.org.za en klik op “fraud prevention”. Nou kan jy registreer en jouself beskerm teen identiteitsdiefstal.

Verbruikers word aangeraai om hul slimfone te gebruik om te registreer vir die beste resultate.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Johan SA

Altyd die publiek wat moet optree, teen goed wat hulle nooit wou hê nie…