Verbruikersake: Noudat ons almal aanlyn koop

aankope-aanlyn-internet

Foto: Negative Space/Pexels.com

Covid-19 het ons almal se lewe onderstebo gekeer en almal praat nou van die nuwe normaal. ’n Deel van hierdie nuwe normaal is om uit die winkelsentrums weg te bly en aanlyn inkopies te doen. Jy kan nou alles – van ’n wasmasjien of yskas tot boeke en kos – aanlyn koop en dit laat aflewer. Daar is egter, net soos met alle verbruikerstransaksies, vangplekke waarvoor jy moet ligloop. Ina Opperman gee raad oor hoe jy kan seker maak dat jou virtuele inkopietogte glad verloop.

Suid-Afrikaners was aanvanklik maar lugtig vir aanlyn koop in die jare toe dit nog ’n nuutjie was, maar tydens afsondering het baie verbruikers geleer hoe om uit hul leunstoele inkopies te doen. En al is aanlyninkopies deesdae veiliger, moet jy nog steeds ligloop om seker te maak jy stuur nie net geld aan sonder om jou goedere te ontvang nie.

Goedere wat nie afgelewer word nie, geld wat nie terugbetaal word nie, goedere wat nie pas by die beskrywing nie en goedere van swak gehalte is die aanlyn probleme waaroor verbruikers die meeste kla.

Volgens navorsing oor aanlyninkopies in Suid-Afrika van World Wide Worx, wat verlede jaar gepubliseer is, is geskat dat aanlyninkopies in 2019 1,4% van Suid-Afrika se totale kleinhandelverkope sou uitmaak, gegrond op die geskatte R1-triljoen (trillion) wat in 2018 aanlyn bestee is, terwyl dit na raming 2% sal bereik teen 2022.

Na raming sou aanlyn verkope teen vanjaar meer as verdubbel het tot byna R20 miljard, ’n jaar vroeër as verwag. Daar is geen twyfel dat daardie syfer met die huidige inperking nog hoër sal wees nie. Die navorsing het bevind dat daar vir die eerste keer ’n groter verskeidenheid ondernemings in die bedryf is betreffende kategorie, grootte, omset en aantal werknemers.

Met al hierdie geld wat bestee word aan aanlyninkopies, moet verbruikers dus verseker dat hulle waarde vir hul geld kry. Die eerste stap om te verseker jy kry waarde vir jou geld, is om seker te maak die transaksie voldoen aan die vereistes van die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies en die Wet op Verbruikersbeskerming.

Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies

Volgens hierdie wet moet die onderneming se webwerf die volgende inligting gee:

  • Die onderneming se volle naam en regstatus, straatadres, telefoonnommer en e-posadre;
  • Hoe jy kan betaal met ’n krediet- of debietkaart of direk met ’n elektroniese oorplasing na die onderneming se bankrekening, met volle bankbesonderhede vir elektroniese oorplasings;
  • Wanneer jou produkte afgelewer word;
  • Die beleid oor produkte wat teruggestuur of omgeruil word. (Jy kan nie goedere ondersoek voordat jy koop nie en daarom is dit belangrik om seker te maak jy kan goedere waarmee jy ontevrede is, terugstuur om jou geld terug te kry of die produk om te ruil);
  • Hoe terugbetalings gedoen word en hoe gou dit gebeur. (Die beleid is gewoonlik dat jou geld terugbetaal word in die rekening waaruit jy betaal het, sodra die maatskappy die teruggestuurde produk ontvang); en
  • Wat die maatskappy doen om jou persoonlike inligting te beskerm wat jy goedertrou gee. (Dit sluit jou ID-nommer en kredietkaartbesonderhede in en moet beskerm word teen kuberkrakers en ander e-skurke).

Onthou:

  • ’n Facebook-blad is nie ʼn webtuiste nie en voldoen dus nie aan die vereistes van die Wet nie.
  • Die faktuur moet die volledige prys van die produk aandui en dit moet vervoerkoste, belasting en enige ander kostes insluit.
  • Jy moet ook die geleentheid kry om die elektroniese transaksie te hersien.
  • Wees versigtig vir ondernemings wat vra dat jy geld in ’n spesifieke persoon se rekening inbetaal en nie in ’n onderneming se rekening nie. ’n Onderneming wat reg bedryf word, sal nie van jou verwag om geld in ’n individu se rekening in te betaal nie.

Wet op Verbruikersbeskerming

Artikel 18 bepaal dat jy die reg het om goedere te kies of na te gaan. As jy die goedere net op grond van ’n beskrywing koop, moet dit wesenlik ooreenstem met dit wat ’n gewone en waaksame verbruiker op grond van die beskrywing kon verwag.

Artikel 19 bepaal die onderneming is verantwoordelik daarvoor om goedere binne ʼn redelike tydperk af te lewer, tensy anders ooreengekom. As jou bestelling nie betyds aflewer word nie, kan jy dus die transaksie kanselleer.

Artikel 20 bepaal dat jy die reg het om goedere terug te gee:

  • binne tien werksdae as jy dit nie self kon nagaan voordat jy dit gekoop het nie;
  • as die verkeerde goedere gestuur i;
  • as jy van die goedere wat afgelewer is, nie bestel het nie; of
  • as dit nie geskik is vir die doel waarvoor jy dit gekoop het nie.

Die maatskappy moet dan die koste dra om dit terug te stuur, asook die risiko. As jy nog nie die produk uit die verpakking gehaal het nie, moet die volle bedrag wat jy betaal het, aan jou terug betaal word, maar as jy het, kan die maatskappy ’n redelike bedrag aftrek om die produk weer te verpak, tensy jy dit moes uithaal om dit na te gaan.

Artikel 41 bepaal dat maatskappye nie valse, misleidende of bedrieglike voorstellings mag maak nie. Dit beteken dat valse, misleidende of bedrieglike voorstellings oor wesenlike feite van die produk nie gemaak of geïmpliseer mag word nie. Oordrywing, insinuasie of dubbelsinnigheid en die versuim om ’n wesenlike feit bekend te maak, word ook nie toegelaat nie. Die maatskappy mag ook nie aandui dat die produk bestanddele, kenmerke, bybehore, nut, voordele, gehalte of goedkeuring, ’n bepaalde standaard, gehalte, graad, styl of model is, nuut of ongebruik is, as dit nie die geval is nie.

Artikel 47 bepaal ook dat ʼn onderneming nie jou geld mag aanvaar as hy nie beplan om die bestelling af te lewer nie. Indien die voorraad op is, moet die maatskappy jou geld terug betaal.

Artikel 55 bepaal dat dit jou reg is om veilige goedere van goeie gehalte te kry. Dit moet geskik wees vir die doel waarvoor dit bedoel is en van goeie gehalte, in goeie werkende toestand en vry van enige defekte en vir ’n redelike tydperk bruikbaar en duursaam wees. Dit moet ook aan enige toepaslike standaarde kragtens die Wet op Standaarde voldoen.

Artikel 56 bepaal dat alle goedere ’n versweë waarborg van gehalte het. Jy kan goedere binne ses maande aan die verskaffer teruggee op die verskaffer se onkoste en risiko, indien dit nie aan die vereistes en standaarde in artikel 55 voldoen nie en die maatskappy moet dit herstel of vervang of jou geld terug betaal.

Kla hier

Verbruikers kan kla by die Nasionale Verbruikerskommissie of provinsiale kantore vir verbruikersake oor aanlyninkopies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marius ·

Plaas bestelling van R1599 by Takealot. Hulle laat my ‘n week later weet dat produk nie meer beskikbaar is nie. Nou het ek ‘n “krediet” by hulle om iets anders te koop, hulle betaal nie my geld terug nie. Klassieke “bait & switch” bemarking

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.