Verbruikersake: Oppas vir identiteitsdiewe

data-digitaal-rekenaar-brille

(Foto: Kevin Ku/Pexels)

Dit is deesdae meer as ooit belangrik om jou identiteit te beskerm deur te sorg dat jou persoonlike inligting nie toeganklik is vir skelms wat dit kan gebruik om jou bankrekening leeg te maak of rekeninge in jou naam te open waarvoor jy dan moet pa staan nie. Maroela Media het berig dat sowat 24 miljoen Suid-Afrikaners se persoonlike inligting het onlangs uitgelek by die kredietinligtingsagentskap Experian, toe dit aan iemand beskikbaar gestel is wat nie veronderstel was om dit te kry nie. Ina Opperman gee raad oor hoe om jou inligting te beskerm en seker te maak jy val nie vir skelmstreke van iemand wat dalk nou jou inligting het nie.

Experian het die databreuk aangemeld by die owerhede en die toepaslike reguleerders. Volgens die Suid-Afrikaanse Bankrisikosentrum (Sabric) werk die sentrum saam met die banke en Experian om te kyk watter kliënte geraak word. Sabric sê Suid-Afrikaanse banke neem die sekuriteit van hul kliënte baie ernstig op en het verskeie strategieë in werking gestel om moontlike bedrog op te spoor en hul kliënte te beskerm.

Wat beteken dit vir jou as verbruiker?

“Wanneer jou persoonlike inligting uitlek, kan dit geleenthede vir misdadigers skep om jou identiteit te gebruik, maar dit waarborg nie toegang tot jou bankprofiel en -rekeninge nie. Misdadigers kan egter hierdie inligting gebruik om jou om te praat om jou vertroulike bankbesonderhede te gee,” sê Nischal Mewalall, hoof van Sabric.

Wat kan jy doen?

As jy vermoed dat iemand jou persoonlike inligting in die hande gekry het, moet jy dadelik aansoek doen vir ’n gratis “Protective Registration” by die Suider-Afrikaanse Bedrogvoorkomingsdiens (SABVD). Hierdie diens waarsku al die SABVD-lede, wat banke en kredietverskaffers insluit, dat jou persoonlike inligting uitgelek het en dat hulle ekstra versigtig moet wees om seker te maak hulle doen sake met jou en niemand anders wat voorgee om jy te wees nie. Jy kan aansoek doen vir die Protective Registration deur ’n e-pos te stuur aan die diens by [email protected].

Beskerm jou identiteit

Sabric en SABVD moedig verbruikers aan om hul persoonlike inligting op te pas om die risiko te verklein dat skelms hul inligting kan gebruik om bedrieglike aansoeke in hul naam in te dien.

“Dink aan jou persoonlike inligting asof dit kontant is. Hou dit veilig te alle tye, want as dit eers uitlek, kan enigiemand dit enige tyd gebruik om te maak asof hulle jy is,” sê Manie van Schalkwyk, hoof van SABVD.

Wat is persoonlike en vertroulike inligting?

Persoonlike inligting sluit in jou identiteitsdokument, rybewys, paspoort, adres en kontakbesonderhede. Vertroulike inligting sluit in gebruikersname, wagwoorde en persoonlike identifikasienommers (PIN).

Wat kan skelms daarmee doen?

Skelms kan jou persoonlike inligting gebruik om jou identiteit aan te neem en rekeninge te open by banke en winkels. Hulle kan selfs jou versekeraar, mediese fonds en Werkloosheidsversekeringsfonds bedrieg of maak asof hulle jy is en toegang kry tot jou bankrekeninge en transaksies doen.

Doen dit so

Aangesien mens nie sommer jou persoonlike inligting, soos jou identiteitsnommer en adres kan verander nie, beveel Sabric aan dat jy die volgende voorkomende stappe doen wanneer iemand vir jou inligting vra vir sekuriteitsmagtiging-doeleindes:

  • Moenie enige inligting gebruik wat dalk uitgelek is nie. Gebruik liewer persoonlike inligting wat jy nog nie voorheen gebruik het nie om in die toekoms te bevestig wie jy is.
  • Kry ’n nuwe e-posrekening.
  • Gebruik tweeledige toestemming vir alle finansiële produkte en rekeninge.
  • Registreer vir tekskennisgewings om jou te laat weet wanneer iemand toegang kry tot jou rekeninge.
  • Laat gereeld jou kredietprofiel nagaan om te sien of iemand namens jou vir krediet aansoek gedoen het en indien dit gebeur het, stel dadelik die kredietverskaffer in kennis.
  • Ondersoek en registreer vir kennisgewings by kredietburo’s dat iemand met jou besonderhede aansoek doen vir krediet.
  • Gaan gereeld jou bankstate na.

Pas jou persoonlike inligting so op

  • Moenie persoonlike inligting, soos wagwoorde, vir iemand gee wat jou kontak nie, hetsy telefonies, per faks, teksboodskap of selfs e-pos.
  • Verander gereeld jou wagwoord en moenie dit vir iemand anders gee nie.
  • Maak seker wie dit is wat jou persoonlike inligting aanvra en gee dit net as jy doodseker is dat daar ’n goeie rede daarvoor is.
  • Moenie onnodig persoonlike inligting in jou beursie hou nie.
  • Moenie jou wagwoorde en PINs neerskryf nie en moenie geboortedatums en name gebruik in jou wagwoorde en PINs nie.
  • Moenie banksake doen by internetkafees of onveilige terminale nie.
  • Gebruik sterk wagwoorde vir al jou rekeninge.
  • Sluit jou persoonlike dokumente veilig toe.
  • Wanneer jy dokumente met persoonlike inligting weggooi, versnipper of verbrand dit.
  • Maak seker dat jy goeie virusbeskerming gebruik om seker te maak ’n virus kan nie jou besonderhede van jou rekenaar af stuur nie.
  • Meld diefstal van jou identiteitsdokument, paspoort of rybewys dadelik by die polisie aan.
  • Om te keer dat jou identiteit gebruik word om bedrog te pleeg wanneer dit gesteel word, laat dadelik die SABVD weet by 0860 101 248 of by safps.org.za.

Verdere inligting:

Besoek die sentrum by www.sabric.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Pieter ·

Wat van RICA? Waar kan ‘n mens uitvind watter selfoonnommers onder my naam geregistreer is?

Toe ek laas ‘n nuwe starter pack uitneem en laat registreer, merk ek later op daar is ‘n ekstra een by die registrasie rekenaar wat later weer verdwyn.

Hennie ·

Die probleem hier is dat die Instansie wat veronderstel was om jou persoonlike data te beskerm die pap op die vloer laat val het. Nou a.g.v hulle is die gebruiker se data in die hande van kriminele en die gebruiker moet alweer sorg dat sy/haar inligting veilig bly. As ‘n persoon gaan oplees op iAfrikandotcom oor watter inligting alles verkry is deur hierdie data-lek sal jou hare regop staan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.