Video: Nuwe app laat siende mense blindes help om te ‘sien’

Foto: Be My Eyes

Foto: Be My Eyes

Die Be My Eyes-app maak die lewe baie makliker vir ʼn blinde persoon, deur hulle met ʼn video te verbind aan enigiemand wat siende is indien hy vinnig wou weet wat is die vervaldatum van die melk in sy yskas, of watter blikkieskos beskikbaar is.

Siende persone laai die “Be My Eyes”-app af en stel hulleself dan as vrywilligers beskikbaar om enige blinde persoon te help. Die slimfoon-app maak ʼn video-verbinding oop sodat die siende persoon dadelik kan kyk waarmee die blinde persoon sukkel.

John Heilbrunn, adjunkvoorsitter van die Deense Vereniging vir Blindes, het gesê die app is ʼn wonderlike geleentheid om hulp van ʼn hele netwerk van vrywilligers te ontvang. “Dit is nou moontlik om hulp te kry wanneer dit dalk ongeleë is om ʼn buurman of vriende te vra vir hulp,” het hy gesê.

Hans Jørgen Wiberg (50), die uitvinder van die app, het begin blind word toe hy 25 jaar oud was. “Ek hoop dat die app die lewe vir blinde persone makliker sal maak,” het Wiberg gesê. “Dit is ook ʼn maklike manier vir ʼn vrywilliger om ʼn blinde persoon te help. Dis neem net ʼn paar minute van jou tyd.”

Die app stuur ʼn kennisgewing indien ʼn blinde persoon jou hulp benodig. Indien jy nie kan help nie, is daar ʼn hele groep ander vrywilligers wat ook dieselfde kennisgewing ontvang het. ʼn Siende persoon hoef dus slegs te help wanneer dit geleë is.

Byna 128 000 siende persone het reeds die app afgelaai, byna 11 500 blinde persone gebruik reeds die app en blinde persone het al meer as 34 000 keer hulp deur die app ontvang.

Die app is gratis beskikbaar op die Apple App Store.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.