Video: Vlieënde verligting vir verkeersknope  

Wyl die meeste maatskappye se planne waarskynlik tot wetenskapsfiksievoorstellings op papier beperk sal bly, beplan uSky om mense binnekort én blitsig in lugpeule (sky pods) bo die woestynstof en stadsrumoer te laat reis. (Foto: uSky)

Is dit ’n kar of ’n komeet? Nee, dis ’n kapsule, oftewel uSky Transport se vlieënde vervoermiddel wat beloof om binnekort verligting vir vlugflouheid én verkeerskopsere in verskeie lande te bring.

Met talle lande wat al hoe meer maatreëls en mikpunte instel om hul koolstofvoetspoor te verklein en aardverwarming teen te werk, word daar in alle erns geskarrel om enersyds die produksie van groener wiele soos elektriese motors en motorfietse aan te vuur en andersyds alternatiewe vervoermiddels te ontwikkel wat pendelaarsfrustrasie op ’n omgewingsvriendelike wyse verminder. Verkeersligte wat met kunsmatige intelligensie toegerus is om verkeersvloei meer vaartbelyn te maak, is voorts in aantog.

Wyl die meeste maatskappye se planne waarskynlik tot wetenskapsfiksievoorstellings op papier beperk sal bly, beplan uSky om mense binnekort (so vroeg soos 2023) én blitsig (teen 150 km/h) in lugpeule (sky pods) bo die woestynstof en stadsrumoer te laat reis.

Die luukse binneruim van uSky se passasierspeule. (Foto: uSky)

Sy 400 m lange toetsspoor in Sharjah in die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) bied ’n opwindende blik op wat moontlik is. Dis allermins lugkastele, sê die maatskappy, wat ook soortgelyke tegnologie ontwikkel om vraghouers te vervoer. Dié vraghouers sal met ’n maksimum drakrag van 48 ton teen ’n topsnelheid van 90 km/h beweeg.

Volgens uSky kos dit tot $150 miljoen om ’n kilometer lange ondergrondse spoorlyn te bou, teenoor sy spoedstelsel se $10 miljoen. Benewens die besparing in oprigtingskoste vanweë minder boumateriaal, word koolstofbesoedeling se draad kortgeknip.

Hoewel Richard Branson ook sy oog op die innoverende en vindingryke VAE het met sy Virgin Hyperloop, wat soos die wêreld se huidige spoorspoedkampioen van magnetieselevitasie-tegnologie (Maglev) gebruik maak, beplan uSky om benewens Dubai en die res van die Midde-Ooste sy visier veral op die digbevolkte Asië te stel.

uSky beplan om reeds vanjaar ’n 2,4 km lange spoor in Sharjah te bou. (Foto: uSky)

uSky beplan om reeds vanjaar ’n 2,4 km lange spoor in Sharjah te bou, sodat hy kan demonstreer hoe passasiers- én vragpeule teen hoë snelhede op dieselfde vervoernetwerk geïntegreer kan word.

Volgens Hussain Al Mahmoudi, uitvoerende hoof van die Sharjah Research Technology and Innovation Park, waar uSky se toetslyn geleë is, is die droom dat lugpeule die VAE se strategie om ’n volhoubare, futuristiese spilpunt te word, sal versterk.

Oleg Zaretskiy, grootbaas van die Russiese uSky, het aan CNN gesê dié omgewingsvriendelike vervoermiddel sal meer stedelike parke en voetpaadjies moontlik maak, iets wat ’n broodnodige asemteug vir stede sal wees wat al hoe meer steier onder ’n swaar bevolkings- en gebrekkige vervoerinfrastruktuurlas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Kokerboom

Tegnologie ontwikkeling laat mens na jou asem snak!!