Virtuele kaart vir transaksies op WhatsApp

aankope-aanlyn-internet

Argieffoto (Foto: Negative Space/Pexels.com)

Telkom het pas Afrika se eerste Mastercard- virtuele kaart bekendgestel wat gebruik kan word op WhatsApp. Telkom Pay-kliënte kan nou met dié kaart aanlyn betalings doen.

Hierdie stap sal na verwagting miljoene Suid-Afrikaners, selfs die mense sonder ʼn bankrekening, toegang tot die digitale ekonomie en aanlyn transaksies gee.

Telkom Pay, wat in 2020 van stapel gestuur is, is ʼn beursie vir digitale betalings wat gebruikers in staat stel om betalings met WhatsApp per selfoon te doen en te ontvang. Met die toevoeging van die virtuele kaart vir die beursie, kan gebruikers nou betalings doen aan plaaslike en internasionale aanlyn handelaars soos onder meer Uber en Netflix, wat Mastercard aanvaar.

“Ons is trots daarop om die eerste stap te waag om ʼn virtuele kaart deur WhatsApp op die vasteland bekend te stel. Dit verseker groter finansiële insluiting deur bekostigbare produkte en dienste wat vir almal voorsiening maak. Die diens is maklik en toeganklik op enige mobiele toestel,” het Sibusiso Ngwenya, Telkom se bestuurshoof vir finansiële dienste, gesê.

Telkom se besluit om virtuele kaarte deel van sy Telkom Pay WhatsApp-diens te maak, is die gevolg van noue samewerking tussen Mastercard, Nedbank en die finansiële tegnologiemaatskappy Ukheshe Technologies.

Suzanne Morel, streeksbestuurder vir Mastercard in Suid-Afrika, het bygevoeg dat die uitbreiding van Telkom Pay se dienste ʼn belangrike stap vorentoe is om toegang tot die digitale ekonomie te verbeter.

“Suid-Afrikaners doen toenemend inkopies aanlyn, maar baie mense word uitgesluit omdat hulle nie die finansiële instrumente het wat nodig is vir e-handel nie. Hierdie digitale oplossing oorbrug die skeiding deur verbruikers direkte toegang tot ʼn virtuele betalingsoplossing via WhatsApp te gee, sonder om die veiligheid en sekuriteit van transaksies in gevaar te stel.”

(Foto: Verskaf)

Telkom se virtuele Mastercard-kaart vir WhatsApp gee kliënte die buigsaamheid om veilig en gerieflik net met hul slimfoon en die Telkom Pay-app te koop. Kopers skep eenvoudig ʼn virtuele kaart op hul profiel, koppel dit aan hul digitale beursie en dra geld oor van hul beursie na die kaart.

Om hul aankope te betaal, ontvang gebruikers ʼn virtuele voorafbetaalde kaart – met ʼn 16-syfer-kaartnommer, sekuriteitskode en vervaldatum, wat hulle gebruik om die aanlyn aankope net soos met ʼn fisieke kaart te voltooi.

Die virtuele kaartoplossing word veilig in die Telkom Pay-app gestoor en klante kan hul kaart tydelik blokkeer, kanselleer of vervang via die app, wat ekstra veiligheid en beheer bied.

“Ons is verheug om Telkom te help om nuwe, innoverende produkte moontlik te maak. Ukheshe Technologies sien uit daarna om dié reis te ondersteun om kliënte te help in hul pogings om toonaangewende betalingsoplossings te bied aan mense wat dit die nodigste het,” het Clayton Hayward, uitvoerende hoof van Ukheshe, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.