Wat blom in Apple se boord?

’n Voorstelling van hoe die nuwe iPhone 13 moontlik kan lyk. (Foto: Everythingapplepro)

Apple-aanhangers wêreldwyd sit slaggereed om te sien watter sappige produkuitbreidings die tegnologiereus tydens die Suid-Afrikaanse lente in September gaan bekendstel.

Ofskoon dié geleentheid, wat vanjaar op 14 September (weer) virtueel gaan plaasvind en California Streaming gedoop is, gebruiklik deur heelwat gissing en gonsing voorafgegaan word, meen geesdriftiges dat die boord ryp is om die iPhone 13, Apple Watch 7 en moontlik selfs die AirPods 3 op die podium te plaas.

Daar word verwag dat Apple ook later vanjaar die sluier sal lig oor die iPad Mini 6 en die negende generasie iPad. Nog moontlikhede uit die ringvormige Apple-hoofkwartier kan insluit ’n groter iMac aangedryf deur Apple se M1-skyfie en ’n nuwe MacBook Pro en Mac Pro, ook toegerus met die kragtige M1-skyfie.

Apple het tot dusver twee geleenthede in 2021 aangebied. Die eerste was in April toe iPad-opgraderings, die kleurvolle iMacs, AirTags en die pers iPhone 12 op die spyskaart was. Twee maande later, tydens die jaarlikse ontwikkelaarsgeleentheid, was die iOS 15, MacOS Monterey, ook bekend as MacOS 12, WatchOS 8 en iPadOS 15 te siene.

Wat kan ons te wagte wees?

Die iPhone 13 sal na verwagting die ster van die dag wees en kom minder as ’n jaar nadat die iPhone 12 in Oktober verlede jaar bekendgestel is en in Desember in Suid-Afrika geland het.

Daar sal waarskynlik weer vier modelle van dié foon wees, die iPhone 13, iPhone 13 Mini, iPhone 13 Pro en iPhone 13 Max. Daar word verwag dat die iPhone 13 min of meer dieselfde sal lyk as die iPhone 12, maar kan ’n kleiner kerf (notch), verbeterde (diagonale) kameras en ’n bielie van ’n battery insluit om ’n vinniger verfrissingspoed van 120Hz te kan hanteer teenoor die vorige spoed van 60Hz.

Gerugte oor kleurkeuse wil dit hê dat Apple moontlik een kleur kan byvoeg, naamlik Sunset Gold, wat ’n brons voorkoms sal hê en minder vaal as Apple se roosgoudkleur sal wees. Ander meen weer kougompienk of matswart sal slimfoonfanatici opgewonde maak.

Die nuwe iPhones kan boonop ’n kritieke nuwe veiligheidsfunksie kry: satellietverbinding in noodsituasies. Dit sal gebruikers in staat stel om SMS’e in ’n noodgeval te stuur, selfs al is daar geen selfoonopvangs nie. Nie almal is egter seker of dié funksie nou al aangebied sal word nie.

Twee potensiële produkverbeterings waarop talle in die tegnologiebedryf hul geld sit, is aan die Apple Watch 7 en AirPods 3. Daar word allerweë verwag dat die slimhorlosie en oorfone met ’n gedaanteverwisseling gaan spog.

Apple se nuwegenerasiehorlosie kan ’n paar nuwe sleutelkenmerke insluit, soos ’n slanker, plat ontwerp, verbeterde batterylewe en ’n moontlike bloedglukosemonitor. Die Apple Watch 7 sal met WatchOS 8-bedryfstelsel toegerus wees.

Gerugte dui voorts daarop dat die AirPods 3 soortgelyke funksies sal hê as die AirPods Pro, soos ruimtelike klankondersteuning, ’n korter stammetjie, verwisselbare oorproppies en ’n kleiner laaikassie.

Ander opwindende moontlikhede wat later vanjaar of in 2022 kan volg, sluit in ’n intreevlak-iPad wat’n luidspreker het om ’n klankbalk te vorm en met ingeboude Apple TV toegerus is, asook ’n versterkterealiteitbril.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Gerhard ·

Ek was ook vir n paar jaar n ondersteuner en ek moet se die produkte werk goed. Maar as ek sien dat n intree foon nou R9500 kos (die goedkoopste iphone) hou ek maar weer verby en kry n android wat basies dieselfde kan doen vir helfte van die prys. Om n laaikabel te vervang kos my darem nie meer R500 of oorfone R1000 nie. DIe gemidelde mens kan nie meer n apple bekostig sonder om baie skuld te moet maak nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.