Wêreld-emojidag: Dié prentjies gee die pas aan

Meer as die helfte van wêreldwye emojigebruikers is gemakliker daarmee om emosies deur middel van dié prentjies uit te druk as telefoongesprekke. (Foto: iStock)

Die TikTok-generasie kan die laggesiggie-emoji dalk as oudmodies beskou, maar navorsers van Adobe, wat 7 000 gebruikers in die VSA, die Verenigde Koninkryk, Duitsland, Frankryk, Japan, Australië en Suid-Korea ondervra het, het bevind dié “laugh out loud”-emoji is steeds voor in die prentjiekoor.

Kort op die LOL-emoji se hakke as gewildste is die duimpie-emoji, gevolg deur die rooi hartjie, gesiggie wat ’n soentjie met ’n knipoog stuur, en die gesiggie met een traan. Die drie emoji’s wat mense die meeste laat kopkrap en misverstaan word, is die eiervrug, perske en hanswors.

Die sagtewarevervaardiger se bevindings uit sy 2021 Global Emoji Trend Report is op die vooraand van Wêreld-emojidag, wat jaarliks op 17 Julie gevier word, bekendgemaak. Die studie is onderneem deur Paul D Hunt, Adobe se lettertipeontwerper, afgevaardigde by die Unicode-konsortium se emoji-subkomitee (wat oor nuwe emoji’s besluit), en die skepper van die geslagsinklusiewe emoji.

Meer as die helfte van wêreldwye emojigebruikers is gemakliker daarmee om emosies deur middel van dié prentjies uit te druk as telefoongesprekke (55%) en persoonlike gesprekke (51%). Die Adobe-verslag het voorts bevind dat 90% van gebruikers meen emoji’s maak dit makliker om hulself uit te druk en 98% meen dit vergemaklik kommunikasie oor taalgrense.

“Dit is my persoonlike oortuiging dat empatie die belangrikste aspek van kommunikasie is,” het Hunt in ’n blog geskryf. “Ons praat dalk dieselfde taal as ’n ander persoon en kan ’n gesprek voer, maar as ons nie daadwerklik probeer om empatie met mekaar te hê nie, sal ons nooit werklik mekaar se bedoeling verstaan nie,” skryf hy.

Altesaam 76% van die deelnemers aan die studie meen emoji’s is ’n belangrike kommunikasie-instrument om eenheid, respek en begrip in die hand te werk. Altesaam 67% het gesê hulle dink mense wat emoji’s gebruik, is vriendeliker, snaakser en cooler as diegene wat dit nie doen nie, terwyl 88% meer empaties voel teenoor mense wat emoji’s gebruik.

Die gewildste emoji’s volgens navorsers by Adobe. (Foto: iStock)

Het jy dalk al ’n emoji gestuur wat jou óf in die moeilikheid laat beland het, óf verkeerd verstaan is? Wel, jy’s nie alleen nie. Luidens die studie het 27% van die mansdeelnemers al ’n emoji gestuur wat hulle in warm water laat beland het by vriende, familie of ’n geliefde, vergeleke met 17% van die vroue-emojigebruikers. Verder het 44% van die mans al ’n emoji gestuur wat buite konteks opgeneem is, vergeleke met net ’n derde (33%) van die vroue.

Die oulike klein prentjies, wat eens as emotikons bekend gestaan het, is in 1999 deur die Japanse kunstenaar, Shigetaka Kurita, geskep.

Facebook het as deel van die viering van Wêreld-emojidag aangekondig dat hy “soundmoji”, oftewel emoji’s met klank, gaan vrystel, wat gebruikers toelaat om klank by emoji’s te voeg wanneer hulle dit op Facebook Messenger stuur.

(Foto: iStock)

Volgens Emojipedia se statistieke word daar elke dag 5 miljard emoji’s op Facebook Messenger gebruik. Daar is tans meer as 3 500 emoji’s.

Altesaam 117 nuwe emoji’s is in 2020 bekendgestel, waaronder ’n tandeborsel, borreltee, ’n transgendervlag en ’n swart kat. Die swart vuis was verlede jaar baie gewild as deel van die Black Lives Matter-beweging en het met ’n Wêreld-emojitoekenning (dit bestaan werklik!) weggestap. Die ander gewilde emoji’s van 2020 was die wit hartjie en die groen mikrobe-emoji wat kort ná die uitbreking van Covid-19 posgevat het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.