Aanneemtroeteldier-kompetisie: Stem nou vir die top-10

[WENNERS] Die wenners van die aanneemtroeteldier-kompetisie is aangewys. Kliek hier om te sien wie met die geskenkpakke weggestap het.

ʼn Troeteldier is vir die meeste mense soos ʼn familielid, maar ʼn aanneemtroeteldier neem ʼn spesiale plek in ʼn mens se hart in wat ʼn leemte vul soos geen ander kan nie.

Of dit nou ʼn hond, ʼn kat, ʼn voël of selfs ʼn parmantige boerbok is, ʼn aanneemdier is ʼn groot plesier. Maroela Media se fotokompetisie vir die oulikste aanneemdiere het die skattigste inskrywings opgelewer.

Daar is drie kategorieë (honde, katte en ander diere) wat in aanmerking kan kom vir die prys: ʼn Montego-geskenkpak, spesiaal vir jou troeteldier saamgestel, ter waarde van R500.

Boonop kon elke deelnemer ook ʼn diereskuiling van sy keuse benoem wat ʼn geskenkpak ter waarde van R1 780 kan wen indien die betrokke deelnemer se troeteldier een van die wenners wees. Dié geskenkpak sluit 4 x 25 kg Adult Classic-kossakke in.

Só lyk die top-10-inskrywings in die kategorie vir honde:

  • Oulik

Rosie Pretorius van Johannesburg skryf oor haar aangenome hond, Oulik: “Oulikste Oulik is die oulikste! My ou weggooihondjie. En hy is mal oor Montego! Te veel liefde vir dié ou gesiggie!”

Benoemde diereskuiling: Pekingese rescue of South Africa

  • Marley

Dalene Berger van Florauna skryf oor haar aangenome hond, Marley: “Marley is ʼn aangenome hond van Onderstepoort en was ons kind se eerste troeteldier. Sy kom oor die weg met enige dier. Sy het ons aandag getrek by die Onderstepoort-skuiling toe sy vir ons glimlag deur die hok asof sy ons mooi vra om haar te kies. Sy is tans maats met ons nuwe troeteldier, Fluffy die haas. Hulle doen alles saam. Marley is mal oor soet, gebakte koekies en geniet elke oggend ʼn bakkie melk as ek opstaan om koffie te maak. Sy is nou nege jaar oud in mens-jare.”

Benoemde diereskuiling: Wollies Animal Project

  • Rolfie

Chantal de Wet van Bellville skryf oor haar aangenome hond, Rolfie: “Rolfie is in 2017, nege dae voor Kersfees, in Wolseley in die Wes-Kaap gered. Hy was vir amper agt jaar lank vasgeketting en met tye sonder water en kos gelos. Hy het amper geen meer tande oor nie omdat hy moes klippe kou om die honger te stil. Sidewalk Specials het hom gered waar hy uitgeteer en brandsiek was. Aanvanklik was die voorwaarde dat ons na hom sal kyk as pleeghond totdat hy ʼn huis kry. Wel, die res is geskiedenis. Hy is deel van ons familie saam met ʼn dowe pitbull, wat ook aangeneem is by PitPals is as sy beste pel.”

Benoemde diereskuiling: PitPals

  • Toothless

Annia Engelbrecht van Pretoria skryf oor haar aangenome hond, Toothless: “Ek was op soek na ʼn pleeg-woef om na om te sien – ons gesin is baie lief vir diere en om so ver van die huis af te studeer het my baie alleen laat voel. Ek het die klein swart hondjie by PAWS gesien en daar was dadelik ʼn konneksie. ʼn Week later het ek na hom begin kyk en drie maande later het ek hom aangeneem. Sy naam kom van die fliek How To Train Your Dragon – die persoonlikhede van Toothless en die draak is soos spieëlbeelde van mekaar. Ons is onafskeidbaar – beste maats. NS: Hy is lief vir Montego, dis waarop hy grootword!”

Benoemde diereskuiling: PAWS Potchefstroom

  • Clank

JC Swart van Centurion skryf oor sy aangenome hond, Clank: “Clank is by die Centurion DBV aangeneem en my pa het hom uitgekies. Een kyk en hy was my hond. Clank is ʼn pitbull en is baie energiek, saggeaard en gehoorsaam (wanneer dit hom pas!). Ons huis sal nooit weer stil wees nie – die beste keuse ooit.

Benoemde diereskuiling: Centurion DBV

  • Milo

Phil Jansen van Pretoria skryf oor sy aangenome hond, Milo: “ʼn Hartseer verhaal met ʼn gelukkige einde. Ek het Milo so ongeveer sewe jaar gelede in die veld gesien toe ek daar verbygery het langs Lindveldtweg. Hy was baie sku, maar sy swart ogies het my oë vasgevang en hy het vir my gekyk en dan weggehardloop. Soos ons vriende geword het hy elke dag al hoe nader gekom tot hy die dreuning van my motor gehoor het en vir my gewag het. Hy het ingespring, op my skouer gaan sit en sewe jaar later is hy nog steeds my hart se punt!”

Benoemde diereskuiling: Wollies Animal Project

  • Kandassie

Marie-Elize Fourie van Pretoria skryf oor haar aangenome hond, Kandassie: “Kandassie is op sosiale media geadverteer as ʼn verlore worshond. Ek het voorgestel om haar in pleegsorg te hou totdat ons haar eienaars vind. Ons aanneemhondjie is nou al vyf jaar lank deel van ons familie. Elke dag kruip sy net dieper in ons harte. Sy het soveel spesiale karaktereienskappe. My gunstelingding is om saam met haar wegkruipertjie te speel. Sy begin sukkel om te sien, so met haar neus teen die grond sal sy my gou-gou vind.”

Benoemde diereskuiling: Wollies Animal Project

  • Vuiljan

Tanya Lock van Olifantshoek in die Noord-Kaap skryf oor haar aangenome hond, Vuiljan: “Vuiljan het by ons opgedaag, verwaarloos en maer en hy was vuil, so hy is toe sommer Vuiljan gedoop. Hy het vier jaar by ons gebly en was die beste hond ooit – altyd altyd dankbaar en gelukkig. Ongelukkig is hy drie maande gelede deur ʼn slang gepik en het nie oorleef nie. Ons mis hom elke dag en sal nooit weer so ʼn dierbare hond kry nie.”

Benoemde diereskuiling: Olifantshoek Animal Welfare

  • Penny

Alicia Jordaan van Pretoria skryf oor haar aangenome hond, Penny: “Ons het Penny twee jaar gelede aangeneem. Haar storie het ons harte geraak: Sy was misbruik deur mense en hulle het haar vir die dood agtergelaat met ʼn draad om haar nek vasgebind. Sy is agtergelaat met babas wat sy moes speen, met geen kos en geen water. Te danke aan Adorabull Rescue and Rehabilitation is sy gevind en na veiligheid geneem.

Benoemde diereskuiling: Adorabull Rescue and Rehabilitation

  • Gina (Lady Gina, the Duchess of D’Oudewerf)

Susan Conradie van Potchefstroom skryf oor haar aangenome hond, Gina: “Die foto van Gina op Parys DBV se blad het gesê sy is ʼn reun en ʼn Skotse terrier-kruising. Ek het die volgende dag Parys toe gery om haar te gaan ontmoet, maar sy was sy toe al die tyd ʼn teef met baie minder Skottie in haar as wat ek gehoop het, maar was dit klaar te laat – ek was smoorverlief en het dadelik met die aannemingsproses begin. Sy is wel, ten spyte van haar naam, “neither a lady, nor a duchess”, en ek dink dat sy dalk met ʼn rooikat gekruis is. Dis al wat daardie ore kan verduidelik!”

Benoemde diereskuiling: Parys DBV/SPCA

Só lyk die top-10-inskrywings in die kategorie vir katte:

  • Em

Nadia de Jongh van Pretoria skryf oor haar aangenome kat, Em: “Em is aangeneem op ʼn skamele vier weke oud te danke aan ʼn Facebook-inskrywing! Sy lyk soos ʼn kat en klink soos ʼn kat, maar het haar hondeboetie, Ben-G, se maniere aangeleer: Wanneer die motor se deur oopgaan spring sy in en ry elke keer saam as ons plaas toe gaan. Sy weier om vetvrye melk te drink en sit op die kinders se boeke as hul huiswerk meer aandag as sy kry. Akkedisse is haar gunstelingspeelgoed en wanneer Ben-G gebad word, spring sy ook in!”

Benoemde diereskuiling: Pretoria Animal Buddies

  • Olive

Jolandi Lombard van Benoni skryf oor haar aangenome kat, Olive: “Ons het in 2015 op die Brakpan DBV se Facebook-blad die een katjie met die twee gesiggies gesien. Dit was liefde met die eerste oogopslag. ʼn Paar dae later het ons haar gaan haal en sy het ons lewe vervul met haar liefde. Ons is werklik geseënd om haar as ons aanneemdier te hê.”

Benoemde diereskuiling: Brakpan DBV

  • Jack

Melissa Moller van Middelburg skryf oor haar aangenome kat, Jack: “Ek het hom uit ʼn skuur gehaal op ʼn plaas in Hennopsrivier. Hy is blind gebore in sy linkerogie en ná twee jaar was hy heeltemal blind. Van al my diere vang die blinde Jack meer rotte, voëls en slange as al my ander diere tesame. Hy is nou amper ses jaar oud en is heeldag op die rantjie van die visdam, in die groentetuin of tussen die hoenders. As jy hom omdop en vashou ervaar jy net liefde!”

Benoemde diereskuiling: Woodrock Animal Shelter

  • Basjan

Elmarie Badenhorst van Warrenton in die Noord-Kaap skryf oor haar aangenome kat, Basjan: “Basjan se eerste eienaar wou sy nek omdraai toe hy tien weke oud was. Hy het niks van Basjan gehou nie. Ons het daarvan te hore gekom en die hele huishouding was histeries. Nodeloos om te sê het ons in die motor gespring en gejaag soos iets uit die movies. Sonder om te vra, en natuurlik sonder om te dink, het ons vir Basjan gered en vandag is hy ons dierbaarste kattermaaier-kind! Hy slaap nie sonder om vir almal nag te sê nie en elke oggend word elkeen van ons môre-gesê met ʼn skuur teen die been!”

Benoemde diereskuiling: DBV

  • Alfie

Wilmarie Weyers van Centurion skryf oor haar aangenome kat, Alfie: “Alfie is saam met sy boeties, sussies en ma gered vanuit Onderstepoort se wêreld. Hy is ʼn lieflike dingetjie en hou vreeslik baie van water! Hy speel nou ʼn hond uit ʼn bos uit by sy nuwe huis en ʼn mens kan die dankbaarheid in sy ogies sien. Hy het ʼn maatjie by die huis ook waarmee hy speel en kry selfs die ou kat (tans 15 jaar oud) om bietjie te speel! Alfie hou van gesels ook en kom wanneer ʼn mens hom roep! Te dierbaar!”

Benoemde diereskuiling: Wollies Animal Project

  • Sagrys en Bungy

Benine Odendaal van Montagu skryf oor haar aangenome katte, Sagrys en Bungy: “‘Paneelklopper-katte’ beskryf my twee presies. Ek het my motor se haelskade laat herstel by die paneelkloppers en uitgestap met twee katte. Hulle is net so uniek soos elke motorbuffer en verfkleur vanwaar ek hulle gekry het. Hulle is effens gek, maar dis hoe ek dit verkies. Hulle is nou vet plaaskatte wat hou van aandag en dit kry hulle in oorvloed.”

Benoemde diereskuiling: Ashton DBV

  • Nebbie

Annelize Meyer van Pretoria skryf oor haar aangenome kat, Nebbie: “Nebbie was ʼn babakatjie wat in ʼn motorenjin gevind is. Dit was amper my verjaarsdag en my kinders het besluit ons moet haar hou. Sy is haar ma se pragtigste ‘Bokkebol’ en het ʼn mooi, jonge dame met die pragtigste pels en mooiste groen oë geword! Haar naam is afkomstig van Nebula, ʼn sterrewolk. Sy slaap elke aand op die bed by haar pa se voete.”

Benoemde diereskuiling: Wollies Animal Project

  • Misty

Alida Janse van Vuuren van Newcastle skryf oor haar aangenome kat, Misty: “Misty is gered nadat sy wees gelaat is in ʼn informele nedersetting. Die dame van ons plaaslike DBV het haar met die bottel grootgemaak, saam met ses ander katjies. Ongelukkig het net drie van die ses oorleef. Sy is ʼn bondel liefde, dit is asof sy weet dat sy ʼn tweede kans gekry net!”

Benoemde diereskuiling: Newcastle DBV

  • Cosmo

Jolandi Lombard van Benoni skryf oor haar aangenome kat, Cosmo: “Ons het Cosmo aangeneem deur Friends of Ferals. Ons het haar foto op Instagram gesien en dit was liefde met die eerste oogopslag! Sy is super oulik en ons is so lief vir die lyfie.”

Benoemde diereskuiling: Friends of Ferals

  • Diego

Tarita Pace van Kraaifontein skryf oor haar aangenome kat, Diego: “Ek het hom agt jaar gelede by AACL Bellville aangeneem. Hy kan nie miaau nie en het die oulikste geaardheid. Hy maak ons lewens só vol.”

Benoemde diereskuiling: A. R. T Bellville

Daar was slegs drie inskrywings in die kategorie vir ander diere. Só lyk hulle:

  • Jaco

Danielle Niemandt van Vanderbijlpark skryf oor haar aangenome muisvoël: “Jaco is ʼn Mosambiekse muisvoel wat ons tydens ons vakansie in Mosambiek gered het. Met Sikloon Desmond het Jaco uit sy nessie gewaai en sy vlerk beseer. Ons het hom gevat en sy vlerkie gedokter. Vandag bly hy saam met drie katte en twee honde in die huis. Hy is baie sosiaal en liefdevol en vlieg heeldag agter ons aan en bak graag in die son.”

Benoemde diereskuiling: Kitten and Cat Rescue Vanderbijlpark

  • Daisy

Wilinda Botha van Vrede skryf oor haar aangenome verskalfie, Daisy: “Haar ma het ʼn week ná Daisy se geboorte ʼn hartaanval gekry en so oulike dingetjie kon ek mos nie los nie.”

Benoemde diereskuiling: Paws Love Animal Shelter

  • Bettie

Marise Fourie van Kimberley skryf oor haar aangenome skaaplam, Bettie: “Bettie is ʼn Persiese skaaplam wat deur haar mamma verwerp is. Ek het haar toe met die hand groot gemaak, met die verskil dat sy in die huis bly en sy dra Huggies Pants saam met ʼn jassie. Sy is mal daaroor om voor die kaggel te lê en sy slaap in ons bed.”

Benoemde diereskuiling: Kimberley DBV

STEM

Stem nou vir jou gunsteling van die top-10 finaliste in elke kategorie op Maroela Media tot 5 Augustus 2019. Die wenners van elke kategorie word deur die aantal stemme deur die publiek bepaal. Vul die vorm in om te stem:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.