Elke hond kry sy app? Die beste apps vir diereliefhebbers

(Foto: Verskaf)

Deur Alex J. Coyne

Diereliefhebbers soek mos net die heel beste vir hulle viervoetige vriende – hetsy dit honde, katte, voëls of reptiele is. Dit beteken gewoonlik dat diere se dieet fyn uitgewerk word, dat diereliefhebbers gewoonlik lekkernye byderhand het, en dat ons gediertes soms die rusbanke oorvat en ons nie veel daaraan kan doen nie.

Maar wat van die beste apps vir jou diere?

Maroela Media gaan loer na die beste apps wat vir diereliefhebbers beskikbaar is.

(Foto: Maroela Media)

Puppr

Puppr is die perfekte app vir honde-opleiding, en leer honde en hul eienaars nuwe truuks. Leer basiese goed soos “sit”, maar ook meer gekompliseerde take, soos om die koerant te gaan haal, of deur hoepels te spring. Video-instruksies is beskikbaar vir elke nuwe aksie. As jy sukkel om jou honde maniere te leer, is hierdie moontlik die perfekte app vir jou huishouding.

Puppr op Play Store
‎Puppr op Apple

MeowTalk

Het jy al ooit gewonder wat jou diere te sê het? Jeanne Goosen, wat Paw Paw vir my Darling geskryf het, het ʼn slag daarmee gehad, maar hierdie app kan jou help as jy daaroor wonder. Die ‎hondevertaler van die Apple Store skakel jou woef se blaf in mensewoorde om – en andersom. Vir Google Play-verbruikers, is daar ʼn soortgelyke een hier beskikbaar.

Katliefhebbers het ook ʼn eweknie genaamd MeowTalk. Hierdie app laat jou toe om katte se miaau te vertaal na iets wat mense kan verstaan – en andersom, met 12 verskillende aksies.

Cat Scanner

Nie seker watter soort kat jy het nie? Cat Scanner sal jou kat se ras identifiseer. Al wat jy hoef te doen is om ʼn foto te neem, en die sagteware sal vir jou uitvind. As jy wonder, identifikasie van gemengde rassoorte is ook moontlik met Cat Scanner.

Vir honde, is daar ook Paxi.ai se honde-identifiseerder.

Cat Scanner op Play Store
Cat Scanner op Apple

(Foto verskaf)

Identipet

Identipet

As jy wonder waarheen jou troeteldiere verdwyn en of jy moontlike rondlopers het wat van avontuur hou, is ʼn stelsel soos Identipet belangrik – gewoonlik sodat almal ʼn goeie nagrus kan kry. Met dié app kan jy binne sekondes weet presies waar jou diere is op ʼn aanlyn padkaart.

NutriPetDog

Dit is soms moeilik genoeg om te weet wat om vir ʼn hele huishouding te bedien – en voeding vir diere kan net so ʼn tameletjie word. NutriPetDog is ʼn gratis manier om te sorg dat jou diere die beste eet vir hulle gewig, honderas en vlak van aktiwiteit.

As jy 100% seker moet wees dat jou diere se gesondheid tops bly, maak NutriPetDog dit selfs makliker met resepte vir volronde voedingswaarde en natuurlik ekstra lekkernye.

NutriPetDog Play Store
NutriPetDog op Apple

Voëls van Suider-Afrika

Daar is ʼn app beskikbaar van die immergewilde Sasol Voëls van Suider-Afrika, met honderde van Suid-Afrika se unieke voëlspesies daarop gelys. Dit is nie meer nodig om jou swaarste boeke saam te dra nie: vat net jou slimfoon en onthou hierdie artikel.

Dis meer as net ʼn app vol mooi foto’s: elke geveerde vriend word beskryf, en jy kan boekmerk watter een jy en die gesin opgemerk het.

(Foto’s via Pixabay)

TAME

TAME is ʼn Suid-Afrikaanse app vir diereliefhebbers en die heel eerste van sy soort. Hierdie app bestaan uit ʼn netwerk gekwalifiseerde veeartse, wat ʼn 24-uur-hulplyn aanbied. Mediese rekords vir jou diere kan direk op die app gelaai word, en van daar af vir enige veearts op hulle netwerk gestuur word.

Van veeartsafsprake deur tot noodhulp en noodgevalle, die TAME-app gee diereliefhebbers toegang tot onmiddellike mediese hulp vir die hele dierefamilie.

TAME-webwerf

Pet Matchmaker

Pet Matchmaker is nog ʼn trots Suid-Afrikaanse app, ontwerp deur Hill’s – die bekende dieregesondheidsmaatskappy. As jy die huishouding wil uitbrei, is Hill’s Pet Matchmaker een van die enigste apps met ʼn direkte lyn tot die aannemingsnetwerk regdeur Suider-Afrika.

Diere wat huise soek kan makliker ʼn huis vind deur hierdie app – en jy kan die perfekte troeteldier vir jou gesin hier vind. Elke kat of hond wat ʼn huis soek word gelys met meer inligting oor elkeen en hulle persoonlikheid.

Pet Matchmaker op Google Play
Pet Matchmaker op Apple

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.