Ent jou diere teen hondsdolheid in

Argieffoto ter illustrasie

Hondsdolheid is ʼn dodelike siekte, maar dit is ook 100% voorkombaar. Tog sê die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid (OIE) sterf daar steeds jaarliks steeds meer as 59 000 mense aan dié siekte, wat van diere na mense oorgedra word.

Sowat 56% van dié gevalle kom in Asië en 44% in Afrika voor. Dit het die departement van landbou en die Suid-Afrikaanse Veeartsenykundige Raad (SAVC) opnuut ʼn beroep op diere-eienaars laat doen om hul troeteldiere en diere teen die dodelike siekte op Wêreldhondsdolheidsdag (28 September) te laat inent.

Die siekte beskadig die brein en rugmurg van die mens en word oorgedra deur kontak met die speeksel van ʼn besmette dier se byt, lek of skrape.

“’n Persoon wat aan hondsdolheid sterf, is ʼn onnodige dood,” sê dr. Nomsa Mnisi, visepresident van die SAVC. “Die siekte is maklik voorkombaar deur inentings en daarom hoef niemand te sterf nie, veral nie kinders nie.”

Dr. Mpho Maja, direkteur van dieregesondheid by die departement van landbou, sê hulle wil eienaars vra om hulle diere ook gereeld en getrou vir hierdie soort inentings te neem.

“Diere moet gemiddeld elke drie jaar ingeënt word, maar in hoërisikogebiede word jaarlikse inentings aanbeveel.”

Hondsdolheid word dikwels met die byt van honde verbind, maar ander diere soos katte, gebande muishonde, jakkalse en ander wilde diere kan ook besmet word.

Dr. Guy Fyvie, Hill’s Pet Nutrition se veeartsenykundige adviseur, sê hndbyte veroorsaak byna alle gevaale van menselike hondsdolheid in Suid-Afrika. Terwyl inentings steeds die beste manier is om die risiko te verminder en voorkom word dit nie altyd geprioritiseer nie. Die siekte kom dikwels voor in landelike gebiede waar diere nie gereeld teen die virus ingeënt word nie, en hondsdolheid word algemeen onder rondloper honde en katte gerapporteer.

Troeteldiere moet volgens wet in Suid-Afrika teen hondsdolheid ingeënt word. Honde en katte moet hulle eerste inenting teen dié siekte voor die ouderdom van drie maande kry. ’n Tweede inenting word op drie maande ontvang, ’n derde voor die ouderdom van 12 maande en daarna moet ’n jaarlikse inenting gedoen word.

Hoe weet ʼn mens wanneer ʼn dier hondsdolheid het?

Mnisi en Maja sê ʼn mens sal ʼn duidelike verandering in jou troeteldier se gedrag sien. “ʼn Hondsdol dier is geneig om vreemd op te tree, dikwels is hulle aggressief. Hulle ervaar spierverlamming, produseer baie speeksel en sukkel om te sluk.”

Maja sê wilde diere kan selfs lyk of hulle hul vrees vir mense verloor het en vreemd mak raak. Koeie en skape met hondsdolheid lyk gewoonlik of hulle iets het wat in hul kele vassteek.

“Inenting van ons diere is die enigste manier om hierdie siekte uit te roei. Daar is tans geen behandeling vir ʼn mens of dier as hulle eers die siekte opgedoen het nie,” voeg Mnisi by.

As jy deur ʼn hond of ander dier gebyt word in ʼn gebied met ʼn hoë risiko vir hondsdolheid kan jy die volgende doen:

  • Was die wond of blootgestelde area tussen 10 en 15 minute met lopende water en seep.
  • Gaan onmiddellik na jou naaste kliniek of dokter.
  • Stel ʼn staatsveearts of dieregesondheidstegnikus in kennis sodat hulle die dier kan ondersoek, die risiko kan bepaal en indien nodig vir hondsdolheid toets.
  • Die kliniek of dokter sal die toepaslike behandelingsprotokol begin, afhangend van die blootstellingskategorie.
  • Die staatsveearts sal terugkeer met die resultate van die verdagte dier om vas te stel of die behandeling na blootstelling moet voortgaan of gestaak kan word. Dit sal ook bepaal of ʼn hondsdolheidinentingsveldtog nodig is vir die plaaslike hond- en katbevolking.

As deel van Wêreldhondsdolheiddag word mense die maand gevra om hul diere by hulle plaaslike veearts, staatsveearts of dieregesondheidstegnikus te laat inent.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

JohanEtz ·

Meer as 59k mense sterf jaarliks aan Hondsdolheid, tog COVID met baie minder sterftes en ‘n herstelkoers van 90% is ‘n pandemie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.