Franse bulhonde dalk binnekort gewildste honderas

Frenchies het ook reeds golden retrievers verbygesteek wat ook nog altyd ʼn gewilde keuse vir gesinne wêreldwyd was. (Foto: Karsten Winegeart/Unsplash)

Franse bulhonde is sterk op pad om labradors te onttroon as troeteldiereienaars se gunstelinghonde.

Volgens die Amerikaanse hondeklub was die labrador die afgelope drie dekades lank die VSA se gunstelinghond, maar die Franse bulhond hap nou aan sy hakke om die topposisie in te neem.

Die oulike, kort, platgesig buksies, wat ook Frenchies genoem word, het verlede jaar van die vierde tot tweede plek op die klub se ranglys vir gewilde honde gespring.

Frenchies met hulle vlermuisagtige oortjies het die Duitse herdershond uit die tweede posisie geskop, ʼn posisie wat dié honderas reeds 2009 beklee het. Die Duitse herdershond beklee nou die derde plek. Frenchies het ook reeds golden retrievers verbygesteek wat ook nog altyd ʼn gewilde keuse vir gesinne wêreldwyd was.

Labradors was in 2020 vir die 30ste agtereenvolgende jaar die VSA se gewildste hond, geskoei op registrasies. Dié hondeklub se lys bevat geen data oor gemengde honderasse nie.

Die Amerikaanse hondeklub glo egter dit is nou net ʼn kwessie van tyd voordat Franse bulhonde die topposisie op die gewildheidsranglys beklee.

“Die speelse, aanpasbare Frenchies het die afgelope dekade al hoe gewilder geword, en dit lyk nie of die honde se manier om harte te wen enigsins gaan taan nie.

“Dit is duidelik hierdie honderas is gereed om die labbies se bewind aan die bopunt van die lys te beëindig,” het Gina DiNardo, uitvoerende sekretaris van die klub, gesê.

Die gewildheid van Franse bulhonde, wat gewoonlik 30 cm lank is en minder as 12 kg weeg, kan deel toegeskryf word al hulle gewildheid onder bekendes.

Die sangeres Lady Gaga se twee Frenchies is met ʼn vuurwapen van hulle oppasser geroof. Gaga het $500 000 (sowat R7,4 miljoen) as beloning vir hulle veilige terugkoms aangebied. Die twee honde is gelukkig kort daarna ongedeerd teruggevind.

Labradors was in 2020 vir die 30ste agtereenvolgende jaar die VSA se gewildste hond, geskoei op registrasies. (Foto: Pezibear/Pixabay)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Susan ·

Alles diere is mooi, onthou net hul word groot en jy moet nogsteeds vir hul kan sorg.

Eend Bessinger ·

‘n Mens moet in aanmerking neem wat so ‘n hond(jie) jou uit die sak gaan jaag oor ‘n jaar of twee. Dis nou kos, inentings, opleiding waar nodig, die werke. As die onkostes te veel gaan wees, hou eerder verby en probeer ‘n ander troeteldier vir die gesin.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.