Help Wagter só vetjies afskud

Vetsug is een van die grootste gesondheidsprobleme waarmee troeteldiere sukkel. (Foto: Verskaf)

Vetsug by troeteldiere is ʼn belangrike kwessie waarvan troeteldiereienaars jaarliks in Oktober bewus gemaak word.

Vetsug is een van die grootste gesondheidsprobleme waarmee troeteldiere sukkel. Volgens Marycke Ackhurst, troeteldiergedrag-spesialis van Hill’s Nutrition, is 90% van troeteldiere oorgewig sonder dat hul eienaars dit besef.

Volgens Ackhurst kan troeteldiere se gewigsverlies bevorder word deur voedselverrykingspeelgoed soos lekkernyballe en legkaarte te gebruik wat terselfdertyd jou dier se verveling hokslaan.

Deur speletjies te speel, soos om jou dier se kos weg te steek op verskillende plekke, kan ook help om energie te verbrand terwyl hulle na die kos moet soek.

“Onthou om op ʼn eenvoudige vlak te begin en die moeilikheidsgraad te verskerp soos wat jou dier die konsep van die speletjie begin verstaan. As jy te vinnig beweeg sal die dier gefrustreerd raak en moed opgee,” sê Ackhurst.

Hier is nog ʼn paar wenke om jou troeteldier te help om ʼn gesonde gewig te handhaaf:

  • ʼn Veearts kan raad gee oor die regte kos wat troeteldiere behoort te eet. Die regte kos kan help met gewigsverlies of net om ʼn gesonde gewig te handhaaf.
  • Aanvaar dat die voedingshoeveelhede wat deur die kos se verpakking aangedui word slegs ʼn aanbeveling is. Elke dier verskil en daarom kan die hoeveelheid kos wat hulle moet eet ook verskil. Leefstyl, ouderdom, gesondheid en sterilisasie speel ʼn rol in die hoeveelheid kos wat jou dier moet eet. Onsekerhede oor porsies kan met ʼn veearts uitgeklaar word.
  • Daaglikse aktiwiteit is belangrik en gehalte tyd is voordelig vir jou troeteldier, of dit nou is om jou hond vir ʼn stappie in die buurt te neem, of in ʼn park of tuin te speel. Vir ʼn kat kan jy bokse, kielie- of klimapparate aanskaf om mee te speel. Selfs ʼn opgefrommelde papier sal jou kat vir ure kan besig hou.
  • Hou tred met lekkernye. Ekstra lekkernye en kos wat vir mense geskik is kan vinnig omskakel in onnodige kalorieë. As jy graag jou dier wil bederf, dink aan alternatiewe, soos ʼn nuwe speelding of meer drukkies.

Dit is oor die algemeen gesonder vir jou dier om effens ondergewig as effens oorgewig te wees, sê Ackhurst.

“ʼn Paar ekstra kilogram kan gesondheidsprobleme soos diabetes, artritis, kanker en hoë bloeddruk tot gevolg hê. Dit kan ook jou dier se lewensverwagting aansienlik verkort.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.