Het jy dié oor gidshonde geweet?

‘n Gidshondjie wat besig is met opleiding kan uitgeken word aan sy blou jassie. (Foto: Facebook/SA Guide Dogs)

Hoewel meeste honde gebore word om ʼn luilekker hondelewe te lei, word sommige honderasse ook gebore om in diens te staan van mense wat ondersteuning nodig het om daaglikse take te verrig en vol lewens te lei.

Twee van dié geliefde werkersrasse is labrador retrievers en golden retrievers, wat albei deur die Suid-Afrikaanse Gidshondvereniging opgelei word om as gids-, diens- en ondersteuningshonde te werk.

Die Suid-Afrikaanse Gidshondvereniging is in 1953 deur Gladys Evans gestig nadat sy na Suid-Afrika teruggekeer het van Engeland waar sy gidshondopleiding ontvang het saam met haar hond, Sheena.

Evans het besef hoeveel Sheena haar lewe verryk en sy het dit haar doel gemaak om gidshonde vir ander Suid-Afrikaners beskikbaar te maak.

Hier is ʼn hele paar feite oor gidshonde wat jy dalk nie geweet het nie:

    • Die honde word deur die Gidshondvereniging in drie verskillende klasse opgelei: Gidshonde, dienshonde en outisme-ondersteuningshonde. Gidshonde word spesifiek opgelei om mense wat visueel gestremd is te ondersteun, terwyl dienshonde opgelei word om mense met fisieke gestremdhede te ondersteun. Outisme-ondersteuningshonde word opgelei om vertroosting en vriendskap te bied aan ʼn persoon met outisme.
    • Dit is maklik om te sien wanneer dié honde aan diens is. Gidshonde dra ʼn leerharnas wanneer hulle aan diens is. Die harnasse het ʼn metaalhandvatsel waarop daar geskryf is: “Do not distract.” Diens- en ondersteuningshonde dra helderrooi jassies met die Gidshond SA-logo op.
    • Dié honde word tussen die ouderdom van sewe weke en 16 maande deur gewone gesinne opgepas om hul sosiale- en gehoorsaamheidsvaardighede te help ontwikkel en hulle te help voorberei vir hulle formele opleiding. Hondjies wat in pleegsorg is, kan uitgeken word aan hul blou jassies met die Gidshond SA-logo op, wat ten alle tye ʼn vereiste is wanneer hulle in die openbaar is.
    • Twee honderasse word in Suid-Afrika as werkershonde opgelei: Labradors retrievers en golden retrievers. Die Gidshondvereniging gebruik ook kruisings van die twee rasse.
    • ʼn Letter van die alfabet word aan elke werpsel toegeken. Die pleegouers van die hond kry die voorreg om ʼn naam te kies met ʼn spesifieke letter, maar die naam is onderhewig aan goedkeuring deur die Gidshondvereniging. Elke pleegouer kan drie tot vyf name wat met ʼn sekere letter begin indien vir goedkeuring. ʼn Firma of individu wat ʼn benamingsborg wil wees vir ʼn hond, kan ʼn naam met enige letter kies. Dit kos R100 000. Die name is ook onderhewig aan goedkeuring deur die Gidshondvereniging.
    • Die honde ondergaan sowat vier tot agt maande se opleiding, afhangende van in watter klas hulle is. Die behoefte van die persoon wat die hond ontvang word in ag geneem en party honde moet meer geleer word as ander. ʼn Opleier woon gewoonlik twee weke saam met die persoon wat die hond nodig het en die hond by die opleidingsentrum se residensiële fasiliteite. Dit is om seker te maak ʼn sterk band word gevorm tussen die hond en die persoon. Ná die twee weke beweeg hulle na die huis- en werkomgewing van die persoon om seker te maak die hond kan roetes doen en bystand bied in dié omgewings.
  • Vir meer inligting oor die Suid-Afrikaanse Gidshondvereniging en hoe om aan dié instansie te skenk, besoek die webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Mieke ·

Hierdie honde is ongelooflike diere-helpers! Ons pas soms ‘n blinde vriend se hond op wanneer hy moet weggaan en nie sy hond kan saamvat nie. Dis vir ons so ‘n voorreg om hierdie hond te mag oppas! Hoogs intelligent. Haar kommunikasie met ons is eenvoudig uitstaande!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.