Hokaai met dié happies vir jou hond

(Foto: iStock)

Dis daardie kyk in sy oë of haar sagte snikgeluidjies onder die etenstafel wat ’n mens aanhits om jou watertanddis met jou woef te deel. Een stukkie sal mos nie skade doen nie, of hoe?

Kenners maan dat ’n mens versigtig moet wees om sommer enigiets vir jou viervoet te gee om aan te peusel. Die korttermyntevredenheid van ’n waaiende stert mag dalk net verreikende gesondheidsprobleme vir jou beste vriend inhou en selfs dodelik wees. Hier is ʼn lys van die veilige én verbode happies:

Veilige versnaperings

  • Piesangs is enersyds ryk aan vesel en kalium, maar andersyds propvol suiker wat jou hond gewig kan laat optel en sy spysvertering omkrap. Groot honde kan ’n halwe piesang eet, terwyl twee of drie skyfies genoeg is vir klein honde.
  • Appels bevat vitamien A en C asook vesel, maar maak seker jy verwyder die sade voordat jy dié peuselhappie uitdeel.
  • Bloubessies word allerweë as ’n gesonde happie vir mens én dier beskou vanweë die hoë inhoud antioksidante en vitamiene. Hou egter jou dier se spysvertering dop. As jy sien dié vrug (of enige ander) veroorsaak ’n loopmaag, hou verby!
  • Waatlemoen is ’n veilige vrug wat laag in kalorieë is vanweë die hoë waterinhoud. Moet egter nie die skil of pitte vir jou hond gee nie. Dit is baie hard, word moeilik verteer en kan spysverteringsprobleme soos hardlywigheid veroorsaak.
  • Tamaties is ook gelaai met antioksidante, maar gee aanvanklik klein stukkies om te sien hoe jou dier hierop reageer.
  • Pynappel is nog ’n heerlike happie vol vitamiene en minerale, maar vermy geblikte pynappels wat stroop met hope suiker bevat.
  • Wortels is op sy beurt laag in suiker en propvol vitamien A, kalium en vesel. Maak seker jy sny die wortel in klein stukkies sodat jou hond nie verstik nie.
  • Eiers is ’n wonderlike bron van proteïen, maar moet altyd gaargemaak word om die risiko vir salmonella te vermy. Gee net die eierwit as jy probeer om jou woef se gewig in toom te hou.
  • Broccoli, hetsy rou of gaar, is ’n gesonde peuselhappie vol vesel en vitamien C. Vra egter jou veearts of jy dit by jou hond se dieet kan insluit, omdat dit sommige honde se magies kan omkrap.
  • Komkommers is ook veilig vir jou hond en ’n ideale peuselhappie wat laag in kalorieë is. Dit verskaf ook noodsaaklike voedingstowwe soos vitamien C, vitamien K en magnesium.

Waatlemoen is ’n veilige vrug wat laag in kalorieë is vanweë die hoë waterinhoud. Moet egter nie die skil of pitte vir jou hond gee nie. (Foto: iStock)

Pasop vir dié peuselhappies

  • Druiwe en rosyne is boaan die lys van verbode vrugte vir jou hond. Hoewel die oorsprong van dié gifgevaar nie klinkklaar is nie, meen kenners die wynsteensuur in druiwe en rosyne kan giftig wees en tot skielike nierversaking aanleiding gee.
  • Uie (en sy familielede knoffel en grasuie) is baie gevaarlik vir jou hond. Dit kan ’n omgekrapte maag veroorsaak en selfs lei tot meer ernstige probleme soos rooibloedselskade en bloedarmoede.
  • Hoewel avokado ’n bron van goeie vette vir mense is, is die persien in avokado giftig vir jou troeteldier en kan dit diarree en braking veroorsaak. Moet veral nie dat jou hond die skil en pit in die hande kry nie, omdat dit nóg hoër vlakke van persien bevat.
  • Suiker en versoeters is ’n groot nee. Baie kossoorte bevat kunsmatige versoeters soos Xylitol wat lae bloedsuiker en selfs lewerskade kan veroorsaak. Vermy kougom, tamatiesous, lekkergoed en gebakte kos (en natuurlik rou deeg).
  • Sjokolade en kaffeïen is baie gevaarlik, veral omdat honde peuselhappies uitsnuffel en voor die voet verorber. Dis egter giftig en kan braking, diarree, verhoogde dors, maagypn, lusteloosheid, spierbewing, onreëlmatige hartklop, hoë liggaamstemperatuur en die dood veroorsaak.

Bykomende bronne: Nasapethospital.com; Businessinsider.com; Hillspet.co.za; Healthline.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Kirst ·

Onthou net, honde is omnivore. Dis hoekom hulle soms gras vreet. Dit het niks daarmee te doen dat hulle spysverteringsprobleme het soos die ouvrou stories meen nie, hulle hou daarvan om plante te eet. Baie mense maak die fout om te dink honde is karnivore. Gaan lees gerus waaruit die hondekos (pille) gemaak is – dis hoofsaaklik plantaardig.

Ronel ·

Sal graag wil weet wat is ‘n no-no vir katte en wat is goed, aangesien sy soms tamatie eet

AmY ·

Dis hoekom daar hondekos is. Hou jou woef op die regte dieet. En hoe moeilike ook al, wees maar kwaai en streng.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.