Krap, krap … só help jy jou troeteldier met ʼn vel wat jeuk

ʼn Jeukerige vel is ʼn algemene probleem in honde wat verskeie oorsake kan hê. Daar is gewoonlik ʼn lang proses om te bepaal wat presies die oorsaak kan wees en by ʼn diagnose uit te kom. Party oorsake is maklik om uit te skakel, maar ander benodig lewenslange bestuur.

Die stelselmatige proses van uitskakeling

  1. Vlooibyt-allergieë

Sommige diere is allergies vir die speeksel van vlooie. Dis dikwels moeilik om vlooie raak te sien op die dier, so doeltreffende en deurlopende behandeling teen vlooie is van kardinale belang om ontslae te raak van die probleem.

  1. Parasiete (miete en luise)

Jou veearts sal dalk ʼn velskraap en/of haarmonster neem en onder die mikroskoop kyk of daar dalk enige parasiete teenwoordig is. Indien wel, kan hy behandeling soos antibiotika en antiswam-middels voorskryf.

  1. Aansteeklike siektes/vel-infeksies: bakteries en/of swam-infeksies

Hierdie veltoestande onstaan spontaan of word deur allergene veroorsaak. Vel-infeksies word gewoonlik deur voorgeskrewe antibiotika en antiswam-middels behandel.

  1. Voedsel-allergieë

ʼn Voedsel- of kos-allergie kan op enige ouderdom ontstaan en kan slegs deur ʼn proses van uitskakeling gediagnoseer word. Nadat die voedsel-allergeen geïdentifiseer is, word hierdie komponent uit die dier se dieet gesny deur ʼn spesifieke dieet te voer. Voedsel-allergieë word gewoonlik deur ʼn spesifieke proteïen in die kos veroorsaak wat tot ʼn allergiese reaksie in die liggaam lei. Die meegaande inflammasie en swelling lei tot ʼn uiters jeukerige vel; veral op die gesig, middelore, pote en pens. Sodra vlooie, parasiete en vel-infeksies uitgeskakel is as ʼn oorsaak, sal die volgende stap wees om vas te stel of die allergie deur kos veroorsaak word.

Voedselallergie-toets:

Jou veearts sal ʼn spesifieke kosformule vir die toets aanbeveel. Dit is noodsaaklik dat daar absoluut geen ander kos of happies tydens hierdie 8 tot 10 weke lange periode gegee word nie.  Die kleinste happie sal die toets affekteer. Die beginsel is dat alle ander kosbronne verwyder word wat die allergiese reaksie kan aanwakker, en dat net sekere proteïene gevoer word. Dit neem ʼn geruime tyd voor daar verbetering of verandering in die dier gesien kan word – hierdie proses kan tot 10 weke neem.

Baie eienaars vind dit moeilik om hulle diere tot ʼn enkele kos te beperk en voel baie maal jammer vir hulle diere. Dikwels moet die resultate tot niet verklaar word as gevolg van eienaars wat steeds peuselhappies voer terwyl hulle troeteldier op ʼn proteïen-spesifieke dieet is. Alhoewel ʼn dieet moeilik kan wees om streng toe te pas, moet eienaars weet dat dit oor die lang termyn die moeite werd is om deur te druk.

  1. Atopie (die allergiese reaksie op omgewingsallergene soos stuifmeel, huismiete, stof, ensovoorts)

Sou punte 1 – 4 hierbo klaar uitgeskakel wees en die troeteldier aanhou jeuk, word die allergiese toestand in ʼn breë groep, genaamd atopie, gegroepeer. Atopie kom baie algemeen voor en ongeveer 50% van alle diere wat met velprobleme gediagnoseer is, val in hierdie breë groep. ʼn Allergiese reaksie ontstaan as gevolg van omgewingsallergene soos stuifmeel, huismiete, stof, skoonmaakmiddels, ens. wat deur die beskadigde vellaag dring en na dieper epidermis beweeg. In die epidermis veroorsaak hierdie allergene ʼn allergiese reaksie wat lei tot inflammasie en swelling. Inflammasie en swelling vererger die jeuksensasie wat veroorsaak dat die dier meer krap en die vellaag verder beskadig word. Dit ontaard vinnig in ʼn bose siklus en sekondêre infeksies kom algemeen voor en kompliseer dikwels behandeling.

Atopie in diere begin tussen een- en driejarige ouderdom en bly ongelukkig ʼn lewenslange probleem.

Reaksie tot omgewingsallergene kan konstant (reg deur die jaar) of seisoenaal wees, en dit is dus dikwels moeilik om te bestuur. Daar is ongelukkig geen kuur nie en lewenslange bestuur van die allergiese toestand is nodig.

Bestuur van ʼn jeukerige/allergiese hond

In die geval van vlooibyt-allergieë, infeksies (parasiete, bakteriese- en swaminfeksies) en kos-allergieë is die behandeling gewoonlik eenvoudig: as die oorsaak van die irritasie behandel word (vloeibehandeling, antibiotika, antiswam-middels en die regte kossoort), kan die deurgaanse krappery en lekkery verminder en mettertyd selfs verdwyn.

Omgewingsallergieë is moeiliker om te behandel en dit is dikwels onmoontlik om die oorsaak van die jeuk te vermy of uit die omgewing te verwyder. Sulke gevalle benodig dus lewenslange behandeling.

Verskeie benaderings tot atopiese allergiebestuur

  1. Anti-inflammasie/immuunonderdrukkers is die mees algemene behandeling en sluit medikasies soos kortisoon en siklosporien in. Kortisoon het ʼn onmiddellike effek waar siklosporien tot ses weke kan neem om die inflammasie te beperk, maar kan ernstige negatiewe effekte tot gevolg hê, soos Cushing se siekte, lewerversaking en diabetes. Dit moet dus so min as moontlik gebruik word en moet glad nie as langtermynbehandeling gebruik word nie.
  2. Immunoterapie behels desensitering wat net in spesifieke gevalle gebruik word. Die sukses van die behandeling wissel baie en dit is baie duur.
  3. Antihistimien is ʼn veilige langtermynbehandeling van allergieë, maar het wisselvallige resultate. Die middels het bitter min newe-effekte in vergelyking met medikasies soos kortisoon. Vir langtermynbehandeling word antihistamine gewoonlik saam met ander middels voorgeskryf.
  4. Uitwendige/lokale behandeling (druppels wat bo-op die vel gedrup word) sluit hoofsaaklik kortisoon, antibiotika en antiswam-middels in die vorm van sjampoes, salf of sproeimiddels in. Dit veroorsaak nie dieselfde newe-effekte as tablette of inspuitbare middels nie en kan doeltreffend gebruik word vir behandeling op spesifieke areas van die lyf.
  5. Essensiële vetsure (omega 3 en 6) speel ʼn belangrike rol in die bestuur van die langtermynbehandeling van allergiese veltoestande. Die kombinasie van omega 3 en 6-vetsure versterk nie net die vellaag wat die liggaam teen omgewingsallergieë beskerm nie, maar verminder ook inflammasie. Daar is geen newe-effekte nie en met tyd kan dit help om die gebruik van kortisoon te verminder. Dis belangrik om die dier langtermyn op essensiële vetsure te hou, aangesien ʼn reaksie eers ná een tot twee maande gesien kan word.

Omgewingsallergieë kan nie genees word nie en is dus ʼn lewenslange probleem wat langtermynbestuur benodig. Sodra behandeling gestaak word, sal die allergiese toestand terugkeer en hoë dosering van medikasie benodig om als weer onder beheer te bring. As behandeling deurlopend gegee word, kan die dosering van medikasie verminder word, wat op die langtermyn goedkoper en veiliger vir die troeteldier sal wees.

Allergiese veltoestande kan baie frustrerend wees vir eienaars, maar kan suksesvol onder beheer gebring word met deursettingsvermoë en die hulp van jou veearts.

  • Kyron Vet Rx se Efazol-reeks bevat die nodige omega 3 en 6, sink en biotien om jou troeteldier met ʼn jeukerige vel te help. Klik hier om meer te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.