’n Gewigtige saak: Vetsug is troeteldiere se grootste gesondheidsprobleem

Aktiewe troeteldiere is gelukkige troeteldiere. (Foto: Alvan Nee/Unsplash.)

Nie net mense nie, maar talle troeteldiere is nou effens swaarder ná vyf maande van afsondering. Dit kan natuurlik aan minder oefening, verhoogde spanning en toegeeflike eetgewoontes toegeskryf word.

Marycke Ackhurst, Hill’s Pet Nutrition se troeteldieregedragskenner, sê vetsug was reeds die grootste gesondheidsprobleem wat plaaslike troeteldiere in die gesig gestaar het. Ná die afsonderingstydperk sukkel daar nou selfs nog meer troeteldiere met die gewigtige kwessie, wat ongelukkig ook aanleiding tot talle ander gesondheidsprobleme kan gee en selfs hul dood kan veroorsaak.

Ackhurst sê daar is gelukkig verskeie stappe wat troeteldierouers kan doen om hul vierpotige vriend te help om sy ideale gewig te bereik, en dit ook te handhaaf. Met die warmer somermaande wat voorlê, verligte afsonderingsvlakke en Oktobermaand wat die kollig op vetsug by troeteldiere plaas, is dit nou die ideale tyd om dié kwessie aan te pak.

“ʼn Troeteldier sit dikwels geleidelik gewig aan, en ʼn eienaar merk dit dikwels nie op nie tot iemand anders hulle daarop wys.”

Ackhurst gee die volgende wenke vir troeteldiereienaars:

  • Die voedingshoeveelhede op troeteldierkos se verpakking is slegs ʼn aanbeveling. Elke dier is anders en daarom sal die hoeveelheid kos wat hulle benodig ook verskil. Leefstyl, ouderdom en gesondheid speel alles ʼn rol in die hoeveelheid kos wat jou hond of kat moet eet. As jy nie seker is van hoeveel kos om jou vierpotige vriend te gee nie, kan jy met jou veearts gesels of besoek Petslimmers.co.za.
  • Laat jou troeteldier se liggaamsvorm jou lei en pas sy voeding daarvolgens aan. Ackhurst sê dit is dikwels moeilik om ʼn troeteldier tuis te weeg, na gelang van die grootte en aard van jou hond, maar jy kan jouself eers weeg en dan jou troeteldier saam met jou weeg om sy gewig te bereken.
  • Jou troeteldier is oorgewig wanneer jy nie meer sy of haar ribbes kan voel sonder om te druk nie – dit is ʼn belangrike en eenvoudige riglyn om te volg. “Dit moet voel asof jy jou hand oor ʼn effens geboë ry kneukels laat loop as jy oor jou hond se ribbekas streel,” verduidelik Ackhurst.
  • Daaglikse oefening is belangrik, of dit nou ʼn wandeling is, om in die tuin te speel of ʼn aktiwiteit wat die brein van jou troeteldier uitdaag – jou troeteldier moet haar energie opgebruik.
  • Onthou, dit is oor die algemeen gesonder vir jou troeteldier om ʼn bietjie ondergewig, as effens oorgewig te wees.

Speel elke dag aktiewe speletjies vir oefening. (Foto: Darinka Kievskaya/Unsplash.)

Ackhurst sê die meeste troeteldiereienaars besef nie wanneer hul hondjie of katjie gesteriliseer word, moet hul kos ook aangepas word nie, aangesien die operasie sy of haar energiebehoeftes verminder.

Namate ʼn troeteldier ouer word en minder aktief raak, verminder sy energiebehoeftes ook.

“ʼn Groeiende neiging is om heeltemal van ʼn kosbak ontslae te raak en jou troeteldier te help om gewig te verloor deur vir minstens die helfte van hul daaglikse voedselverbruik te werk.

“Hulle kan kos verdien as beloning met oefening of speletjies. Verrykingspeletjies soos ʼn lekkergoedbal of -legkaart of selfs ʼn speletjie waar jy jou hond se kos op verskillende plekke wegsteek sodat hy dit moet vind, is almal goeie maniere om energie te verbrand.” Ackhurst erken egter dat dit nie ʼn opsie is wat vir alle troeteldiereienaars kan werk nie.

“Onthou net om die speletjies op ʼn baie maklike vlak te begin en die moeilikheidsgraad te verhoog soos wat jou troeteldier die konsep begryp. As jy te vinnig die speletjies moeilik maak, kan jou troeteldier gefrustreerd raak en tou opgooi.”

ʼn Paar ander maniere waarop Ackhurst voorstel dat troeteldierouers hul troeteldiere aktief hou, is om elke dag aktiewe speletjies vir oefening te speel soos om ʼn bal te gooi of tou te trek.

Suid-Afrikaanse veeartse word voortdurend gekonfronteer met pasiënte se gesondheidsprobleme wat aan vetsug toegeskryf kan word. Meer as die helfte van die pasiënte wat hulle behandel, is oorgewig.

“Dit is belangrik vir troeteldierouers om te onthou dat die voedingsriglyne slegs ʼn beginpunt is en dat hulle gereeld aangepas word om te verseker jou troeteldier bly in topkondisie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Vriendelike Frikkie ·

Ek het die probleem met een van my kattekinders. Sy is heeltemal oorgewig. Sy lyk of sy dragtig is. Al my diere is reggemaak en hulle is baie gesond. Word gereeld ontwurm en is almal inge-ent teen wat ook al hulle kan pla. Hulle het vrye toegang tot kos en water en vroegoggend hou ons roll-call om vir elkeen ‘n skeppie vleis (bederfie) te gee en dan ook sommer om te kyk of almal OK is. Net een van die agt het oormatig gewig aangesit. Ons speel met haar met die laser, touspeel op die gras en ander aktiwiteite, maar niks help nie. Ek het al gewonder of katte ook skyn-swangerskappe kan kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.