Onderliggende probleme in jou troeteldiere

Die band tussen mens en dier is gebaseer op gedeelde interaksie, speel en beweging – en dit verryk die dier en die mens se lewens.

Speel en beweging is afhanklik van die gesondheid van die kraakbeen in gewrigte. Met tot 70% van besoeke aan die veearts wat met artikulêre siektes verband hou, is dit duidelik dat gewrigsgesondheid in troeteldiere ʼn groot kommernis bly by troeteldier-eienaars.

Alhoewel osteoartritis en been-en-gewrigsontsteking oor die algemeen beskou word as ʼn probleem by ouer troeteldiere, is dit nie altyd die geval nie. ʼn Geraamde 20% van honde wat jonger as een jaar oud is, staan die kans om gewrigsprobleme te ontwikkel. Die toestand word gewoonlik nie gediagnoseer totdat dit ʼn gevorderde stadium bereik met ooglopende eksterne tekens en ʼn groot verlies aan beweeglikheid nie. Eienaars sien gewoonlik nie die tekens raak van gewrigsprobleme totdat dit te laat is nie.

Honde sukkel gewoonlik met hul heupe, elmboë, en die knieë, polsbeentjie en ruggraat (kraakbeenskyf tussen twee aangrensende werwels) word ook geraak. Katte sukkel gewoonlik met die gewrigte in hul elmboë en heupe en ook ʼn hoë voorkoms van probleme in die kraakbeenskyf.

Verskeie risikofaktore vir die ontwikkeling van osteoartritis is geïdentifiseer in honde en katte:

  • Ouderdom – ’n groot risikofaktor vir die ontwikkeling van osteoartritis. Studies dui op ʼn voorkoms van meer as 65% in honde tussen vyf en 10 jaar oud, maar wys ook dat tot 22% van gevalle van osteoartritis voorkom in honde wat jonger as een jaar oud is. Teenstrydig met die algemene opvatting, sukkel katte ook met osteoartritis. Daar is ʼn voorkoms van meer as 61% in katte ouer as ses jaar wat met minstens een gewrig sukkel.
  • Ras – die tweede grootste risikofaktor met ʼn voorkoms van tot 77,1% in volbloed honde teenoor 22,7% in kruisings. ʼn Studie wat in die Verenigde Koninkryk gedoen is, het gewys goue apporteerhonde (8%), labradors (6%), rottweilers (5%) en Duitse herdershonde (5%) is die rasse wat die meeste met die ontwikkeling van osteoartritis verbind word. In katte is korthaarkatte die ras wat die meeste geraak word. Rasse soos die Skotse vouoorkat (“Scottish Fold”) is veral geneig tot die ontwikkeling van osteochondrodisplasie, Birmaanse katte is geneig tot elmboog-artritis met ʼn hoë voorkoms van heupdisplasie vir Main Coon-katte.

Grafika verskaf deur Ascendis

  • Die fisiese grootte van ʼn hond kan ook daartoe lei dat hulle gewrigsprobleme opdoen. Dit is moontlik die gevolg van meer gewig en druk op die gewrigte in groter honde. Klein en mediumgrootte honde staan egter die kans om die knieskyf te ontwrig.
  • Vetsug – veral in honde – word ook aangedui as ʼn groot risikofaktor vir die ontwikkeling van osteoartritis, onder andere weens die ekstra lading op die gewrigte.
  • Ander risikofaktore sluit in trauma, operasies, intense oefeninge tydens die ontwikkelingsfase (in honde jonger as 18 maande) en speletjies waar die hond skielik van rigting moet verander.

Eienaars moet let op die volgende tekens van moontlike osteoartritis in hul troeteldiere (honde en katte):

  • Styfheid van gewrigte of sukkel om op te staan, veral sodra die dier wakker word
  • Afname in aktiwiteit – hulle speel minder of slaap meer
  • Sukkel om in of uit die motor te klim of trappe op of af te klim
  • Sukkel om op of van die bed af te spring
  • Styfheid ná hulle gestap of gespeel het
  • Loop mank of beleef ongemak en pyn wanneer hulle lê of beweeg.

Katte kan hul pyn maklik wegsteek en die eienaars van katte kan soms nie dadelik die simptome raaksien nie. Wees op die uitkyk vir:

  • Weier of is huiwerig om op en af te spring
  • Kleiner spronge in plaas van een groot sprong
  • Nie so seker op die pote nie en minder rats
  • ʼn Verandering in toiletgewoontes kan daarop dui dat die kat moontlik pyn beleef wanneer die sandboks gebruik word of die kat by ʼn venster moet in- of uitspring
  • Slaap meer en is geneig om vir langer periodes op dieselfde plek te bly lê
  • Speel en jag minder
  • Pels is nie meer so blink en glad as gewoonlik nie
  • ʼn Toename in selfversorging op ʼn spesifieke plek
  • Minder sosiaal en nors met eienaars of ander troeteldiere.

Met enige gewrigsprobleem is dit noodsaaklik dat ingryping so vinnig as moontlik gebeur. Alhoewel die liggaam homself tot ʼn mate self kan herstel, is daar bewyse dat mediese behandeling die vordering van osteoartritis kan verlangsaam. Daar is klinies bewys dat hoëgehalte aanvullings wat chondro-beskermers soos glukosamien, chondroïtiensulfaat en gehidroliseerde kollageen bevat, die vordering van osteoartritis kan vertraag, help om kraakbeen te herbou en pyn te verlig. Maak seker dat jy produkte van ʼn goeie verskaffer gebruik omdat nie alle aanvullings van hoë gehalte is nie. Veeartse en veearts-winkels hou gewoonlik produkte aan wat aan mediese standaarde voldoen.

Jou veearts sal moontlik X-strale voorstel om te kyk na probleme in die gewrig. Die uitslag sal bepaal of hulle ʼn hoëgehalte supplement wat chondro-beskermers bevat, chirurgiese ingryping, pynstillers of ʼn verandering in die dieet sal voorstel. Die veearts sal jou moontlik ook verwys na ʼn dierefisioterapeut vir rehabilitasie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.