Op soek na ’n huismaat (met vier bene!)

Alan Bailey vroeër vir Maroela Media geskryf oor Jenny en hoe dit is om ‘n tuiste aan ‘n ouer aanneemhond te gee. (Foto: Verskaf)

In Januarie 2020 het ek ’n artikel vir Maroela geskryf oor die aanneem van ’n ouer hond. Dit het ongelooflik baie terugvoer gekry. Mense gesels nou nog met my daaroor. Intussen het die tragedie gebeur dat my aangenome hondemaat Jenny se gesondheid dramaties verswak het en sy op 23 Desember 2020 dood is.

So het die soektog na ’n nuwe maat begin. Ek het besluit dié keer wil ek graag twee honde hê, sodat hulle ook vir mekaar kan geselskap wees. Met die soektog saam het ek al die vooroordele oor diere koop by telers versus aanneem by skuilings teengekom en hiermee my ervaring in dié verband.

Van geboorte tot nou, het ons in totaal sewe honde gehad. Van hulle was een by ’n geregistreerde teler gekoop. Sy het geneties oordraagbare gesondheidsprobleme ontwikkel, maar wel twaalf geword. Een is informeel gered, met ander woorde agterplaastelers is betaal om haar uit hul kloue te kry. Sy was ’n lieflike hond, maar het weens die verhongering nie baie oud geword nie. Twee is destyds by dierewinkels gekoop. Beide was gesond en ons het wonderlike jare saam deurgebring.

Jenny het van die DBV gekom. Hulle het lank na haar omgesien omdat mense nie ouer honde wil aanneem nie. Voor sy by hulle beland het, was sy lank op straat. Ek glo dit het tot haar gesondheidsprobleme bygedra (onder meer hartprobleme, toenemende dementia, nierprobleme en erge artritis). Sy was rofweg twaalf toe ons die moeilike besluit moes neem om te groet. Nou het ek een wat van telers kom (onder ’n jaar oud) en een wat via Wollies gered is (ses jaar oud). Beide is gesond en gee oneindig baie liefde en vreugde.

My gevolgtrekking is, ná ek die begin van die jaar weekliks by verskeie skuilings aangedoen het en al daardie pragtige honde gesien het – neem aan as jy kan! By dié organisasies is daar honde van alle ouderdomme. Tans word almal oorstroom omdat soveel mense hul diere moet afgee weens finansiële probleme as gevolg van die Covid-19-inperkings.

Alana se baie energieke huismaat Jenny is ongelukkig in Desember 2020 dood. (Foto: Verskaf)

Dit neem wel tyd om aan te neem, en geduld. Jy moet baie persoonlike vrae beantwoord en bereid wees dat mense na jou eiendom kom kyk om seker te maak die hond sal veilig daar wees. Ongelukkig is daar vele aaklige voorbeelde waar mense diere sogenaamd uit liefde aangeneem het en hulle wreed behandel of verwaarloos het. Die mense by die skuiling ken jou nie, maar hulle het traumatiese persoonlike ervaring van sulke insidente, so wees geduldig met die vrae en wagtye. Dit kos ook geld, maar sluit baie voordele soos sterilisasie, mikroskyfinplanting en die nodige inspuitings in. Al daardie goed en die tyd wat die hond by hulle gehou is, het koste meegebring, so dit is nie die boodskap dat “net ryk mense honde mag besit” nie, maar eerder regverdige betaling vir dienste wat jou veel meer by ’n veearts sal kos.

En terloops, as jy ’n hond aanneem, moet jy weet hoe hoog veeartskoste kan wees en bereid wees om te betaal as jou dieremaat siek word. Die eienaar se finansiële probleme kan nooit regverdig dat ’n dier ly of onnodig uitgesit word nie. Mense beweer ook soms op Facebook dat diere wat aangeneem is, siektes het of “sommer net doodgaan”.

In die eerste plek, soos met Jenny en die ander hond waarvan ek bo vertel, is die realiteit dat as ’n dier lank voor hy of sy by die organisasie beland het, verwaarloos is, dit ’n inpak op hul gesondheid sal hê. Byvoedings kan help, maar maak nie altyd op vir die jare se swaarkry nie, dus wees realisties en leef saam met die wete, of soek pertinent ’n hond met ’n goeie verlede. Baie honde is pragtig versorg as eienaars sterf, emigreer of hulle weens finansiële nood moet afgee. Persoonlik gee ek nie om nie ‒ ek neem honde aan met wie ek ’n band voel en al is ons tyd saam dalk kort, is dit so ’n voorreg dat ek dit nie vir ’n ander hond sal verruil nie.

Dan ook – gaan kyk na die skuilings. Jy kom baie vinnig agter as dit nie skoon is nie en dan weet jy daar is ’n risiko vir siektes en ander probleme.

Ek glo etiese telers het ook ’n plek – maak net seker wie jy steun en dat hulle hul diere met liefde, sorg en respek behandel. Met al die opsies kan jy dit ongelukkig tref en ’n dier met gesondheids- of geestesprobleme kry. Daar is baie hulp en raad beskikbaar. Groepe op Facebook van mede-diereliefhebbers, veeartse en dieregedrag-kundiges kan oplossings help vind. Doen moeite om uit te vind wie ’n oulike veearts in jou omgewing is, of soek ’n praktyk waar jy en jou hond tuis voel en sag behandel word.

(Argieffoto: Annelize Brits/Maroela Media)

Die goue reëls is om seker te maak jy weet genoeg van die tipiese karaktertrekke van ’n hond se ras (of as dit ’n brakkie is, van die dominante ras in hom of haar) voor die aankoop of aanneming. ’n Lui mens soos ek met ’n klein erf sal nooit met ’n husky (poolhond) of ’n windhond oorleef nie. Maltesies en Yorkies is pragtig, maar dit kos geld om te sorg dat hul pelsies gereeld gesny word. Iemand wat ’n engelagtige skoothondjie wil hê, moet eerder by terriërs verbyhou, al lyk die babas hóé onskuldig.

Die hiper-effektiewe huisvrouens moet ook weet van die “Jack Russell glitter”, of te wel vesels van liefde … of meer onromanties gestel, hare wat uitval. Weer eens is Google jou maat. Vele artikels en groepies van liefhebbers van ’n bepaalde ras sal ervarings oor die soet en die suur van saamleef met hulle vertel.

Wetenskaplike studies het bewys dat honde-eienaars minder eensaam is en beter sosiale vaardighede handhaaf, oor die algemeen langer leef en meer oefen. Honde help om ons stres te ontlaai, ouer mense se kognitiewe vaardighede te stimuleer en vrolikheid en lewenslus aan te wakker.

As jy oorweeg om ’n hondemaat aan te skaf, moenie wag nie, spring vandag nog aan die werk of gaan kuier sommer net by jou naaste diereskuiling en speel met die inwoners. Hulle sal die aandag baie waardeer en wie weet, dalk steel een nog jou hart!

Meer oor die skrywer: Alana Bailey

Alana Bailey is lid van die Afrikaanse Taalraad en adjunk uitvoerende hoof van AfriForum (verantwoordelik vir internasionale skakeling, taal en kultuur).

Deel van: Rubrieke, Troeteldiere

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Vrijburger ·

Mmmm ek maak altyd ‘n punt daarvan om jou artikels te lees, ongeag die tema.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.