Raad en daad vir die aanneem van ’n troeteldier

Skattige klein hondjies en katjies word groot honde en katte – as jy ʼn diertjie wil aanneem bloot omdat hy so oulik lyk, is dit dalk nodig om halt te roep. (Foto: Verskaf.)

Die besluit om ʼn hondjie of katjie aan te neem, moet nooit ligtelik opgeneem word nie. Of dit nou jou eerste, tweede of hoeveelste troeteldier is, die vrae wat jy jouself moet vra en die voorbereiding wat getref word, bly dieselfde.

“Diereskuilings is nou weer amptelik oop vir aannemings en met talle mense wat in die afsienbare toekoms van die huis af gaan werk, is daar heelwat mense wat dit oorweeg om nog ʼn vierpotige vriend by die gesin te voeg.

“Daar is egter baie om te oorweeg voordat jy dié besluit kan neem,” sê David Roach, besturende direkteur van dotsure.co.za, ʼn versekeraar vir honde, katte en eksotiese troeteldiere.

Toewyding

Skattige klein hondjies en katjies word groot honde en katte – as jy ʼn diertjie wil aanneem bloot omdat hy so oulik lyk, is dit dalk nodig om halt te roep en weer daaroor na te dink.

Die aanneming van enige troeteldier is ʼn lang verbintenis. Katte kan tussen 15 tot 20 jaar leef, en ʼn hond (na gelang die ras) gemiddeld tussen 10 tot 15 jaar lank. Maak seker dat almal wat betrokke is by die versorging van jou nuwe troeteldier, op die lang termyn aan boord is.

Klein hondjies en katjies neem ook baie van jou tyd in beslag, veral in die eerste paar dae. As jy gespanne is of gefokus is op ʼn groot projek by die werk, moet jy dit miskien oorweeg om eerder te wag tot jy seker is van jou daaglikse roetine voordat jy ʼn diereskuiling besoek.

Persoonlikheid is belangriker as oulik

Liefde met die eerste oogopslag is dalk nie van toepassing as dit daarby kom om die regte troeteldier vir jou gesin te kies nie. Dit is belangrik om te fokus op die karaktereienskappe wat hierdie aanneming sal laat werk. Dit is die verskil tussen ʼn energieke hond wat daagliks wil gaan draf, of een wat tevrede is met korter, stadiger wandelings solank hy net op jou skoot kan slaap terwyl jy op die bank sit en TV kyk. As jy eers bepaal het hoe ʼn troeteldier in jou lewe sal inpas, sal dit jou help om ʼn slimmer aannemingskeuse te maak. Personeel by ʼn diereskuiling sal die karakter van elke dier daar ken en hulle kan jou help met jou besluit, veral as die troeteldier ouer is en ʼn langer tydperk by die skuiling woon.

Opleiding

As jy ʼn klein hondjie of katjie (of selfs een van die ouer inwoners by ʼn skuiling) aanneem, gaan ʼn mate van opleiding nodig wees. Of jy nou jou troeteldier leer watter dele van die huis syne is, hoe om aan ʼn leiband te loop of waar die sandboks is – die opleiding gaan ʼn tydjie neem. Wees dus gereed van die eerste dag af om te begin oefen. Geduld en deursettingsvermoë is belangrik en sal lei tot ʼn liefdevolle en lonende verhouding.

Skoonmaak en voorraad

Voordat ʼn nuwe stel pootjies aan jou vloere raak, moet jy al die los elektriese koorde versteek, klein voorwerpe wegbêre en enige huisplante wat klein dieremagies mag ontstel, hoog wegsit. Sorg vir speelgoed, kos- en waterbakke, ʼn hals- en leiband en ʼn bed wat gereed staan vir wanneer die nuwe lid van die gesin opdaag. ʼn Gemaklike, warm omgewing met al die benodighede sal die oorgang vir julle albei vergemaklik.

Sterilisasie

Honde en katte kan reeds op agt weke oud gesteriliseer word, maar die meeste troeteldiere word tussen vier en ses maande gesteriliseer. As jy nie jou troeteldier laat steriliseer met aanneming nie, sal die skuiling vir jou die regte dokumente gee om dit te laat doen wanneer die tyd aanbreek. Hulle gaan ook van jou verwag om bewys te lewer dat die prosedure wel voltooi is. Buiten dat sterilisasie ongewenste troeteldiere verminder, is nog voordele daarvan dat gesteriliseerde diere minder aggressief is. Daar is ook ʼn laer risiko vir bors- en eierstokkanker by vroulike diere.

Troeteldierversekering

ʼn Onverwagse en buitensporige hoë veeartsrekening is nie iets waaroor jy as troeteldiereienaar jouself hoef te lê en bekommer nie. Troeteldierversekering kan jou die gemoedsrus gee dat die finansies daar sal wees as iets met jou vierpotige vriend se gesondheid gebeur en is ʼn noodsaaklikheid in moeilike tye soos vandag.

Bekendstelling aan die ander harige lede van die gesin

As jy reeds troeteldiere by die huis het, is dit belangrik om versigtig te wees as jy ʼn nuwe lid aan die diere voorstel. Indien moontlik, soek ʼn neutrale omgewing om die bekendstelling te doen nog voordat jy die nuwe troeteldier huis toe bring. ʼn Ruimte in die buitelug vir katte om rond te loop of vir honde om aan ʼn leiband te wees, is ʼn goeie opsie. As die lyftaal van albei partye positief is en daar geen teken van aggressie is nie ná ʼn periode waarin hulle mekaar deurgekyk het, kan jy die nuwe troeteldier in die huis bring. Hulle sal egter steeds by mekaar moet aanpas en daarom is dit belangrik om vir elke troeteldier sy/haar eie bed te gee, en nuwe speelgoed versigtig bekend te stel en diere van mekaar te skei as jy die huis verlaat. Die belangrikste is om hierdie hele proses met geduld aan te pak.

(Foto: Verskaf.)

Iemand wat bykans alles weet van die belangrikheid van troeteldieraanneming is Carren Nickloes, van die Bond teen Wreedheid teenoor Diere (AACL).

Nickloes sê hoewel daar beslis ʼn merkbare toename is in die hoeveelheid mense wat ʼn troeteldier wil aanneem, is die organisasie steeds slegs per afspraak beskikbaar om die verspreiding van Covid-19 te help bekamp.

“Aan die begin van afsondering was ons oorval met rondlopertroeteldiere en troeteldiere wat net afgelaai is omdat hul eienaars eenvoudig net nie meer vir hulle kon sorg nie.

“Ons voorsien nie dat die situasie binnekort gaan verander nie en daarom het ons met ʼn gemeenskapsvoedingskema begin om eienaars by te staan wat dit nie kan bekostig om hul troeteldiere te voed nie, maar ook nie die diere wil prysgee nie. Troeteldiere vorm ʼn belangrike deel van ʼn gesinseenheid en ons doen alles in ons vermoë om ʼn gesin bymekaar te hou.”

Roache verduidelik dat die sluiting van diereskuilings in vlak 4 en 5 van afsondering ʼn verwoestende uitwerking op dierewelsynsorganisasies gehad het.

“Dit was ʼn desperate situasie. Ons weet dat die meeste diereskuilings uitsluitlik op skenkings van die publiek staatmaak, asook op die geld wat hulle van aannemings ontvang. Dit was ’n finansiële knou vir baie van die skuilings toe hulle verhinder is om aannemings te fasiliteer en sommige moes selfs hul deure sluit.”

Aangesien die welstand van alle diere ʼn belangrike doelwit vir dotsure.co.za is, het hulle in April ʼn skenking van R300 000 aan die AACL gegee. Die inperking het langer geduur as wat enige iemand verwag het, en die bedryfskoste van die skuiling het opgehoop, wat die versekeraar genoop het om ʼn verdere skenking van R150 000 aan die AACL te maak wat tussen die Johannesburg- en Kaapstad-takke verdeel is.

“Hierdie skenking is vir ons uiters noodsaaklik en gaan ons ’n welkome hupstoot gee om die gesondheid en welsyn van ons diere te verseker, veral dié wat gehospitaliseer is. Ons moedig almal aan wat op soek is na ʼn bietjie vreugde in hul lewe tydens hierdie onseker tye om ʼn afspraak te maak sodat ons die moontlike aanneming van ʼn troeteldier kan bespreek,” sê Nickloes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.