Sorg só vir Wagter en Sokkies dié winter

(Foto: Verskaf)

Net soos mense kry troeteldiere ook koud in die winter, maar anders as mense kan hulle nie sê wanneer hulle in pyn is of siek voel nie. Met die winter wat om die draai is en ʼn landwye kouefront wat voorlê, kan sekere onderliggende toestande (soos artritis) en toestande wat weens koue weer vererger (soos snuif) groter probleme tot gevolg hê.

“Daarom is dit uiters noodsaaklik om jou viervoetige vriende warm, veilig en gesond te hou gedurende die wintermaande om onverwagse besoeke aan die veearts en onnodige uitgawes te vermy,” sê David Roache, besturende direkteur van dotsure.co.za.

Roache en dr. Lara Brown van die Pinetown-veeartsenyhospitaal deel ʼn paar wenke oor hoe om na jou troeteldiere om te sien wanneer die kwik begin daal:

Neem jou troeteldier gereeld vir ʼn ondersoek. Veeartse is tydens vlak 4 van die afsondering oop vir alle nienoodsaaklike prosedures en afsprake. Brown verduidelik dat die veearts saam met die inentings ʼn algehele ondersoek sal doen en indien jou troeteldier ʼn onderliggende toestand het wat vererger word deur die koue, sal ʼn behandelingsplan opgestel word.

ʼn Jaarlikse ondersoek is belangrik vir alle troeteldiere om hulle inentings op datum te hou en hulle algemene gesondheid te evalueer. Vir ouer pasiënte of dié wat chroniese medikasie gebruik, is ʼn sesmaandelikse ondersoek meer voordelig. Toestande soos ʼn hartgeruis en tandheelkundige siektes kan ook deur hierdie ondersoeke aan die lig gebring word nog voordat die eienaar self besef iets is fout met die troeteldier.

Pynbeheer. As jou troeteldier artritis het, sal hul seer litte in die koue weer veroorsaak dat hulle minder aktief is. Dit kan weer lei tot gewigstoename, wat ekstra druk op die litte, wat reeds seer is, plaas.

“Daar is baie aanvullings vir senior troeteldiere wat baie voordelig is vir die behandeling van artritis, selfs in die vroeë stadiums. Jou veearts sal weet wat die regte aanvulling vir jou troeteldier is,” sê Brown.

Moenie jou dier laat skeer nie. ʼn Langer pels en hare verskaf ekstra hitte gedurende die wintermaande, maar dit kan ook beteken dat jy self jou dier se pels moet versorg. Borsel jou troeteldier gereeld sodat die hare nie koek nie.

Hou jou diere binne. Temperature is op hul laagste in die oggend en in die aand en daar word dus aanbeveel dat jou diere dan binne bly. As jou hond of kat nie op die bed slaap nie, skep ʼn warm ruimte of ʼn snoesige hoek vir hulle in die kombuis of sitkamer. ʼn Warm bed met ʼn paar komberse en ʼn gunsteling-speelding is voldoende.

Trek vir jou troeteldier ʼn truitjie aan, mits hy dit toelaat. Sommige diere weier om ʼn trui te dra, maak nie saak hoe koud hulle kry nie. Dit is byvoorbeeld hoogs onwaarskynlik dat katte ʼn ekstra laag sal dra, maar indien jou hond dit toelaat, trek vir hom ʼn trui aan. Onthou, jou dier verloor die meeste hitte deur die kussings van sy pote, ore en asemhalingskanaal, so daar is ʼn perk op die hitte wat ʼn trui kan bied.

Maak seker jou dier het ʼn naamplaatjie of mikroskyfie. Maak ook seker die inligting op jou troeteldier se naamplaatjie en op die stelsel van die mikroskyfie is korrek sodat jy ingelig kan word indien hy of sy vermis raak. As jou kat weier om ʼn halsband te dra, maak seker dat sy of haar skyfiebesonderhede korrek is en as hy of sy nog nie ʼn skyfie het nie, oorweeg gerus een.

Bad minder. Tensy jou hond merkbaar vuil is, is daar geen rede om hom te gereeld te bad in die winter nie. ʼn Gereelde wassery kan noodsaaklike olies van die hond se vel verwyder en die kans vir droogheid en skilfers verhoog. As bad die enigste opsie is, gebruik ʼn bevogtigende of medisinale sjampoe en spoel dit deeglik af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.