Speeltyd is oefentyd vir jou troeteldier

(Foto: verskaf)

Speeltyd is nie net ’n lekker tyd vir jou kat nie, dit is ook ’n heerlike oefengeleentheid.

Katte is gewoonlik lief vir speel, dit sal dus nie moeilik wees om jou vierpotige vriend aan’t oefen te kry nie.

Katte wat hul tyd in die buitelug deurbring, kry sommer baie oefening in terwyl hulle deur hul woonbuurte drentel. Diegene wat egter meestal hul tyd pens en pootjies binne ma en pa se huis deurbring, het dikwels ’n oefeninghupstoot nodig.

Marycke Ackhurst, troeteldiergedrag-spesialis van Hill’s Nutrition, benadruk dat speeltyd nie net goeie oefening is nie, maar ook ’n geleentheid waartydens eienaar en troeteldier meer geheg aan mekaar kan word.

Sy stel voor dat sekere speletjies jou kat sommer vinnig sal prikkel en sodoende die mikpunt vir oefening maklik binne bereik plaas.

Interaktiewe speelgoed

Die eerste manier om jou kat se belangstelling aan’t broei te sit, is interaktiewe speelgoed soos stokkies met ’n veer aan die punt en speelgoed waar die kat hom- of haarself kan besig hou.

Hierdie soort speelgoed sal natuurlik met ’n lekkerny gepaard gaan, en sal die kat aanmoedig om die eetgoed by die speelding uit te kry.

Kom ons ‘gaan groot’

Die tweede soort speelding wat jou kat opgewonde sal maak, is groter speelgoed soos krappale en katwiele.

Dit is belangrik om te onthou dat katte van vertikale ruimtes hou, en dat hulle graag klim en hardloop.

Ouer katte kan dalk artritis ontwikkel, en as hulle nie gewoond aan ’n geklimmery is nie, sal nuwe klimspeletjies ’n uitdaging wees.

As jou kat nie lus is daarvoor om te klim nie, probeer om hulle te lok deur gesonde lekkernye op verskillende vlakke te plaas.

Achurst sluit af: “Dit is maklik om ’n geleentheid te skep waar katte kan speel en oefening veral deur hul jag- en jaaginstinkte te stimuleer – dit gaan gepaard met groot belonings vir troeteldier en eienaar.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.