Spits jou ore vir hondsdolheid

Foto slegs ter illustrasie. (Foto: iStock)

Hondsdolheid, die enigste aansteeklike siekte wat ʼn 100%-mortaliteit (sterftekoers) in enige spesie (insluitend mense) het sodra simptome verskyn, is dalk seldsaam by mense in Suid-Afrika, maar tientalle gevalle word steeds jaarliks aangemeld. Trouens, die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) berig dat meer as 59 000 mense elke jaar aan hondsdolheid sterf.

Wêreldhondsdolheiddag word op 28 September gedenk en ná ʼn ongekende uitbreking van hondsdolheid by honde onlangs, veral in die Oos-Kaap, val die kollig met reg op dié skrikwekkende virusinfeksie.

Volgens prof. Andrew Leisewitz, veeartsenykundige spesialisgeneesheer aan die Universiteit van Pretoria (UP) se Fakulteit Veeartsenykunde en ʼn kenner van dié siekte, is ʼn onrusbarende feit dat jongmense die algemeenste geraak word en 4 uit 10 menslike infeksies by kinders onder die ouderdom van 15 jaar voorkom.

Die rede hiervoor is dat kinders dikwels met diere speel wat hulle nie ken nie. Hulle het ʼn groter risiko van bytwonde aan die kop, wat tot die vinniger aanvang van simptome kan lei. Sodra die eerste simptome kop uitsteek, is dit gewoonlik dodelik.

Verslae van die Oos-Kaap se departement van landelike ontwikkeling en landbouhervorming het hierdie dodelike, dog 100% voorkombare siekte uitgelig. Sedert Januarie 2021 is meer as 400 gevalle by honde in die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit alleen bevestig, 42 gevalle in die Amathole-distrik en 27 gevalle in die OR Tambo-distrik in dié provinsie.

Volgens die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (NICD) is nog ʼn brandpunt KwaZulu-Natal waar die eThekwini- en King Cetshwayo-distrikte byna 300 gevalle by honde aangeteken het. Die eerste hondsdolheidgevalle in dekades is ook by honde rondom Kaapstad aangemeld.

Wat is hondsdolheid?

Hondsdolheid word veroorsaak deur ʼn virus wat mense en diere kan kry ná blootstelling aan die speeksel van ʼn hondsdol dier, sê prof. Jannie Crafford, ook ʼn kenner van dié siekte en medeprofessor in immunologie aan die UP se Departement Veeartsenykundige Tropiese Siektes. Hy verduidelik dat dié soönotiese siekte ʼn entstof-voorkombare infeksie van die brein is wat byna 100% dodelik is sodra kliniese tekens ontwikkel.

Die hondsdolheidvirus oorleef nie baie lank buite ʼn besmette gasheer nie. Alle warmbloedige diere is vatbaar vir infeksie, maar honde is die bron van 99% van menslike hondsdolheidsterftes. In Suid-Afrika is wilde honde die belangrikste spesie wat by oordrag betrokke is, maar swartrugjakkalse en vlêrmuisjakkalse speel ook ʼn rol om die virus in die natuur in omgang te hou.

Diere met hondsdolheid toon gewoonlik abnormale gedrag soos aggressie, of wilde diere kan lyk asof hulle mak is. Daar is gewoonlik tekens van verlamming en oormatige speekselafskeiding. Die inkubasietydperk vir hondsdolheid is 1 tot 2 maande, maar kan ook wissel tussen 1 week en 1 jaar.

Daar is twee vorms van die siekte:

  • Ernstige hondsdolheid (“furious rabies”) lei tot tekens van hiperaktiwiteit, prikkelbare gedrag, hidrofobie (vrees vir water) en aërofobie (vrees vir ʼn trek of vars lug). Die persoon sterf binne ʼn paar dae as gevolg van kardio-respiratoriese stilstand.
  • Verlammende hondsdolheid (“paralytic rabies”) is verantwoordelik vir ongeveer 20% van die totale aantal menslike gevalle. Hierdie vorm van hondsdolheid het ʼn minder drastiese en gewoonlik langer verloop as die eerste vorm. Spiere word geleidelik verlam, gevolg deur ʼn koma en die dood. Die verlammende vorm van hondsdolheid word dikwels verkeerd gediagnoseer, wat bydra tot die onderaanmelding van die siekte.

Simptome

Die eerste teken dat iets fout is, is koors. Jy mag dalk oor die algemeen moeg of swak voel. Jy kan ook pyn, tinteling of ʼn brandgevoel op die plek van die wond ervaar. Soos die virus deur jou sentrale senuweestelsel versprei, sal jy ander ernstiger simptome ontwikkel. Dit sluit in:

  • Onvermoë om te slaap (slaaploosheid)
  • Angs
  • Verwarring
  • Geringe of gedeeltelike verlamming
  • Hiperaktiwiteit
  • Verhoogde irritasievlakke
  • Hallusinasies
  • Meer speeksel as gewoonlik
  • Sukkel om te sluk
  • Mettertyd tree ʼn koma, hart- of longversaking en die dood in.

Voorkoming

Die goeie nuus is dat hondsdolheid voorkom kan word deur voldoende diere-inenting, die vermyding van kontak met wilde diere en behoorlike opvoeding.

Ingevolge die Dieresiektewet, Wet 35 van 1984, moet alle eienaars van honde en katte hul troeteldiere teen hondsdolheid laat inent.

Hondsdolheid by mense is voorkombaar met die korrekte en onmiddellike behandeling ná blootstelling. Dit is belangrik dat enige persoon wat aan die speeksel van enige onbekende, verdagte hond of wilde dier blootgestel word, die wond vir 10 minute lank deeglik met seep en water was en onmiddellike mediese behandeling ontvang.

Om hondsdolheidoordrag behoorlik in die kiem te smoor, behoort minstens 70% van die hondepopulasie ingeënt te word, sê prof. Leisewitz. Volgens hom kan hondsdolheid oral in Suid-Afrika voorkom, maar landelike gebiede is veral hoërisikogebiede. Dit sluit in KwaZulu-Natal, Rustenburg en omstreke in Noordwes, die noordelike dele van Limpopo, die oostelike en suidoostelike dele van Mpumalanga en die Oos-Kaapprovinsie.

Hondsdolheid is ʼn beheerde siekte in Suid-Afrika en alle vermeende hondsdol diere moet by die naaste staatsveearts, dieregesondheidswerker of die polisie aangemeld word.

Bykomende bronne: World Health Organization, Mayo Clinic, National Institute for Communicable Diseases en WebMD.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

KatjieDeKat ·

Wat van die Wisconsin Protokol? Dit het die lewe van Jeanna Giese gered. Vandag is sy getroud, n mamma van 3 kinders. Sy was gebyt deur n hondsdol vlermuis toe sy 15 was. Waarom word hierdie Protokol nie orals en altyd gebruik in n poging om lewens te red nie? Google gerus: “Jeanna Giese 16 years later: Surviving rabies to build a beautiful life”.

OW ·

Nog nooit van ‘n vlêrmuisjakkals gehoor nie,tweede paragraaf onder wat is hondsdolheid.Beeste is ook draers van die hondsdol virus,maar kom die meeste by besmette honde voor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.