Verwelkom jou nuwe dierekind só

(Foto: Alec Favale/Unsplash)

ʼn Nuwe babakatjie of -hondjie bly maar ʼn opwindende dog uitdagende geleentheid vir elke gesin.

Daardie opwinding is vir dier se kind boonop glad nie teenwoordig nie, vir hulle is die reistog vreesaanjaend en dikwels angswekkend.

Marycke Ackhurst, kenner van troeteldiergedrag by Hill’s Pet Nutrition, het ʼn rits wenke opgestel vir wanneer die nuwe familielid aan jou voordeur kom klop.

Wees geduldig

Hou in gedagte dat jou nuwe troeteldier ʼn wyle nodig sal hê om gewoond te raak aan sy of haar nuwe omgewing.

Laat hom of haar toe om die nuwe omgewing te ontdek sonder dat nuwe ma of pa te veel inmeng daarby. Indien daar ander honde of katte in die huis is, wag ʼn ruk voordat jy die nuwe toevoeging aan sy of haar boeties en sussies voorstel.

Indien jy ʼn babakatjie gekry het, beperk hom of haar tot een kamer met kos, water, ʼn bed en sandboks.

Maak op daardie bed

Besluit waar die nuwe familielid gaan slaap nog voordat julle hom of haar huis toe bring.

Hondjies en katjies sien hul beddens as ʼn veilige hawe waarheen hulle kan terugkeer wanneer hulle angstig of oorweldig voel, veral in die eerste paar weke.

ʼn Warm, droë, gemaklike bed wat op ʼn prakties geleë plek in die huis is, sal ʼn heerlike slaapomgewing vir die hondjie of katjie skep.

Sit iets wat steeds soos sy of haar ma, biologiese boeties en sussies of die vorige huis ruik (soos ʼn kombers of speelding) saam in die bed vir verdere vertroosting. ʼn Warm watersak sal ook dieselfde doel dien.

(Foto: Andrew Wagner/Unsplash)

Bring jou bord, dis etenstyd

Die voedingswaarde van jou nuwe troeteldier se kos is van groot belang, veral in die eerste paar maande van sy of haar lewe.

Moenie die hondjie of katjie se dieet dadelik verander nie, selfs al wil jy.

Bly eerder dieselfde soort kos voer waaraan hulle gewoond was en stel hom of haar dan stelselmatig aan nuwe kos bloot. Vir ʼn week kan jy net met elke ete die nuwe kos meer maak en die vorige kos minder, jy sal binnekort agterkom dat jou diertjie reeds gewoond is aan die verandering.

Moenie te bekommerd raak wanneer jou troeteldier nie te gretig is om al sy of haar kos klaar te eet nie, dit kan bloot net wees omdat dit ʼn nuwe omgewing is. Wanneer daar ander tekens van siekte is, kan jy maar gerus die bekommernisknoppie druk.

Maak gereed vir die tienerjare

Nes mense, gaan hondjies ook deur fases waarin hulle hier en daar kanse waag. Teen die ouderdom van ses maande kan jy dalk net ervaar dat die kleinding jou grense begin toets.

Dit is egter belangrik om steeds goeie gedrag aan te moedig en te beloon.

Een van die tekens dat jou hondjie dalk sy of haar tienermaande betree, is die kou van allerhande goed in jou huis. Die rede hiervoor kan dalk net wees omdat hy of sy besig is om tande te wissel en daar dus ongemak in sy bekkie is.

Om jou troeteldier (en meubels) hiermee te help, verskaf ʼn paar speelgoed waaraan wel gekou mag word. Moet ook nie allerhande duur items laat lê waar hond se kind dit kan beetkry nie.

(Foto: The Lucky Neko/Unsplash)

Goeie gedrag word beloon

Wanneer ongewenste gedrag sy opwagting maak in jou katjie se lewe, onthou dat die aanmoediging van goeie gedrag ʼn beter oplossing as ʼn geskreeuery is.

Maak seker dat jou troeteldier genoeg selfstimulerende speelgoed het waarmee hy of sy kan besig bly.

Daardie kattekind van jou is ook vreeslik lief vir slaap, so moenie te bekommerd raak wanneer daar ure aaneen in droomland deurgebring word nie. Die middagslapies kan egter veroorsaak dat jou kat nie deur die aand slaap nie. Om dit te vermy, hou hom of haar besig deur die dag sodat die moegheid behoorlik tref wanneer die son sak.

Siekeboeg toe

Ongelukkig het ons diere nie ʼn stem om te sê wanneer hulle olik voel nie.

As troeteldiereienaar kan jy ʼn ogie hou op ʼn skielike afname in eetlus, gedragsverandering, lusteloosheid, vinnige gewigsverlies of -toename, snaakse knoppe, ʼn loperige maag of probleme met oë of ore. Neem jou troeteldierkind dadelik na die veearts as jy onseker oor sy of haar gesondheid voel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.