Vir honde met heimwee

Marilize de Bruyn met Paddy en Murphy (Foto: Verskaf)

My daaglikse staptogte met my hondekinders lewer altyd iets lekker op. Daar gaan nie ʼn enkele wandeling verby wat ek nie iets mooi sien of ʼn gawe mens ontmoet nie; soos vanoggend weer saam met Marilize.

So met die aankoms langs die Eersterivierbrug op Stellenbosch merk ek al die vrou op wat met ʼn sagte hand, maar duidelik in beheer, met twee miniatuur-Schnauzers stap. Ons paaie kruis toe ook minute later onder een van die eikebome wat die park daar langs die rivier so ʼn gewilde af- en uitblaasplek maak. Nadat haar werkgewers se Paddy en Murphy en my Mimi en Lienka mekaar eers van kop tot tone bekyk en beruik het, raak ons aan die gesels. Haar warmte met my en haar hondemetgeselle is heerlik om te ervaar en ek dink hoe gelukkig daardie Jonkershoek-gesin is om ʼn Marilize in hulle midde te hê.

Die ontmoeting het my laat dink aan die vakansietyd wat voorlê. Ek begin die tyd van die jaar altyd kriewelrig raak wanneer mense oor hulle reisplanne begin praat. Nie omdat ek nie ook êrens om ʼn kampvuur of onder ʼn strandsambreel met bene uitgestrek gaan sit nie, maar omdat dit ʼn eensame tyd vir baie troeteldiere is. Enige skielike afwesigheid is vir ʼn hond wat geheg is aan sy mense traumaties. ʼn Duitse herdershond van Hermanus wie se mense-pa haar vir ses maande (!) by ʼn vreemde versorger gelos het gaan moontlik uitgesit word omdat sy begin “byt” het. Die normaalweg liewe en verdraagsame dier kon bloot nie verstaan wat van háár mens geword het nie en die heimwee en skeidingsangs het haar geniepsig begin maak.

Ons dierekinders ervaar ons afwesigheid, ook oor die feesseisoen, dikwels as verwerping wat in baie gevalle lei tot angstigheid, ʼn gebrek aan eetlus én energie, en soos in die herdershond se geval, onvoorspelbare gedrag.

Lizma se Lienka (Foto: Verskaf)

Die eerste prys is om jou dierekinders saam met jou op die jaarlikse wegbreek te neem – hulle is mos deel van die familie – maar dis nie altyd moontlik nie. Baie plekke is nie troeteldiervriendelik nie en soms gaan die omstandighede bloot van so ʼn aard wees dat dit ongemaklik of selfs gevaarlik kan wees vir jou hondekind. Vooruitbeplanning is dus noodsaaklik.

Daar is baie wat jy kan doen om hierdie moeilike tyd vir huisdiere so gemaklik as moontlik te maak wanneer jy die langpad vat:

Begin sommer al vroeg in die jaar spaar vir ʼn diereversorger by jou huis – of dit nou ʼn professionele troeteldierversorgdiens is (doen jou huiswerk deeglik) of iemand wat jy en jou diere ken en vertrou. As die versorger iemand is wat nie bekend is aan jou honde nie, kan jy vooraf een of twee besoeke reël sodat dit nie met jou vertrek ʼn wildvreemdeling is wat by jou voordeur instap nie. As jy die hondehotel-opsie verkies, besoek die geriewe vooraf en maak doodseker dit gaan ʼn gesonde, veilige omgewing vir jou dier wees.

In die geval van ʼn tuisversorger moet die persoon so ver moontlik hou by die roetine wat jy daagliks met jou diere het. Dit gaan jou katte en honde veiliger en meer gerus laat voel. Dit geld vir eet-, slaap- en staptye.

Kommunikeer gereeld met die versorger wanneer jy weg is; so sal jy nie net met ʼn geruste hart kan gaan slaap nie maar ook vinnig kan reageer in die geval van ʼn krisis

Lizma se Mimi (Foto: Verskaf)

Baie belangrik: sorg dat jou diere mikroskyfies het én halsbande met naam-en-nommerplaatjies vir identifikasie. Weens die gevoel van isolasie en verwerping is daar dikwels diere wat probeer ontsnap met die hoop dat hulle jou êrens gaan uitsnuffel en opspoor. Onthou dan ook om duidelike instruksies te gee oor hekke en deure wat toegehou moet word.

Sorg dat die versorger ʼn “noodplan” het, dit wil sê ʼn plan van aksie van wat om te doen in geval van ʼn mediese of ander krisis. Skryf ook die nommer neer van jou veearts sowel as dié van ʼn goeie vriend in die omgewing wat sal kan inspring om te help.

Los vir die versorger ʼn noodfonds vir moontlike veeartskoste of selfs net as jou diere se kos opraak.

Sorg dat die tydelike honde-ouer weet wat jou vierbeenkinders se vreugdes en vrese is. ʼn Vriend van my se hond raak byvoorbeeld byna aggressief as jy haar maag streel. Die letsel op haar maag getuig van vorige seerkry, so die meisiekind beskerm haarself maar net.

Dis ook ʼn goeie idee om voor jou vertrek jou diere veearts toe te neem vir ʼn deeglike ondersoek. Maak dan ook seker hulle inentings is op datum en dat hulle die nodige bosluis- en vlooibehandeling kry.

Verminder die gevoel van isolasie deur ʼn ou T-hemp of ander kledingstuk vir hulle te los, bykomend tot hulle geliefkoosde speelgoed.

Lizma, Mimi en Lienka op die strand (Foto: Verskaf)

Ek kan nie genoeg beklemtoon hoe noodsaaklik dit is dat jou dierekinders daagliks oorgenoeg vars water kry nie. Die versengende hitte oor die vakansietyd is nie net ongemaklik nie, maar ook gevaarlik. Nodeloos om te sê moet die versorger toesien dat jou diere ook ʼn koel ruimte het vir daardie warm dae.

Wanneer jy begin pak en daardie sout seelug amper kan ruik, onthou dat ʼn bietjie voorbereiding ver sal gaan om jou dierekinders in jou afwesigheid veilig en versorg te laat voel.

Wees die mens wat jou hond of kat dink jy is.

  • Lizma is ʼn bekroonde radiojoernalis en – aanbieder en stigterslid van die Kaapse radiostasie, Smile 90.4FM. Sy het ʼn meestersgraad in joernalistiek.

Meer oor die skrywer: Lizma van Zyl

Lizma van Zyl is ’n bekroonde veteraan radiojoernalis en –aanbieder met ’n meestersgraad in joernalistiek. Sy is stigterslid van die Kaapse kommersiële radiostasie, Smile 90.4FM.

Deel van: Rubrieke, Troeteldiere

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

trotsNAMSA ·

Dankie Lizma, Lienka en Mimi vir die pragtige artikel.
Marilize, Paddy en Murphy julle is te ougat !
Drukkies vir al die pragtige honde kinders, GOD seën julle !!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.